Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Weermag kan nie einde aan bendegeweld maak

Baie mense glo die ontplooiing van die weermag op die Kaapse Vlakte sal help om bendegeweld hok te slaan. Maygene de Wee is egter nie so seker nie.

Die toneel in die Samora Machel-plakkerskamp in Philippi waar ’n aanvaller onlangs uit ’n huis op lede van die polisie se bende-eenheid geskiet het. Foto: Facebook

Die weermag was ook in die vroeë 2000’s op die Kaapse Skiereiland, spesifiek die woongebiede wat bekend staan as die Kaapse Vlakte, ontplooi.

Die doel was om die polisie te help om bendegeweld en die destydse misdaadvlaag te bekamp.

Die weermag is weer in Desember 2012 in Kaapstad se bendegeteisterde gebiede ingeroep. Woonbuurte soos Lavender Hill, Steenberg, Mitchells Plain, Hanover Park, Manenberg, Elsiesrivier, Belhar, Bonteheuwel, Nyanga en Bishop Lavis was vir ’n wyle stil, want die bendelede het gaan laag lê.

Die inwoners van Kaapstad was gelukkig oor die soldate in hul midde en het hulle verwelkom en uitgesien daarna om die feestyd vir ’n slag sonder vrees te geniet.

Wéér is daar die hulpkreet: Stuur die weermag om die polisie te kom help!

Die stilte en vrede was egter van korte duur. Die weermag se ontplooiing is mos nie permanent nie en ná Kersfees in 2012 is die soldate onttrek en na hul basisse teruggestuur.

Nodeloos om te sê het die bendegeweld weer opgevlam.

In 2019 gaan die gebied stééds gebuk onder bendegeweld. Elke dag is daar berigte van mense – bendelede en onskuldiges, onder wie mans, vroue en kinders – wat in die strydende bendes se kruisvuur sterf.

Wéér is daar die hulpkreet: Stuur die weermag om die polisie te kom help!

Politieke partye soos die DA, DA-raadslede en die nuutverkose premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, herhaal die versoeke.

Wat moet die weermag doen?

’n C130 Hercules-vliegtuig met troepe van Upington wat ontplooi gaan word in gebiede in die Kaapse Skiereiland wat deur bendegeweld geteister word, land Vrydag op die Ysterplaat-lugmagbasis in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Maar wáármee moet die weermag kom help?

Met polisiëring? Dit is nie ’n mandaat wat die weermag het nie. En hoe lank sal hulle in die Kaap, spesifiek op die Kaapse Vlakte, moet bly om presies wát te doen?

Dink inwoners van die Kaapse Vlakte dat die weermag se teenwoordigheid die bendebedrywighede sal beëindig?

Vrae soos dié is nie juis gewild nie, maar voordat julle my wil kruisig en op ’n brandstapel plaas, laat ek net sê ek is ’n inwoner van die Kaapse Vlakte. Ek het in Bishop Lavis, in die hartjie van daai township se gangland, grootgeword.

Ek ken gangsters, ek ken gangsters se kinders, ek ken gangs, ek ken gang warfare . . .

Die destydse leiers van die Americans in Bishop Lavis, twee broers, het gewoon in dieselfde straat waar ek my verstand gekry en grootgeword het.

Ek ken gangsters, ek ken gangsters se kinders, ek ken gangs, ek ken gang warfare . . .

Sodra die weermag ontplooi word, sal die bendes laag lê. Dis wat hulle in die verlede gedoen het. Hoekom sal hul nou iets anders doen?

Of hulle sal uitwyk na ’n ander township waar die polisie- en die weermag nie ontplooi is nie.

Met die ontplooiing van die weermag in die verlede was daar bloot ’n tydelike gevoel van vrede en kalmte, maar nie meetbare en blywende suksesse nie.

Wat sal help?

Kinders van Marikana in Philippi-Oos tydens Bheki Cele, minister van polisie, se besoek aan die gebied Sondag. Foto: Jaco Marais

Wat is dan die oplossing? Ek weet nie. Ek weet nie eens of daar een gekry sal word nie.

Wat ek wel weet, is dat beter polisiëring nodig is. (Mense kan gerus weer herinner word daaraan dat soldate nie opgelei is om te polisieer nie, hulle is opgelei om oorlog te maak.)

