Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Wees bevrees, Zuma . . .
Van die deelnemers aan die optog Saterdag in Harare toe derduisende Zimbabwiërs na Staatshuis opgeruk het en op pres. Robert Mugabe se bedanking aangedring het. Foto: The sunday mail / Zimbabwe

As Jacob Zuma ’n drinker was, sou hy Sondag ’n bottel brandewyn met Coke afgesluk het terwyl hy na die drama in Zimbabwe op televisie kyk.

Cyril Ramaphosa het dalk ook ’n dop gedrink, maar hy het iets gehad om te vier.

Wees bevrees, Nommer Een, wees baie bevrees . . .

Die geskiedenis en politieke dinamika van Tunisië, Egipte, Jemen, Libië en Sirië verskil ingrypend. En tog, die vonk van populêre weerstand in Tunisië in Desember 2010 het gou soos ’n veldbrand oor al dié lande versprei – die sogenaamde Arabiese Lente.

Die geskiedenis en politiek van Zimbabwe en Suid-Afrika is eweneens baie verskillend en die meeste parallelle wat so gereeld tussen die twee getrek word, is ongeldig.

Maar die vonk van weerstand teen die tiran Robert Mugabe het klaar oor die Limpopo gewaai. Nie ’n vuurbol nie, net ’n vonkie, maar dit gaan beslis hier ’n impak hê.

Zuma en Suid-Afrika wéét vandag: Selfs die voorste Teflon-manne, die beste van die onoorwin­likes, kán omvergewerp word.

Dit is nie die weermagtenks of die massaoptogte wat Zuma se­nuagtig behoort te maak nie. ’n Militêre intervensie hier by ons is nie moontlik nie, en aan optogte is ons almal gewoond.

Dit is die 200 lede van die Zanu-PF se sentrale komitee wat uitbundig dans en sing nadat hulle besluit het om Mugabe, sy vrou, Grace, en van sy topluitenante summier in die pad te steek.

Dieselfde mense wat jare lank, en tot baie onlangs nog, vurige verdedigers van Mugabe was.

(Terloops, ek is seker Zuma sou die helfte van Mugabe se middelvinger-toespraak Sondagaand nie verstaan het nie – hy het woorde soos vicissitude, assuage en ame­liorate gebruik.)

’n Filmmaker van Harare sê gister vir my een van die jong Zanu-PF-heethoofde wat hy onlangs verfilm het waar hy MDC-lede aanval, was Sondag een van die voorbokke wat Mugabe-plakkate en -straatname afgeruk het.

Dis manteldraaityd in Suider-Afrika.

Dis manteldraaityd in Suider-Afrika.

Wie kan nog onthou hoe PW Botha se eie kabinet skielik in 1989 gatomgeswaai het en hoe selfs sy getrouste vriende hom in die rug gesteek het?

Zimbabwiërs het die laaste week hul besware teen Mugabe geformuleer: korrupsie, nepotisme, armoede, werkloosheid en die onaanvaarbaarheid van ’n politieke dinastie.

Klink dit bekend vir jou Suid-Afrikaanse ore?

Nkosazana Dlamini-Zuma is g’n Grace Mugabe nie en is nie meer met Zuma getroud nie, al dra sy nog (weer?) sy trouring. Maar baie Suid-Afrikaners trek ’n parallel tussen Mugabe wat sy vrou sy opvolger wou maak en Zuma wat dit met sy eksvrou wil doen.

Die mense van Zimbabwe was sielsmoeg van Mugabe se wanbestuur en magsmisbruik; van hulle skaam vir hul staatshoof en sy vrou.

Suid-Afrikaners is ewe moeg vir en skaam oor die Zuma-Gupta-kabaal se kaskenades.

En skielik kry ons – of liewer, die ANC – ’n boodskap: Julle hoef hom nie te duld nie. Draai nóú of gaan saam met hom onder.

Ek reken dít gaan in Desember se ANC-leierskapsverkiesing ’n verskil maak.

Gelukkig het Suid-Afrika nooit sedert uniewording ’n kultuur gehad waar die militêre mag ’n pro-aktiewe rol in die politiek speel nie – nie gedurende die apartheidsjare nie en nie ná 1994 nie.

Zimbabwe en lande soos Egipte en Turkye het nie dié voordeel nie.

Zimbabwe se politiek draai steeds om ’n struggle-hiërargie, maar ons demokrasie is nie deur die ANC se leër teweeggebring nie, eerder deur druk en onderhandeling.

’n Militêre staatsgreep is die laaste ding waaroor ons bekommerd hoef te wees.

Die uitskop van Mugabe is ’n interne, regstellende skuif van Zanu-PF, wat die mense van Zimbabwe groot hoop gee.

Dieselfde gaan dalk met die ANC en Zuma gebeur.

Meer oor:  Politiek  |  Presidentskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.