Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat word van ons regte in ’n korrupte SA?

Ná 25 jaar van demokrasie lyk dit vir Danny Titus of menseregte nie meer veel saakmaak in Suid-Afrika nie.

Danny Titus

Maak menseregte nog sin in Suid-Afrika?

Ek kry die prentjie van ’n berg wat met moeite uitgeklim is, sonder die moontlikheid van enige vooruitsigte, en dan die kruin wat genadiglik, of liewer triomfantelik, bereik word. Nooit het ons kon dink dat ’n oudpresident se verwysing na die kruin maar net aandui dat daar nog vele pieke is wat bestyg moet word nie, dat ons triomf met nugterheid moet demp nie.

My gevoel wanneer ek terugkyk oor 25 jaar van demokrasie is dat ons menseregte aan die agterkant van die berg lê. Die reg op lewe word kort en kragtig in ons Handves van Menseregte uitgespel. “Elkeen het die reg op lewe.”

En tog, wanneer ons kyk na die derduisende moorde wat jaarliks in ons land gepleeg word, dan bots die praktyk gruwelik met die Handves.

Kyk maar na die Life Esidemeni-tragedie waar daar van die reg op lewe geen sprake was nie. Esidemeni beteken ’n plek van waardigheid en “ons verskaf ’n waardige terapeutiese omgewing,” lees die webwerf.

Tog het 144 psigiatriese pasiënte gesterf nadat hulle van Life Esidemeni-instellings verskuif is na ongelisensieerde nieregeringsorganisasies in Gauteng.

Ons Grondwet het nog ’n hele paar regte: Vryheid van spraak, privaatheid, die reg op eiendom, behuising, kinderregte, gesondheid, kos, water, maatskaplike sekerheid.

Daar is wel ’n kostebevel ten gunste van die naasbestaandes gemaak, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Elkeen het die reg op lewe?

Sê dit maar aan die derduisende slagoffers op ons paaie, die alkohol- en dwelmverslaafdes.

Ons Grondwet het nog ’n hele paar regte: Vryheid van spraak, privaatheid, die reg op eiendom, behuising, kinderregte, gesondheid, kos, water, maatskaplike sekerheid. Dan is daar onderwys, taal en kultuur, ens. ens. ens.

Wat doen die Hoofstuk 9-instellings om hieraan vervulling te gee? Ek dink hulle probeer, maar kan nog meer doen.

Ek onthou hoe ek eendag ’n afvaardiging van die Menseregtekommissie na ’n komitee in die parlement oor mediese inligting en privaatheid gelei het.

’n Gryserige omie val my met mening aan. Dis julle wat ons land so terughou met jul menseregte!

Ek verwys die oom na die Grondwet. Hy is glad nie beïndruk nie. Die voorsitter probeer die agbare lid tot orde te roep. Brom-brom raak hy rustiger.

Nou ja, as die agbare lede nie so lekker weet van die Grondwet nie, dan wonder ek hoekom van die nuwe lede hierdie jaar die Grondwetboekies wat in leer gebind is, gesteel het.

Korrupsie maak mense dood. Die geld wat elke jaar deur korrupsie gesteel word, is genoeg om die wêreld se hongeres 80 keer oor en oor te kan voed.
Navi Pillay

Wil hulle die Grondwet in leer gaan bestudeer? Of trek hulle die Grondwet dieper die afgrond in?

Die parlement beïndruk, jammer genoeg, glad nie. Agbaar of te not.

Dan sit ons ook opgeskeep met korrupsie. Korrupsie is ’n skending van menseregte en ons land word vir jare van alle kante geskend.

Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN), het in 2004 op dié organisasie se konvensie teen korrupsie gesê: “Korrupsie is ’n diepgewortelde plaag wat ’n wye reeks van verwoestende invloede op samelewings het. Dit ondermyn die demokrasie en die regstaat, dit lei tot die skending van menseregte, die verwringing van markte, dit maak inbreuk op lewensgehalte en laat georganiseerde misdaad, terrorisme, en ander bedreigings van veiligheid floreer.”

Ek wil ook weer soos in ’n vorige rubriek regter Navi Pillay, die VN se voormalige hoëkommissaris oor menseregte, se uitspraak van 2013 deel: “Kom ons wees duidelik. Korrupsie maak mense dood. Die geld wat elke jaar deur korrupsie gesteel word, is genoeg om die wêreld se hongeres 80 keer oor en oor te kan voed. Byna 870 miljoen mense gaan slaap honger elke aand, talle van hulle kinders; korrupsie ontneem hulle hul reg tot voedsel en, in sommige gevalle, hul reg op lewe.”

Dis in hierdie dieptes waar Suid-Afrika se menseregte tans is. Korrupsie vind plaas in die aangesig van menseregte en ons veelgeroemde Grondwet.

In plaas daarvan om op hul swaarde te val of van die aardbol te verdwyn, maak die korruptes hul stemme dik en veg skaamteloos terug.

Ons het geen keuse meer nie. Ons moet ons menseregte uit die dieptes gaan opgrawe.

* Dr. Titus is uitvoerende direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.