Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wees môre ’n held; wys Julius jy wil land bou

Hy hoop iets goeds kan uit die dood van Brendin Horner kom, het Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag aan boere in die Oos-Vrystaat gesê.

Charles Smith

Hoewel die moord op die jong Horner die land naby breekpunt gebring het, het baie die week gebeur wat die druk laat verlig. Nog voordat regses onder die vaandel van boere en EFF-troepe môre opruk na Senekal om weerskante van die Sandrivier stelling in te neem, wil dit voel of die donker wolke van 10 Oktober effens gewyk het.

In dié ruimte het ek verlede week pres. Cyril Ramaphosa gevra om Brendin Horner se naam te noem, sy dood en plaasmoorde te erken. En hy het, in ’n kragtige presidensiële brief waarin hy nie net sy dood genoem het nie, maar ook die gruwelike misdaadvlakke in die land erken het.

“Sy moord moet elkeen van ons kwaad maak en ontstel,” het hy Maandag geskryf. En: “Dit is in sulke oomblikke dat daar van ons gevra word om as Suid-Afrikaners na mekaar uit te reik in deernis, empatie en in solidariteit.”

Horner moes nooit gesterf het nie. Ook nie die boere, hul vrouens, werkers en elke kind, vrou en man wat elke dag sterf nie. Geen mens is nog gered nie, maar die president maak die deur oop om te praat oor die land wat verswelg word in bloed.

Soos dr. Theodore Petrus van die departement antropologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) skryf oor die vraag of ons ’n kultuur van geweld in Suid-Afrika het. “Om die kultuur van geweld te verander, moet ons die omgewing van geweld verander.”

Korrupsie en swak dienste is die broeikas vir geweld.

Net ons kan dié omgewing verander waarin geweld floreer. Die ANC-regering het hom by monde van die president daartoe verbind. Korrupsie en swak dienste is die broeikas vir geweld. Townships is afgeskeep, maar kaders ry met duur karre. As dit so is dat polisielede ook by die veediefstalsindikate betrokke is, is hulle deel van die komplot teen die land en sy mense.

Maar nou kan ons praat. Cele, wat ongewild is ná uitsprake in KwaZulu-Natal, het na die Vrystaat gery, met Horner se gesin gepraat en die boere te woord gestaan. Hy het onderneem om die boere se verslag waarin die polisie betrek word by misdaad met ’n span speurders te ondersoek.

Terselfdertyd het Vrystaat Landbou en die Vrystaatse regering in Bloemfontein ’n ooreenkoms onderteken om die regstreekse verband tussen veediefstal en intimidasie op plase, brandstigting en selfs moord op boere en plaaswerkers te ondersoek. Daar was in die week minstens twee plaasaanvalle in die Vrystaat, maar baie het tog in een week gebeur.

Ironies genoeg het dit ’n onsinnige oomblik van André Pienaar en die bestormers geverg om die ANC te laat luister. Maar nog só ’n oomblik kan môre die land laat brand.

Moenie Julius Malema help om die land te vernietig nie. Wees die held wat hy nie is nie. Een wat uitreik, bou en lewens wil verander.

Meer oor:  Charles Smith  |  Bheki Cele  |  Brendin Horner  |  Senekal-Protes  |  Held
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.