Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wees liewer ’n bittereinder as ’n bitterbek

’n Profeet vir Nuwejaarsvoornemens is ek gewis nie, maar miskien bied 2018 tog ’n kans om oor te begin; om weer jouself sonder skaamte in die oë te kan kyk.

Dalk staan jy ook, soos ek, gekwes voor ’n spieëlruit. Plek-plek verlore en alleen. Windverwaaid ná nog ’n jaar wat eers jou binneste uitgeruk en toe binnestebuite uitgespoeg het.

Dit was in soveel opsigte ’n onstuimige jaar en baie van ons kan ’n lysie maak van die dinge wat ons snags laat rondrol het; die seerdinge wat ons uitgeboul het.

Jou lysie verskil dalk van myne, maar dit sluit moontlik ook die fisieke of selfs simboliese dood van ’n hartsmens in, of ’n terugslag in jou beroepslewe, ’n gebroke hart of ’n stukkende gemoed. Net jy sal weet . . .

Nou staan jy – enkele dae voor die begin van die nuwe jaar – nakend voor die einste spieël, maar jy herken jouself nie meer nie. Selfs jou glimlag lyk minder eg en meer na ’n frons.

Die refleksie in die spieël lyk nog vaagweg bekend, maar dis ’n anderster jy. Jy kyk, asof vir die eerste keer, met verbasing na al die letsels wat jy vanjaar bygekry het. As jy mooi kyk, is dit nie soseer lyfletsels nie, maar eerder houe teen die kop. Kneusplekke wat jy in die stoeikryt van die lewe opgedoen het.

Jy veg nou omtrent daagliks ’n sielestryd wat jou nie net in jouself en jou eie vermoëns laat twyfel nie, maar ongelukkig ook in die goedheid van die mense rondom jou. Selfs dié wat moontlik nog net vir jou goed was.

Selfs jou glimlag lyk minder eg en meer na ’n frons.

Maar dan, wanneer jy dit die minste verwag, fluister daar iewers ’n stemmetjie dat jy nog sterk genoeg is om vorentoe te kan beur; dat die pynpyle van 2017 op byna verrassende wyse miskien tog daarin geslaag het om van jou ’n sterker en beter mens te maak.

Ja, jy moes dalk soos ’n fietsryer swaar teen die opdraand uittrap, maar jy het in soveel opsigte ook as mens gegroei.

Jy het wonder bo wonder elke dag oorleef – selfs die dae wat jy moontlik omgeslaap en weggebid het. Daarop kan jy met reg trots wees.

As ek dan nou ’n Nuwejaarsvoorneme móét maak, sal dit wees om nie toe te laat dat die seerkry en swaarkry van die afgelope jaar my vergiftig nie; dat ek nie ’n bitterbek sal wees wat ander te na kom omdat ek self seergekry het nie, maar eerder ’n bittereinder wat moedig voortveg.

Dit is so maklik om ná ’n terugslag of sukkelpad die middelpunt van jou wese te verander; om vir alles en almal wat oor jou pad kom kwaad te wees oor dinge wat eintlik niks met hulle te doen het nie.

Maar tot hiertoe en dan nie ’n enkele tree verder nie.

Ek kies hoop. Ek kies positiwiteit. Ek kies om te glo dat die meeste mense eintlik goed is; dat ek sélf ten spyte van al my foute inherent goed is en dat dit in 2018 stukke beter sal gaan. Ek gaan nie lê omdat ek seergekry het nie.

Meer oor:  Ivor Price  |  Nuwejaar  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.