Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Watter visum vir 'n waardige lewensles
Wilhelm Jordaan

Daar is darem maar droewige sinne in sommige kerklike formuliere. Soos dié een: “Hierdie lewe is niks anders as ’n ge­stadigde dood nie.”

Biologies is dit seker waar. Lewensonderhoudende liggaamselle sterf van die begin af – ’n mens is as’t ware ’n wandelende sterfgeval! Hoe dit ook al sy, dié formulier is nie ’n goeie visum vir ’n lewensreis nie. Gans en al te pessimisties.

En ons weet wat pessimisme doen. Dit laat jou leef in afwagting van die ergste en jy tower “horrible imaginings” op à la William Shakespeare se Macbeth. Daaruit kom slordige emosies soos woede, vrees, selfbejammering en verlekkering in swartgalligheid en slagofferskap. Dit kan maak dat jy “doodgaan” nog voordat jy begin lewe.

Natuurlik is oordrewe optimisme nie ’n antwoord nie. Stel jou dié formulier voor: “Hierdie lewe is niks anders as ’n onophoudelike fees nie.” Tog poog mense om juis dít waar te maak.

Eers was dit Norman Vincent Peale met sy The Power of Positive Thinking: dat ’n daaglikse dosis gelukkige gedagtes die geluksgewoonte skep wat jou sukses besorg én geluk bring. Dit voed tot vandag toe ’n kultus van optimisme en positiwiteit met duisende boeke, artikels en selfhelpkursusse wat geluk beloof, byvoorbeeld Rhonda Byrne se The Secret: Alle goeie dinge én die slegtes wat jou tref, trek jy na jouself aan – volgens die kosmos se trekpleisterwet, wat as’t ware Newton se swaartekragwette kanselleer. Sulke optimisme is eweneens nie ’n nuttige riglyn vir ’n lewensreis nie.

Tussen dié maklike uiterstes is ’n moeiliker maar gepaster lewenshouding – ’n genaak­bare realisme waaraan die skrywer Elsa Joubert uitdrukking gee, byvoorbeeld in Die swerfjare van Poppie Nongena en in haar outobiografiese werk, Spertyd (die datum waarop iets veronderstel is om klaar te wees en nog nie is nie!), wat in 2018 verskyn het, pas voor haar 96ste verjaardag.

Genaakbare realisme veronderstel ’n bewustheid van teenstrydigheid, paradoks en eie dubbelhartigheid.

Genaakbare realisme veronderstel ’n bewustheid van teenstrydigheid, paradoks en eie dubbelhartigheid; dat donker (pessimisme) en lig (optimisme) en vrees en moed saam in jou woel. En om dit alles te omhels as vormende lewensgoed waaruit waagmoed om voluit te lewe kom.

In Joubert se geval kom haar voluit lewe tereg in ’n filosofie wat sy lank gelede verwoord het: “Die verste reis wat ’n mens kan onderneem, is van mens tot mens, deur die hart.”

Só het sy Poppie Nongena se wêreld vir ons bekend gemaak en in Spertyd lê sy ’n mens se oudword en oudwees realisties bloot – met genaakbaarheid, deernis, ironie en humor.

Soos sy self sê, sy is steeds nie versadig aan die lewe nie. Sy bly op soek na klarigheid oor lewensdinge, oor “Die Krag” eie aan lewe.

In Spertyd skryf sy: “Rus bestaan in sy teenstander Beweging, die een kan nie sonder die ander nie . . . Moeg beteken die Krag het opgehou. Krag beteken die Moeg het opgehou.” Inderdaad ’n sielsverheffende lewensformulier.

  • Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Menswees  |  Visum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.