Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat van balk in die DA se oog?

Soms lyk dit asof die DA aan geheueverlies ly. Of is hulle bloot net ’n arrogante, baasspelerige, kliek na wie se pype almal moet dans?

As daar ooit ’n tjankbalie in die politiek was, is dit die DA van Mmusi Maimane. Hulle het ’n eier oor alles te lê. En as hulle nie hul sin kry nie, gaan hulle soos ’n koliekbaba aan die grens, want in die DA se boeke is hulle altyd reg en die res almal verkeerd.

Johann Maarman

Dit wil voorkom asof die DA alleen die politieke patentregte het op hoe Suid-Afrika regeer moet word, maar hierdie selfvoldaanheid en beterweterigheid byt hulle nou aan die hakskeen.

Julius Malema se EFF is besig om die DA se water en ligte af te sny in Tshwane en die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit.

Dit is nou die einste EFF wat in sy verkiesingsmanifes belowe het dat hulle ontslae wil raak van die korrupte ANC. Die EFF het hom aangebied as ’n werkbare alternatief vir die ANC.

Wel, wel, toe nie so nie. Hulle wil dan nou die einste kripvreters weer aan die bewind bring om die staatskas van voor af te plunder.

Maar voordat ’n mens die EFF-baba met die badwater wil uitgooi, moet ’n mens ’n bietjie dieper delf na wat die beweegrede is vir die EFF se besluit.

Op die oog af wil dit lyk asof die DA nie sy koalisievennote soos volwaardige eweknieë behandel nie.

Inderdaad was daar sulke episodes, maar tot die krediet van Zille het sy hierdie losse veelparty-koalisie bymekaar gehou ondanks pogings om die mat onder haar voete uit te pluk.

Die persepsie wat bestaan, is dat die DA meen hulle vorm die nukleus van die koalisie en dit gee hulle die lisensie om te hiet en gebied.

Dis ’n ou siekte van die DA, wat net die kitaar wil speel en die ander moet maar na sy pype dans.

Toe die ANC in 2006 in die munisipale verkiesing in Kaapstad onttroon is as heersers het dieselfde koalisie-politiek hom afgespeel.

Die DA het wel 42% van die uitgebragte stemme op hom verenig, maar dit was nie genoeg om hom te laat regeer nie. Helen Zille moes toe ’n pakt met die kleiner partye aangaan om die ANC te stuit. Zille het dit reggekry en dit het die DA in staat gestel om met ’n skrale meerderheid Kaapstad te regeer.

Omdat die meerderheid so klein was, was die moontlikheid altyd aanwesig dat een van die partye in die koalisie hul dinges kon pluk en bloot by die deur kon uitstap, wat beteken het dat die DA mag kon verloor het.

Inderdaad was daar sulke episodes, maar tot die krediet van Zille het sy hierdie losse veelparty-koalisie bymekaar gehou ondanks pogings om die mat onder haar voete uit te pluk.

Die EFF drup van populisme. Dit is sy stapeldieet, maar ten minste het hy nou vir die DA mooi laat verstaan hy gaan hom nie laat boelie deur ’n alewig beterweterige party nie.

Hoewel die DA toe in beheer was, moes hy onder meer die speaker en die onderburgemeesterpos aan die kleiner partye toevertrou.

Maar wat gebeur toe in 2011?

Die DA behaal die meerderheid in Kaapstad en kyk nie eens na die kleiner partye toe poste uitgedeel word nie.

In die 2006-verkiesing het die ACDP met sy sewe setels die DA gehelp om te regeer, maar in die 2011-verkiesing het die DA hom in die tande geskop deur hom nie ’n enkele pos aan te bied nie.

Nóg ’n voorbeeld dat die DA eerder partye sal kannibaliseer, is hoe die DA die Onafhanklike Demokrate (OD) behandel het. Met die politieke paringsdans moes die OD tot niet gaan, maar die DA het in al sy glorie voortbestaan.

Dit sal die DA net baat as hy ’n slag in die truspieëltjie kyk en bestek neem van homself. Dis tyd dat hy nederig word en die hoogmoedigheid by die venster uitgooi. Die balk sit ook in sy oë.

Die EFF drup van populisme. Dit is sy stapeldieet, maar ten minste het hy nou vir die DA mooi laat verstaan hy gaan hom nie laat boelie deur ’n alewig beterweterige party nie.

  • Maarman is eindredakteur van Die Burger.
Meer oor:  Johann Maarman  |  Rubriek  |  Menings  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.