Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wees dankbaar vir dít wat jou uitgespaar is
Annelie Botes

Sedert Sondag was ek plat op die matras met ’n koorsige somergriep.

In beurtkragtye wanneer die waaiers stilstaan, het dit gevoel asof my hart wil gaan staan van die drukkende hitte. Maar gelukkig kom beurtkrag ook (tydelik) tot ’n einde.

Lusteloos glip ek deur die televisiekanale op soek na iets om my aandag weg te trek van my ellende – en ek kom af op Body Bizarre.

Dis ’n program oor mense wat aan rare siektes ly en ontstellende liggaamsvervormings het. Dis nie ’n kalmerende program nie, want dit kan aan grusaam grens. Maar immers hou dit my aandag weg van die verlammende somergriep.

Daar word toe vertel en gewys van The Tree Man of Indonesia. Sy naam is Dede Koswara en eens op ’n tyd was hy ’n kranige skrynwerker met ’n gesin.

Toe begin daar met verbysterende spoed vratte en groeisels oral op sy lyf verskyn, veral aan sy hande en voete. Dit lyk soos ’n massa digte boomwortels, of hangende dryfhoutjies. Die mediese term daarvoor is huidhorings. Eers toe ek dit google, het ek die omvang besef.

Sy gesin het hom verlaat, want hy kon nie vir hulle sorg nie omdat hy nie meer sy hande kon gebruik nie.

Sy gesin het hom verlaat, want hy kon nie vir hulle sorg nie omdat hy nie meer sy hande kon gebruik nie. Die afgeleë dorpie waar hy gebly het, het hom verstoot en geglo daar rus ’n vloek op hom. Later kon hy nie self eet, verstaanbaar praat, of lyfhigiëne handhaaf nie.

Die kewers het begin nesmaak tussen die groeisels op sy lyf. Hy het begin wegkruip vir mense, want hy is genadeloos gespot en die gek mee geskeer.

Die toestand was al sorgbarend ver gevorder toe dokters daarvan hoor en ’n hand uitsteek om hom te help. Hoewel hulle aanvanklik suksesvol was met die verwydering van die huidhorings, het dit binne twee weke aggressiewer as ooit begin teruggroei.

Elke jaar het hy twee vrugtelose operasies ondergaan, en moes noodgedwonge teruggaan na die dorpie waar hy ’n verworpeling was. Volgens die internet is hy op 30 Januarie vanjaar in ’n hospitaal dood aan veelvuldige skete wat sy liggaam aangeval het.

Daar lê ek in die bed en hef klaagliedere aan oor ’n koorsblaar, gebarste lippe en lyfpyne.

Daar lê ek in die bed en hef klaagliedere aan oor ’n koorsblaar, gebarste lippe en lyfpyne. Binne ’n week sal dit wel opklaar. Toe wonder ek deur watter louter hel is Dede Koswara.

Hoeveel pyn, eindelose ongemak en wegstamping moes hý beleef? Iewers langs die pad het hy hoop verloor. Amper soos die melaatses wat in die Bybelpoorte sit en bedel vir ’n aalmoes.

Om hooploos te leef, is emosioneel verminkend. Niemand wil aan jou raak of naby jou asemhaal of jou huisvesting gee nie. Jy kan vanweë vingers wat soos houttrosse lyk nie ontslae raak van die kewers in jou huidhorings nie.

Daar in my griepkooi het ek besluit om nooit weer ’n klaaglied te sing oor iets soos ’n koorsblaar nie. Smeer salf daaraan. Die hoop sal nie beskaam nie, en weldra sal dit weggaan.

Maar dáárdie hoop het onomkeerbaar stil­ geraak in Dede Koswara.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Dankbaarheid  |  Siekte  |  Griep
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.