Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat Westbury ons behoort te leer

Die probleme waarmee inwoners van woonbuurte soos Westbury in Johannesburg worstel, strek veel wyer. As ons nie Westbury se probleme kan oplos nie, sal ons nie die probleme van die land kan oplos nie, skryf Nico Botha.

Ontevrede inwoners van Westbury in Johannesburg het onlangs in opstand gekom teen bendegeweld en dwelms in hul woonbuurt. Foto: Felix Dlangamandla

Miskien sal die belangrikste uitwerking van die opstande in gebiede soos Bonteheuwel, Mitchells Plain, Riebeeck-Kasteel in die Kaap en Eersterust, Eldorado Park en Westbury in Gauteng wees dat ons vernuwend nadink oor wie ons as Suid-Afrikaners is.

Die alternatief sou die absolute sinisme van apartheid wees dat mense in dié gebiede bedoel was om op ’n sekere manier geïdentifiseer te word en daarom apart moet bly en hul eie kwessies self moes oplos.

Wie die nasionale kwessie verstaan, sal weet dat die probleme waarmee mense uit die genoemde gebiede opgeskeep sit, tipies Suid-Afrikaanse probleme is wat tot die kern hoofsaaklik te make het met ernstige sosio-ekonomiese agterstande.

Om op ’n verskraalde wyse te fokus op gebrekkige dienslewering, bendes en dwelmmisbruik, is om die hele tyd die simptome van ’n ernstige kwaal te probeer onderdruk terwyl weinig gedoen word aan die eintlike siekte.

Wat dit betref, is daar ’n interessante verskil oor hoe mense uit die Kaapse gebiede na hul probleme kyk en die wyse waarop mense uit Gauteng dit doen.

In die Kaap is daar amper ’n saaklike benadering deurdat grondliggende kwessies soos armoede, dakloosheid, werkloosheid en natuurlik ook die probleem van bendegeweld en dwelms uitgewys word. Die etniese kaart word nie te openlik gespeel nie.

Net soos die apartheidsregime het die kokkedore van die ANC baie gou ná 1994 agtergekom dat fragmentering en verdeling van mense op watter gronde ook al, ’n baie handige politieke wapen is as jy aan die mag wil vasklou.

In Gauteng beweer mense op ’n onbeskaamde manier dat daar teen hulle gediskrimineer word en dat hulle gemarginaliseer word omdat hulle “Kleurlinge” of “bruin mense” is.

Die ernstigste probleem met die voortgesette aanwending van sulke kategorieë, is dat dit nie van hul ontstaansgeskiedenis ontkoppel kan word nie. Hoe mense ook al probeer om te herkonseptualiseer en om nuwe inhoud aan sulke kategorieë te gee, slaag dit nie, omdat die identifikasies te swaar dra aan die bagasie van apartheid. Dis amper asof die nuwe geslag regeerders in hul mou lag en uitgesproke sê: “Orraait, as jy ’n ‘Kleurling’ of ’n ‘bruin mens’ wil wees, sal ons jou soos een behandel.”

In die praktyk kry ons in elk geval voorbeelde van hoe mense afgeskeep word.

Toegegee, dit is ’n uiters siniese perspektief, maar ’n poging om die noodsaaklikheid van nuwe denke oor wie ons as Suid-Afrikaners is op die spits te dryf. Die ANC-regering moet natuurlik tot ’n groot mate verantwoordelik gehou word vir die verval wat die samelewing kenmerk. Net soos die apartheidsregime het die kokkedore van die ANC baie gou ná 1994 agtergekom dat fragmentering en verdeling van mense op watter gronde ook al, ’n baie handige politieke wapen is as jy aan die mag wil vasklou.

Nou word daar ook politieke punte aangeteken omdat Bheki Cele, minister van polisie, skielik soos ’n messiasfiguur opdaag in woonbuurte waar daar onrus is.

Suid-Afrikaners moet hande vat

Die werklikheid van ’n gefragmenteerde, verdeelde, ongelyke en gewelddadige samelewing behoort alle Suid-Afrikaners te oortuig om op ’n aantal vlakke hande te vat en self iets te doen aan nasiebou wat met geregtigheid gepaardgaan eerder as om die politici daarmee te vertrou. Die afgelope kwarteeu het getoon hoedat politici met hul lippetaal probeer vashou aan waardes soos solidariteit en nierassigheid, maar hul korrupte praktyke is gerig op verdeeldheid en selfverryking.

Nico Botha

Suid-Afrikaners kan slegs wys dat hulle nie die swak voorbeeld van die politici volg nie deur groter menslike solidariteit met mekaar te betoon.

In konkrete terme sou dit iets soos die volgende kon beteken: dat mense in die groter Johannesburg-omgewing begin insien dat die probleme van mense in Westbury eintlik almal se probleme is. Want daar is eintlik maar ’n baie eenvoudige logika: As ons Westbury se probleme nie kan oplos nie, sal ons nie die probleme van die land kan oplos nie.

Daarom is die tweede groot aspek wat hier ter sprake is ons verstaan van die nasionale kwessie. Hoe word ons werklik een nasie? Hoe vestig ons ’n opregte nierassige samelewing waar etniese kategorieë van al minder belang sal wees?

In Suid-Afrika loop die pad na groter samehorigheid deur samewerking in die bekamping van armoede, werkloosheid en ongelykheid. Die geloofsgemeenskappe in die genoemde gebiede – Bonteheuwel en Westbury – en in die hele land het ’n belangrike rol te speel in die vestiging van die kultuur van die eenheid van die mensheid, die kultuur van nierassigheid, ’n omgee-kultuur, ’n Bybelse kultuur dat ek inderdaad my broer en my suster se oppasser is.

Geloofsgemeenskappe dra die boodskap van versoening uit wat lui dat mense met mekaar versoen kan word ondanks vervreemding, verwydering en vyandskap.

Dis dié soort ideale waaraan die 87-jarige emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu sy lewenslange bediening gewy het omdat hy oortuig is dat dit die enigste weg na blywende vrede is.

* Botha is professor in teologie aan Unisa.

Meer oor:  Nico Botha  |  Desmond Tutu  |  Bheki Cele  |  Westbury  |  Bonteheuwel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.