SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Watter kolkkuile wag voor 2023?

Die alomteenwoordige Wêreld­beker-rugbytoernooi lê in ’n kleurryke sjoebroekie op die naat van sy rug. Só baie lewe en krag en polsende bloed sou ’n mens baie ver moes soek om te vind.

Daarom is dit seker allermins vreemd dat die stilte wat nóú begin heers, niks soveel by ’n mens oproep nie as juis die vaal en dowwe keersy van die munt. Die afgelope anderhalf maand se ruising was maar, soos die lewe self, ’n kort respyt.

Die toernooi – die vlugvoetigheid, die trompetgeskal, die blinkgoue beker – het vir ons onvermydelik 12 én 24 jaar terug se wedervaringe én siele opgeroep. Ons laat dink aan dít wat in daardie twee siklusse bereik en verloor is.

Hoeveel hoofde uit ons kringe op­geroep is om elders diens te doen. Hoeveel van onsself in die tussentyd verdwyn het of in iets anders omvorm is.

Soos die digter D.J. Opperman se halfkring gesigte van ou uitgestorwe ooms en voorvaders het Joost van der Westhuizen en Chester Williams, byvoorbeeld – wat nog in hul fleur móés gewees het – rustig aan pype sit en suig. Terwyl hulle op die kantlyn die klateringe rondom hulle gadegeslaan het, het die rook soos ou triomfdeuntjies boontoe gekweel.

Wat, wonder ’n mens onwillekeurig, sal oor nóg 12 jaar van al dié soene oorbly?

In een van die baie internetmeem-grappies wat sedert die geslaagde beleg van Jokohama die rondte van vader Cloete doen, glinster die glimlagte van Mandela, Mbeki en Ramaphosa in die gloor van die William Webb Ellis-trofee.

Tussen hulle gluur Zuma bekerloos die niet in. Dié mop ten koste van Zuma is natuurlik ’n goedkoperige een. Meer betekenisvol is hoe dit – soos ’n aftelrympie – die onlangse oorstelptheid en geraas in perspektief plaas. Wat, wonder ’n mens onwillekeurig, sal oor nóg 12 jaar van al dié soene oorbly?

Te midde van al die rugbyraserny merk ek juis eendag op sosiale media ’n gesig op wat ek jare laas gesien het. Dis ’n kiekie van ’n doodsberiggie uit dié koerant. Onder ’n boog sagte krulletjies tuur ’n paar vraende, effe sardoniese oë uit. Die sagpienk lippe is opmekaar, maar wil-wil ’n trae glimlag word.

Sheila de Kock, wat kort ná die aanvang van die Wêreldbeker-toernooi op 95 oorlede is, het geslagte lank aan die eertydse Laerskool Paul Roos, wat daarna die Laerskool Eikestad sou word, Engels gegee.

Sy was op haar manier kwaai. Én – hoe verander die tye! – sy het nie graag die roede gespaar en die risiko geloop dat die kind verword nie.

Die juffrou het, toe ek as boodskapper na haar toe is, my voor in haar standerd 4-klas staan­gemaak en my aangesê om vir my ’n girlfriend te kies.

Al was ek nooit in haar klas nie, het sy seker iets onder my verontskuldiging van ’n kuif raakgesien en my telkens, toe ek as boodskapper na haar toe is, voor in haar standerd 4-klas staan­gemaak en my aangesê om vir my ’n girlfriend te kies. Wat ek dan met groot stelligheid gedoen het.

Op die Facebook-blad van Paul Roos se old boys verspreek Hempies du Toit, self ’n Springbok-legende van weleer, hom op ’n manier wat juffrou De Kock sou geamuseer het: “Sy was on­gelowige mens,” sê hy en bedoel iets anders. Hy noem van sy ander kleintydse leermeesters, en voeg dan by: “My menswees [is] aan hulle te danke . . .”

En terwyl ek dié rubriek in my kop uitpluis, hoor ek dat ’n ander legendariese figuur, Richard (of Dick) Breytenbach, met wie ek bevriend geraak het ’n dag of wat voordat kanker in 2002 by my gediagnoseer is – onder die rugby se doodsnikke oorlede is.

Maande terug verneem ek dat hy ’n jaar of wat terug ’n beroerte gehad het. Die volgende dag glip ’n kiekie van ons twee uit ’n boek uit. My plan om hom te besoek is nie meer moontlik nie.

En ek wonder: In watter kolkkuile mag ook ek dalk in die volgende vier jaar versink?

  • Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde.
Meer oor:  Politiek  |  Bokke  |  Toekoms  |  Wb  |  Onderrig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.