Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat sou jy sê, is die beste nuwe woord?

Taal verander. Heeltyd. Nuwe dinge, nuwe woorde kom – en gaan.

Vuur, mes, krale, pot, fluit, glas, brood, skêr . . . Radar (1941), bikini (1947), kitskos (1951), tuimeldroër (1962), hippie (1965), woordverwerker (1968), gentrifiseer (1972), internet (1974), teksboodskap (1977), vigs (1982), selfoon (1983), skootrekenaar (1984), emotikon (1987), e-boek (1988), slimfoon (1996), sosiale netwerk (1998), blog (1999), selfie (2002), kitsskare (2003), betaalmuur (2006), hutsetiket (2007), kriptogeldeenheid (2009), hommeltuig (2015) . . .

Jana Luther

As ’n mens vir begrippe, idees wat in ander tale ontstaan, in jou eie taal nie woorde vind nie, verarm jy jou taal. Op nuutskeppings in hulle taal is mense oor die algemeen trots.

Daarom maak woordeboeke en ander taalgenootskappe – in Duitsland van 1971, in Amerika sedert 1991, in Nederland van 2003 – jaarliks, van November af, hul woorde van die jaar bekend.

Soms val dié eer neologismes te beurt.

Soms word daar op ouer woorde besluit: Woorde wat van die gebeurtenisse wat hul stempel op die betrokke jaar afgedruk het, goed saamvat, weerspieël.

’n Paar van vanjaar se woorde is reeds aangekondig.

Oxford se woord van 2019 is “climate emergency”. “Klimaatsnoodtoestand”.

Die gebruik daarvan het, volgens Engels se bekendste woordeboek, in die afgelope 12 maande honderdvoudig toegeneem. (In Mei het die Britse dagblad The Guardian aangekondig dat hy in die plek van “klimaatsverandering” en “aardverwarming” voortaan meer dikwels die terme “klimaatsnoodtoestand” en “aardverhitting” sal gebruik – “in ooreenstemming met die wetenskaplike konsensus dat die mensdom na ’n ramp op pad is”.)

In die brandpunt, vir baie, tussen bly en gly.

Dictionary.com se keuse is “existential”. “Eksistensieel”, omdat dié woord, letterlik en figuurlik, “die gevoel van ons tyd vasvang”: Ons stryd om ons planeet, ons geliefdes, ons leefwyse te beskerm; ons worsteling om die sin van ons bestaan te ontsluit.

Wat was in 2019 in Suid-Afrika aan die orde?

Omgewingstres, -angs? Die vierde nywerheidsrevolusie (NR4), die Internet van Dinge (IvD), nuwe tegnologieë, slim-omgewings; groot data, inligtingstortings? Werklikheid, aangevulde werklikheid, of skyn? Strooipraters, stresprinsesse, internettrolle, sosialemediakeffertjies, glansganse, gierslawe, clichétoeriste wat hul ervarings deur ander laat kureer?

Terwyl ons groener eet, groener leef en die grens tussen die fisiese en digitale wêreld vervaag, balanseer Suid-Afrika op sy eie naaldpunt.

In die brandpunt tussen deelekonomie en grypkultuur; tussen die Scylla van mislukkende munisipaliteite (“munisifaliteite”), korrupsie, armoede, misdaad, gebrekkige polisiëring, kom-gratis-uit-die-tronk-kaartjies en die Charybdis van reg­rukstrategieë, Ramaforie en Rama­fantasie.

In die brandpunt, vir baie, tussen bly en gly.

  • Watter woord kies jy in die pylvak van hierdie wegholdekade?
Meer oor:  Taal  |  Woordwisseling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.