Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Watter roete kies jy, CR?
Adj.pres. Cyril Ramaphosa kom Sondag aan vir ’n erediens in die St. George-katedraal in Kaapstad. Foto: Reuters

Een van Cyril Ramaphosa se belangrikste take as president gaan wees om ANC-ondersteuners en die res van die Suid-Afrikaanse kieserskorps te onderrig oor hoe ’n moderne ekonomie soos ons s’n werk. As hy misluk, gaan sy eie politieke loopbaan dalk nie so lank duur as wat hy graag wil hê dit moet nie.

Danksy Jacob Zuma, die Guptas, ANN7, Bell Pottinger en goedkoop populiste soos die EFF, is daar ’n breë siening onder Suid-Afrikaners dat witmonopoliekapitaal en wit bevoorregting al redes is waarom die armes arm bly en ongelykheid en werkloosheid voortduur.

Die oplossing is dus maklik en vinnig: Takel dié twee monsters af, gee vir almal ’n plaas en die nasie gaan voorspoedig wees.

Radikale ekonomiese transformasie sal volbring wees.

Hugo Chávez, sy opvolger as president van Venezuela, Nicolás Maduro, en Robert Mugabe van Zimbabwe het ook met sulke simplistiese oplossings vorendag gekom – en só albei lande se ekonomie stelselmatig vernietig en bittere lyding veroorsaak.

Maar die massas is ongeduldig en witmonopoliekapitaal is ’n gerieflike Antjie Somers vir gefrustreerdes.

Die Venezuela-argument is al aan die EFF se Julius Malema en aan Chris Malikane, invloedryke raadgewer van die minister van finansies, Malusi Gigaba, gestel. Albei het geantwoord dat dié soort ineensinking wel ook in Suid-Afrika gaan plaasvind, maar dat dit ’n voorvereiste vir ’n soort magiese herrysing uit die as gaan wees.

Die waarheid, en Ramaphosa begryp dit baie goed, is dat enige vorm van ingrypende herrangskikking van deelname aan die ekonomie net kan gebeur as die ekonomie groei, staatsbesteding ingekort word, ’n oorlog teen korrupsie gevoer word, die burokrasie produktiewer word en die land aantrekliker vir beleggers gemaak word.

Dít staan alles in die Nasionale Ontwikkelingsplan, waarin Ramaphosa ’n sleutelrol gespeel het.

Maar die massas is ongeduldig en witmonopoliekapitaal is ’n gerieflike Antjie Somers vir gefrustreerdes. Ramaphosa se opponente in die ANC en in die EFF hang juis graag ’n witmonopoliekapitaal-etiket om sy nek, wat dit moeilik maak om ongewilde besluite oor die ekonomie te neem.

Ek sou dink Ramaphosa moet sorg dat 2018 ’n vlaag korrupsieverhore gaan sien – Zuma inkluis.

Ek sou dink Ramaphosa moet sorg dat 2018 ’n vlaag korrupsieverhore gaan sien – Zuma inkluis.

Soos ons met die Vrede-melkplaas gesien het, is dit ’n eenvoudige manier om te bewys dat die Zuma-Gupta-weergawe van radikale ekonomiese transformasie eintlik net ’n dekmantel vir grootskaalse diefstal deur ’n klomp politici en sakelui was. Ek hoop nie daar is ’n manier waarop Zuma self vervolging op die bestaande strafregtelike klagte en ander wat noodwendig moet volg, soos dat hy ’n vet salaris van ’n sakeman-vriend gekry het nadat hy president geword het, gaan vryspring nie.

Dit, en die getuienis voor regter Raymond Zondo se kommissie oor staatskaping, gaan die Zuma-era se leuens grafies blootstel.

Ramaphosa sal ook aan die mense moet verduidelik dat ons groot voordeel bo ander Afrika-ekonomieë is dat ons s’n met die wêreldwye ekonomie vervleg is.

Dit beteken natuurlik die regering moet altyd sensitief vir marksentimente wees, anders word ons gestraf, soos wat ons gestraf is nadat Zuma vir Nhlanhla Nene en toe vir Pravin Gordhan in die pad gesteek het.

Dit gaan Ramaphosa nie help as die private sektor aanmekaar oor hom koer as hul nuwe liefling nie, maar sakelui sal hom móét help om sy boodskap oorgedra te kry en te wys dat sy sober planne vir álmal in die land gaan werk.

As hy die populistiese roete volg, gaan die ekonomie gou ineenstort en die swart woede vinniger laat oorkook.

As hy die verantwoordelike roete volg sonder om die massas saam met hom te neem en hy kry nie gou resultate nie, gaan hy as witmonopoliekapitaal-handlanger gehaat en vervang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.