Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat vroue als in die bad doen

Daar is twee soorte mense op aarde. Badmense en stortmense. Maar dis badmense wat Erla-Mari Diedericks fassineer, want volgens adverteerders vang vroue die vreemdste goed in die bad aan.

Kuiertyd in die bad.

Ek vind dat die meeste mans stortmense is. Hulle stort met een doel – om skoon te kom. Badmense is gewoonlik vroue, maar ek het wel een keer ’n Poolse man ontmoet wat vir ure in die bad gelê het met ’n sigaar en ’n glas whiskey in elke hand en ’n masker op sy gesig.

Want bad gaan nie net oor skoon word nie. ’n Bad is ’n magiese, ontspannende ervaring. Dis die baarmoeder van die volwassene. Geen wonder ek gaan krul dikwels op in ’n bad warm water as my moed gebreek is nie. Want water streel die vel en die gemoed.

’n Bad is soveel meer as net ’n bad. Dis ’n droomplek. ’n Wegkomplek. As kind kon ek vir ure in ’n bad lê en lees. Ek het natuurlik so menige biblioteekboek beskadig wat my ma dan moes aankoop. Vandag het ons ’n heel interessante versameling van waterbeskadigde boeke. Deesdae klim ek met die selfoon in die bad, maar uiters, uiters versigtig.

Maar behalwe vir lees en ontspan, is daar natuurlik baie ander dinge wat jy in ’n bad kan doen . . .

Vra maar die vervaardigers van die sogenaamde badskinkbord (bath tray). Dis nou as jy moet oordeel aan die vreemde voorwerpe wat uitgestal word op hierdie badskinkbord-advertensies.

Ek ken baie vroue wat wyn drink in die bad, maar wyn én koffie?

Twittergebruiker Sharon Su het ’n storm in ’n bad ontketen toe sy dié vreemde badskinkbordadvertensies op Twitter geplaas het met die onderskrif: “Dis heel duidelik die vervaardigers het nie ’n idee wat vroue doen terwyl hulle bad nie, en ek vind dit heel gerusstellend.”

Op die foto wat Sharon geplaas het, is die volgende op die skinkbord gerangskik: ’n Blompotjie vol blomme, ’n selfoon, snesies, twee botteltjies skoonheidsprodukte en – die beste van alles – ’n glas rooi wyn én ’n cappuccino. Nogals met ’n roomhartjie wat bo-op dryf.

Nou vra ek jou met trane in my oë. Ek ken baie vroue wat wyn drink in die bad, maar wyn én koffie? Ek het die eerste badskinkbord so gekyk – grys en duursaam met ’n klomp afskortings en met die selfoon wat so mooi netjies regop staangemaak is op die skinkbord.

En ek kon net aan een ding dink: My kat sal onmiddellik binne daai skinkbord spring en dan is die selfoon en blompot en die dure wynglas in sy m**r in.

Maar Sharon se advertensievoorbeeld was nog niks nie. Hier is ’n paar ander items wat adverteerders op hul skinkborde uitstal:

A: ’n iPad, ’n pers kers, ’n glas rooi wyn en ’n bordjie slaai.

Slaai! Wie eet slaai in die bad? Enigiemand?

Want wie bad nou sonder ’n stuk wors?

B: ’n iPad, ’n selfoon, ’n blou skemerdrankie, ’n bordjie graanvlokkies met melk en twee botteltjies naelpolitoer. Vir die vrou wat haar naels wil doen terwyl sy graanvlokkies in haar mond prop tussen slukke cocktails deur en haar e-posse deurstuur sowel as oproepe beantwoord.

C: Twee selfone. Twéé. ’n iPad. ’n Kaasbord met beskuitjies en drie verskillende soorte kaas saam met ’n bordjie aarbeie. Rooi druiwe en wit druiwe! En die piece de resistance – twéé glase wyn. Dalk om te illustreer dat iemand saam met jou kan bad en sy glas en sy selfoon ook daar sal kan parkeer terwyl hy aan sy eie druiwetrossie knibbel.

D: Die wenner is egter die skinkbord met die volgende op: ’n groot glas blompot met rose, ’n iPad, vier badprodukte, ’n skemerkelkie, ’n wegneemhouer met koffie in, ’n bordjie ontbytpap en ’n groot bord vol wafels en wors.

Want wie bad nou sonder ’n stuk wors?

erla
Erla-Mari Diedericks

Die interessantste ding wat ek al in ’n bad gedoen het, was om basiliekruidblare – wat vir my ongelooflik lekker ruik – te pluk en in my bad te gooi.

Soos die meeste van my impulsiewe idees was dit twee grade onder dom. Want vars blare raak onmiddellik swart en pap in warm water en op die ou einde het dit gelyk asof ’n melaatse voor my gebad het en stukkies losdrywende vel agtergelaat het.

En niks het na basiliekruid geruik nie.

Natuurlik word al die items op die skinkbord uitgestal as blote illustrasie oor wat ’n mens als daar kan inpas, maar dit het my laat dink: Wat sou ek graag op my skinkbord wou hê?

Dis eenvoudig. ’n Bottel drank. ’n Glas. ’n Klein bakkie ys. ’n Boek. En ’n waterpistool waarmee ek tieners kan skiet wat dink dat badtyd pla-vir-ma-tyd is.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Sharon Su  |  Bad  |  Stort
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.