Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat’s in en uit in 2017?
Prof. Gerhard van Huyssteen

Ek hou vakansie saam met twee millenniërs – sy is 29 jaar oud, hy 36 en net-net deel van Generasie X. In die ou dae sou hulle my as “oom” moes aanspreek. Maar dis byna 2017, ons oom-en-tannie nie meer nie.

Jy kan nie jeugdigheid koop nie, en ek gee my daarom oor aan hul (gratis) lesse oor hoe om byderwets te wees (of soos hulle sê: “Om funky soos dit te wees”).

Ek laat die opleiding oor kleredrag­ my begaan – die praktiese waarde van ’n oubollige swemmus en getinte swembril weeg soms vir ’n kaalkop swaarder op as ’n onblakend gebrande, karmosynrooi pan. Ek lyk eerder soos ’n vars oester as ’n geroosterde garnaal.

Hul taal- en sosialemedia­lesse is van meer waarde.

Wat is in en wat is uit in 2016-’17?

  • In:

Om heeldag (maar dan die hele dag) op jou selfoon of tablet te bestee is normaal en aanvaarbaar.

Uit: Om aanmerkings of grappies daaroor te maak is baie verouderd.

  • In: Om slimfoontoepassings vir alles (maar dan álles) te gebruik.

Uit: Om iemand te vra om jou te herinner om ná tien minute in die son om te draai. (Ja, daar is ’n toepassing wat die UV-indeks bereken en dan vir jou sonbaai-instruksies op jou foon gee.)

  • In: Die woord tan.

Uit: Die woord sonbaai.

  • In: Instagram, Facebook, Pinterest en YouTube.

Uit: Twitter.

Meh: Snapchat en LinkedIn.

Die byvoeglike naamwoord “meh” beteken “so-so” of “ja-nou-en-of” of “niks besonders nie”.

My twee millenniër-vriende vermoed wel “die jonger generasie” hou dalk meer van Snapchat.

  • In: Selfies wat die nuutste neigings volg.

Uit: Oudmodiese kiekies van jouself.

Byvoorbeeld, die nuutste selfieneiging is om ’n foto te neem terwyl jy jouself ’n vatvyf gee.

Sulke selfies word dan dikwels van ’n byskrif soos “Today is the proudest day of my life” of “This is the most amazing thing I have ever ­done” voorsien.

Die eendbek was in 2015

in en die visgaap in 2016.

Vir 2017 word

Touch It-selfies voorspel (jy vat aan jou onderlip­, meestal­ om ’n puisieuitbraak op jou ken te verbloem).

  • In: Video’s, foto’s en teks­grafika.

Uit: Lang stukke teks. As jy iets nie in een of maksimaal twee sinne kan sê nie, hou links verby.

  • In: Hutswoorde.

Uit: Hutssinne.

As jy ’n selfie of ander foto plaas, moet jou hutswoorde versigtig gekies word. Besin lank en deeglik daaroor, want dit is ’n kwessie van maak of breek.

Hoe meer hutswoorde by jou foto op die strand, hoe meer vreugde: #selfie #somer #strandvakansie #me (nie #meh nie!) #girl #nofilter. Jy gee jou ouderdom weg met ’n hutssin soos #EkHouLekkerVakansieByDieSee. Om elke woord met ’n hoofletter te begin, getuig ook van amateur­agtigheid.

  • In: Hahaha en LMGA (of in Engels LMAO)

Uit: Haha en LOL

Om te wys jy dink iets is snaaks, moet jy meerdere ha’s gebruik. Navorsing wys tot en met hahahahahahahahahahahaha (24 karakters) is aanvaarbaar, daarna raak jy stuitig. En LOL is baie passé. (’n Ouer vriendin van my het gedog LOL beteken “lots of love” en het dit toe ruim onderaan die doodsberig van ’n kennis op Facebook gebruik.)

Nou ja toe, laat 2017 begin! Onthou: #touchit met #sunscreen!

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.