Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Water in gevaar weens geklou aan steenkool
Elise Tempelhoff

Dis ’n voorreg om ’n kraan oop te draai en water te hê. Ons vergeet dikwels dat water ’n baie lang en ingewikkelde “reis” onderneem voordat dit by verbruikers uitkom.

Terwyl ons meestal fokus op gebrekkige infrastruktuur, nalatigheid met instandhouding, rioolbesoedeling en korrupsie in waterbestuur, vergeet ons dikwels om dieper te delf en watervergrype en -vernietiging oop te vlek.

Mail & Guardian berig vandeesweek dat die departement van water en sanitasie R15 miljard wil bestee aan ’n pypleiding om water van die Krokodilrivier (waarin die Hartbeespoortdam gebou is) na die dorre Lephalale en Steenbokpan in Limpopo te pomp sodat die Medupi-kragstasie behoorlik aan die gang kan kom. Dié water sal ook gebruik word vir die uitbreiding van Exxaro se Grootegeluk-myn en vir nog steenkoolmyne om Medupi en die Matimba-kragstasie te voed.

Terwyl die grootste deel van die wêreld fossielbrandstowwe die rug toekeer, maak Suid-Afrika die een ná die ander steenkoolmyn oop.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het die bou daarvan goedgekeur, ondanks die appèl van agt omgewingsgroepe.

Dít is in direkte teenstelling met Suid-Afrika se verbintenis tot die Parys-ooreenkoms, wat onderteken is deur Edna Molewa, die vorige minister van omgewingsake. Dit maak ’n klug van Suid-Afrika se verbintenis tot die stuit van klimaatsverandering.

En die wêreld is nie blind hiervoor nie. Net verlede week het die opstellers van die “Climate Transparency Report 2020” kritiek uitgespreek op Suid-Afrika se verslawing aan steenkool.

Die myn van steenkool en die verbranding daarvan kan nie sonder water plaasvind nie. Water wat gesuiwer kon word vir byvoorbeeld landbougebruik, gaan nou noordwaarts gepomp word vir die opwekking van vuil krag.

Die beplande pypleiding sal een van die land se meer as 200 wateroordragskemas wees.

Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, het die bou daarvan goedgekeur, ondanks die appèl van agt omgewingsgroepe. In haar motivering sê Creecy die pypleiding moet gebou word omdat dit die “ekonomiese ontwikkeling van Lephalale sal ontsluit”.

Hoe kan ekonomiese ontwikkeling in die tyd waarin ons leef nog gebou word op fossielbrandstowwe?

In Mpumalanga is daar geen keer aan die vernietiging van die land se varswaterbronne nie. Die departement van water en sanitasie knip nie ’n oog as steenkoolmyne sonder enige toestemming in riviere, vleie en panne steenkool begin uithaal nie.

So is feitlik die hele Olifantsrivier-opvangsgebied al vir steenkool uitgemyn. Baie van die bedrywighede begin sonder ’n waterlisensie of omgewingsgoedkeuring. Sodra iemand die onwettige myn verkla, is die departement die mynbase gewoonlik goedgesind en reik ’n waterlisensie uit omdat die mynhuis reeds “soveel geld” bestee het. So word die myn binne ’n japtrap wettig.

Die rede hoekom so baie boere al uit Mpumalanga padgegee het, is omdat die steenkoolmyne waterbronne op die Hoëveld vernietig het.

  • Tempelhoff is ’n vryskut-omgewingsjoernalis.
Meer oor:  Elise Tempelhoff  |  Omgewingsbewaring  |  Steenkool  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.