Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ween, Bloemfontein, jou stadsaal is weg
Gert Coetzee

Ween, o Bloemfontein, jou stadsaal is weg. Baie inwoners rou oor hul afgebrande stadsaal. Briewe en oproepe met herinneringe stroom na Volksblad.

“Onthou jy hoe ons volkspele daar gehou het dat die geveerde houtvloer sulke golwe maak?” “Hoe ons politieke vergaderings gehou het? “Hoe dié verslaggewer só en só daar beleef het?”

As deel van die roufase kom woede en aggressie na vore. Hartseer oor ’n vergane tyd wat vir altyd verby is. Asook die vrees en onsekerheid wat die vernietiging van die bekende bring.

En wanbegrip daarvoor dat die stadsaal afgebrand is. Met voorbedagte rade. Asof iets nie aan die brand gaan slaan as jy vure aansteek nie.

Die wonderlikste ding – op die ergste moontlike negatiewe manier bedoel – is die raaisel wat nou rondom die afbrand van die stadsaal heers. Hoe almal onskuldig is. Niemand daarvoor pa staan nie. Kop skud daaroor dat so iets kon gebeur.

Die toppunt van die strategiese ontkenning is die ANC se koddige verklaring verlede Vrydag – twee dae ná die brand – dat hy nóú ingegryp het en die twee partye – Samwu en die Mangaung-metro – sover gekry het om met mekaar te praat. Waaragtig.

Intussen bly die stadsaal afgebrand.

Dis so goed as om die suiker uit die koffie te wil haal. Samwu en die metro is juis maaksels van die ANC, wat homself weer bewys as ’n party wat die skeiding van magte net verstaan wanneer dit hom pas. Die vermiste Olly Mlamleli, wat soos ’n Marie Antoinette van ouds nie ’n saak met haar werkers het of met die dispuut wat sy uit hoofde van haar burgemeesterskap moes oplos nie, is ’n direkte aanstelling van Ace Magashule. Die geagte premier is sedert die ramp – want die verwoesting van die stadsaal ís ’n ramp – ook vermis in aksie. En Olly is steeds burgemeester.

Ook die munisipale werkersvakbond gaan nie by selfondersoek – wat’s dit? – en ingryping uitkom nie. Sy beste flou verweer is dit was nie sy lede wat die brand gestig het nie, maar onbekende boewe van ’n Derde mag. Waaragtig.

Pule Molalenyane se pad na die nasionale Samwu-voorsitterskap het deur Mangaungse ANC-politiek geloop.

’n Ingeligte waarnemer wys wel daarop dat my spesiale rubriek oor die stadsaal-brand verlede Vrydag nie korrek was met die verwysing daarna dat in die tyd van Thabo Manyoni, vorige ANC-burgemeester, nou uitgewerp, geen verwoestende stakings plaasgevind het nie. Met ’n berig uit 2011 daarby wat staaf dat stakende munisipale werkers waterskade aan die Glaspaleis veroorsaak en ook die stadsaal probeer afbrand het.

In die Vrystaatse (en Mangaungse) ANC-magstryd as ’n mikrokosmos van die nasionale leierstwis, bevind Manyoni en die einste Molalenyane hulle nou buite die dampkring van die Magashule-faksie. Dit is juis die ding met die ANC, of eintlik van alle politiek – dat eenkant nie klinkklaar net goed en die teenkant net sleg is nie.

Alles in die land gaan nie skielik reggestel word as – en dis ’n groot as – die Ramaphosa-kamp die Zuma-kamp einde vanjaar lig nie.

In die Vrystaat het Magashule steeds sy oog op die pos van nasionale ANC-sekretaris-generaal. Ace is juis weer deur Motheo as sy kandidaat vir Vrystaatse ANC-voorsitterskap in Augustus benoem. Skuif hy op na die nasionale topses-leiers, is sy pos – en die premierskap hier – oop. Mlamleli wat haar oog op die premierskap gehad het, is uit Motheo se ses benoemdes vir leierskap weggelaat.

Soos Ramaphosa vir (Dlamini-)Zuma nasionaal teenstaan, is Manyoni die verwagte teenstander van Magashule hier. Moenie oornag skielike wonderwerke verwag nie.

Intussen bly die stadsaal afgebrand.

Meer oor:  Afgebrand  |  Stadsaal  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.