Ons het ’n polisiehoof in die Wes-Kaap nodig wat die belange van die inwoners – álle inwoners: swart, bruin en wit – op die hart dra.

Ons het polisielede nodig wat die kans gegee word om ondersoeke te doen. Ons het ’n toegewyde speurderkorps nodig wat uitsluitlik op bendebedrywighede fokus. Ons het ’n polisiediens nodig wat deur die inwoners vertrou word.

Ons het ’n polisiebestuur in die Wes-Kaap nodig wat politieke en binnegevegte laat staan en gehoor gee aan hul mandaat – om misdaad te bekamp.

Ons het ’n vervolgingsgesag nodig wie se staatsaanklaers hand aan hand met ondersoekbeamptes loop om dossiere en klagstate voor te berei wat sal sorg dat misdadigers lank agter tralies bly.

Gewone polisielede, die manne en vroue in blou wat die ondersoeke moet doen, wat sigbare polisiëring moet doen en inligting moet insamel, sal nooit hul werk kan doen terwyl hul bevelvoerders probeer om mekaar uit te werk nie.

Ons het polisiebeamptes nodig wat nie sal toelaat dat hul bevelvoerders hulle as pionne gebruik om persoonlike vetes te besleg nie.

Polisielede, én politici, wat met misdaad verbind word, moet in hegtenis geneem word.

Ons het ’n regstelsel nodig wat strenger optree en byvoorbeeld nie so maklik borgtog toestaan nie.

Ons het ’n vervolgingsgesag nodig wie se staatsaanklaers hand aan hand met ondersoekbeamptes loop om dossiere en klagstate voor te berei wat sal sorg dat misdadigers lank agter tralies bly.

Ons het politici nodig wat die inwoners van die Wes-Kaap wíl help, wat saam wil sit om ’n tafel sodat ons met mekaar kan praat en saam kan besluit wat die beste pad vorentoe is.

Wat kan die gemeenskap doen?

Maygene de Wee

Ons het ’n gemeenskap nodig wat eienaarskap neem van die maatskaplike euwels in ons midde. Ons kan nie die polisie vir alles blameer nie. Hulle kan net soveel doen.

Begin voor jou eie deur vee, Mevrou. Jy weet jou seun behoort aan ’n bende, jy weet jou seun en sy makkers smokkel met dwelms, jy weet jou seun en sy makkers hou onwettige vuurwapens in jou huis aan. Jy weet, maar jy hou jou horende doof en siende blind.

Ons het ’n maatskaplike stelsel nodig wat programme aanbied wat ons jeug besig en uit die moeilikheid kan hou.

Ons provinsiale en nasionale regering moet begin om dienste aan inwoners te lewer, veral aan dié in ons townships.

Die joernalis en politieke ontleder Karima Brown het gevra dat ons biblioteke later moet oopbly. Ek beaam dit.

Waar is die samewerking tussen die verskillende sektore van die samelewing? Waar is ondernemings se betrokkenheid by die gemeenskappe wat hulle ryk maak? Waar is hul maatskaplike beleggings in die gemeenskappe?

Hoekom is daar nie meer plekke van veiligheid vir jeugdiges wat die risiko loop om by bendebedrywighede betrek te word nie?

Wat het geword van maatskaplike werkers in skole? Bekostigbare rehabilitasiesentrums vir dwelmverslaafdes?

Hoekom is die bambani-program, wat deel was van gemeenskapsveiligheid by skole, afgeskaf?

Hoekom word die gemeenskapspolisiëringsforums deur die polisie as die vyand beskou die oomblik wanneer hulle krities teenoor die polisie raak?

Waar is die samewerking tussen die verskillende sektore van die samelewing?

Waar is ondernemings se betrokkenheid by die gemeenskappe wat hulle ryk maak? Waar is hul maatskaplike beleggings in die gemeenskappe?

Op die Kaapse Vlakte is daar ’n gesegde vir mense wat nie hul deel wil bydra nie: “Maak soos ’n ruler en ‘line’ van die jaart.”

Dis ook my antwoord vir diegene wat nie wil help soek na oplossings vir ons probleme nie: “Maak soos ’n ruler en ‘line’ van dié jaart.”

* De Wee is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Kaapse Vlakte  |  Weermag  |  Polisie  |  Bendegeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.