Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Watter wysheid lê ingebed in groot skares?
Annelie Botes

So ’n paar jaar gelede kyk ek Who Wants to Be a Millionaire. Die deelnemer is ’n man wat sy werk verloor het en geld naarstiglik nodig het. Hy sê as hy by £8 000 kom, sal sy lewe handomkeer verander. Hy wil nie eens vooruitdink aan £16 000 nie.

Toe hy die gewaarborgde £32 000-merk haal, hardloop hy oor die verhoog met gespreide arms, soos gepatenteer deur Allan Donald. Hy noem dit “silly money”. Hy reken om vrae te antwoord en soveel geld daarvoor te ontvang, is silly.

Die spanning hang dik toe hy op £64 000 twee van sy reddingstoue moet gebruik. Op £125 000 haak hy weer vas. Hy dínk hy ken die antwoord, maar is onseker. Al reddingstou wat oorbly, is “ask the audience”. En hy twyfel of hulle sal weet.

Nogtans vra hy die gehoor. Hy sê hy glo in die “intelligence of crowds”. Daar is altyd ’n aansienlike getal mense, reken hy, wat die antwoord ken. Sy twyfel verdubbel toe die meerderheid die antwoord gee waarop hy gehoop het. As hy én die skare verkeerd is, val sy prysgeld finaal terug na £32 000.

Sonder om te murmureer volg hulle die reëls van ’n intelligente skare. Want dis die moedersmelk wat hulle ingegee is.

Maar onder naelbyt-omstandighede waag hy die kans, want £32 000 is ieder geval silly money en meer as waarvan hy ooit kon droom.

Daar vlieg hy daardie aand met Allan Donald-vlerke weg met £250 000. Dis ’n verstommende R5 miljoen rand.

In 2014 berig DieBurger Oos-Kaap van ’n Japannese sokkerskare wat in Brasilië bedroef moes toekyk hoe hul span ’n wêreldklas-sokkerwedstryd sleg verloor. Pleks daarvan om verwoed te verniel, of af te brand, of teenstanders en die skeidsregter te wil vermoor, het hulle blou vullissakke uitgehaal wat hulle na die wedstryd saamgebring het, en met stilverslae gesigte die stadion skoongemaak. Élke flentertjie wat rondlê.

Sedertdien is dit ’n lofwaardige kenmerk van Japannese skares. Ongeag wen of verloor, of in watter stad of land ’n wedstryde gespeel word, of hoeveel hulle bestee het om die reis aan te pak, hulle ruim op. Dis ’n bewys van die gewetens-intelligensie van ’n skare; van ’n opbouende volkpsige gevul met goedgeefsheid en respek.

Dis te danke aan fyn opvoeding van kindsbeen af. Vanaf hul vroegste jare is Japannese kindertjies daaraan gewoond daar is geen skoonmakers nie. Dis by hulle vanselfsprekend dat húlle die skool en terrein in ’n puik toestand moet hou.

Dis merkwaardig dat skares tydens protesoptogte in Japan deur owerhede gemaan word tot vrede. ’n Skare móét die roete volg en by die ure hou waarvoor aansoek gedoen is, en móét die polisie se opdragte gehoorsaam. Onder geen omstandighede mag hulle verkeer blokkeer of rommel strooi nie en hulle word aangemoedig om vullissakke saam te dra.

Sonder om te murmureer volg hulle die reëls van ’n intelligente skare. Want dis die moedersmelk wat hulle ingegee is.

Nou wonder ek hoe meet ’n mens alhier die kwaliteit van ons moedersmelk.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Vrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.