Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat staan alles op die kassie langs jou bed?
Johan van Wyk

Wat staan alles op die kassie – waarskynlik van imbuia met bal-en-klou-pote – langs jou bed? Wat is alles in die laaitjie met sy swaelstertvoeë?

Durf ek vra of wat onder jou bed staan van geblomde porselein of wit emalje met ’n oor is? Is jou skaapvelpantoffels binne bereik?

Dié vrae het by my opgekom toe ek onlangs in ’n maanlose na-nag wakker geskrik het (is daar nog mense iewers in Suid-Afrika wat wakker word en nie wakker skrik nie?) en wou sien hoe laat dit is.

Toe die liggie op die kassie langs my bed nie wou aanskakel nie, het ek in die gevroetel in die stikdonkerte ’n glas water op my Bybel omgegooi. Gelukkig nie op die .38 Special wat langs my Bybel lê nie.

Ja, daar lê nog ’n Bybel langs my bed, ’n 1933-vertaling in swart leer gebind.

Voorin, by die datum 23 Maart 1956 (my verjaardag), staan in my pa se sierlike handskrif: “Aan ons lieflingseun van Pappa en Mamma”, by die woorde “Hou die Here voor oë!” Het ek dit in 80 jaar altyd gedoen? Soos Margaret Thom van Groot-Brak graag sê as die groot misteries van die lewe opduik: “I don’t know!”

Omdat hy die Bybel nooit oopgeslaan het nie, het hy nooit geweet dat ’n tjek vir $1 miljoen in die Bybel se bladsye versteek was nie.

Baie jare later het ek in ’n tydskrif gelees van ’n Amerikaanse seun wat, soos ek, op sy 16de verjaardag ’n Bybel by sy ouers present gekry het. Maar omdat hy dit nooit oopgeslaan het nie, het hy nooit geweet dat ’n tjek vir $1 miljoen in die Bybel se bladsye versteek was nie.

Toe ek dit lees, het ek my Bybel, van Genesis tot Openbaring, in rekordtyd deurgedraf.

Ek wag al jare om van my kinders te hoor dat hulle die tjek vir R1 miljoen (in Monopoly-note!) wat ek versteek het in die pragtige Bybel wat ek hulle as huweliksgeskenk gegee het, ontdek het. Hopelik vind hulle dit nog in my leeftyd.

Maar my nagtelike pilkaatse kon erger gewees het as ek winkeltande gehad en hulle, soos die gebruik onder bejaardes in die ou dae was, saans uitgehaal en in ’n glas water met Steradent op my bedkassie gehou het.

My winkeltande kon onder die bed ingerol of, nog erger, in die wit emalje-een met ’n oor (ons geblomde een versier al jare die klavier in die sitkamer) beland het.

Dink net aan die moles wat dit sou afgegee het! My kinders sou dit as ’n “disaster” bestempel en gedreig het: “Pak julle goed, julle gaan nóú ouetehuis toe!”

Maar wat staan alles daar op jou bedkassie – behalwe ’n blaker met ’n kers en ’n boksie vuurhoutjies, en ’n glas water langs jou Bybel en jou .38 Special?

’n Asmapompie, ’n blikkie samboksalf, ’n potjie Vicks? “Doctor Lee” se “pain relief cream” vir jou geswelde knie? Lewensessens? Staaldruppels, slaappille?

Dalk Rennies vir die sooibrand ná gisteraand se boontjiesop met gerookte varkspek?

As jy 80 jaar oud is, staan dit álles op jou bedkassie. In die wye, droewe land, in duisternis.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Bybel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.