Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wees gegroet, my dierbare papiervriend
Blouwillem

Ek was nie altyd ’n Vrystater nie. Eers later in my lewe die lig gesien. Helder lig. Wye wêreld, sandsteen, vriendelikste mense, opwindendste rugbyspan, mooiste mielies en skaapblad.

En natuurlik die volk se blad. Volksblad, wat ek eers later in my lewe leer liefkry het.

As eenkind (nie ’n eenkantkind nie, net ’n eenkind) het ek soos ’n mal ding enigiets gelees. Trompie, Die Uile, Fritz Deelman en selfs as dit nie anders kon nie, Saartjie, en langtand dié wat my ma vir my gekoop het, soos Wat elke seun moet weet en Te vinnig innig.

Onthou ook, dit was die jare toe ’n muis nog ’n harige diertjie was wat in ’n gat gebly en kaas geëet het en nie ’n ding waarmee jy ’n rekenaar beweeg het nie.

En recycling was wanneer jy ’n ouer broer se fiets geërf het.

Trouens, ek het eers onlangs gehoor dat die menopouse nie ’n stelling op my videomasjien is nie.

In elk geval, terug na lees. Daar was in my kindertyd nog oggend- én middagkoerante.

My pa, as polisieoffisier, het daagliks vier van hulle gekry wat hy saans kon huis toe bring: Transvaler en Vaderland om te sien wat in die nuus aangaan en The Star en Rand Daily Mail om te sien wat die kommuniste in die mou voer.”

Volksblad het gedurende my Vrystaatjare ’n dierbare vriend geword, deur my koshuismaters wat opgegradeer het van koshuisbrakke na nuushonde wat gejag het vir stories.

Leesvraat en nuuskierige agie staan ek vyfuur by die hek en wag vir Pa. Ja, daardie jare het pa’s nie saans gewerk en telge se grootword en aandetes misgeloop nie.

En so raak ek toe gehook aan die opwinding van die koerant, want nes met die willetuin weet jy mos nooit wat elke dag om die volgende draai wag nie. En raak ek “slimmer” en weet van Christine Keeler lank voor enige van my ongeletterde maters. Later het ek ook geleer dat ek nie suksesvol vleis kan braai of selfs vroegoggend koffie drink sonder my koerant nie.

Volksblad het gedurende my Vrystaatjare ’n dierbare vriend geword, deur my koshuismaters wat opgegradeer het van koshuisbrakke na nuushonde wat gejag het vir stories. Thinus, Mike, Fritz, Gert en my woonstelmaat, ou Tom (oftewel Dwarslat).

So is ek dikwels saans of oor ’n naweek (by gebrek aan aksie in Bloem of aan ’n date) saam met Tom koerant toe, waar ek dan tussen honderde swart-en-wit foto’s in die argiewe gaan rondkrap het, sydelings gekyk het hoe ’n koerant “gebeur” of Johan van Wyk se varsste “Stop van myne” kon lees.

Ja, vriende, net in Volksblad kon jy lees van tant Baby van Zastron wat by haar suster in Engeland gaan kuier, van Fanie wat ’n rekordprys op die bulveiling in Trompsburg kry of van Arrie se hole in one op Schoemanpark se baan (nogal op sy verjaardag)!

Nou ja, dan moet ons seker maar muise koop, maar waarmee ons gaan braai as daar nie meer papiernuus is nie, weet nugter alleen.

Rus in vrede, my dierbare ou papiervriend.

Meer oor:  Blouwillem  |  Vrystater  |  Koerant  |  Volksblad  |  Media  |  Papiervriend
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.