Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Willie Spies: Wees realisties oor onteiening
Willie Spies

In revolusies word wetboeke nie gevolg ten einde die ommekeer aan die hand van die bestaande orde te laat geskied nie.

Die hele aard van ’n revolusie is dat die ommekeer buite die riglyne van die wetgewende status quo geskied. Dit is wat van ’n revolusie ’n revolusie maak.

Dit is met hierdie gegewe as vertrekpunt dat gebeure rakende die gronddebat bekyk moet word.

Die aanslag op die status quo van grondbesit is slegs ’n voortsetting van ’n revolusionêre proses wat tot nou toe opgeskort of minstens vertraag was.

Die afgelope drie weke (wat ’n lange tyd in die politiek van ons land!) het ’n paar gebeure hulself afgespeel: Die proses van openbare sittings oor die beoogde wysiging van art. 25 van die Grondwet is afgehandel.) Voordat die proses afgehandel is, het pres. Cyril Ramaphosa in sy hoedanigheid as ANC-president aangekondig die ANC steun die wysiging van die Grondwet.)

Die aanslag op die status quo van grondbesit is slegs ’n voortsetting van ’n revolusionêre proses wat tot nou toe opgeskort of minstens vertraag was.

’n Vlaag onwettige grondgrype het oor die land heen plaasgevind, van Stellenbosch in die suide tot by Hammanskraal, Kriel en Burgersfort in die noorde.

Waar grondgrype plaasgevind het, was die polisiediens baie huiwerig en selfs traag om die invallers te keer – dikwels het dit eers ’n hofbevel of minstens versigtige onderhandeling geverg om die polisie te oortuig om op te tree.

AfriForum het die departement van landelike ontwikkeling se lys van 195 plase gepubliseer wat geteiken sou word as toetssake om die regering, deur die verantwoordelike minister, in staat te stel om vas te stel hoe die Grondwet verander moet word om onteiening te vergemaklik.

Berigte het bekend geword aangaande die eerste twee plase op die lys. Die eienaar, Akkerland Boerdery, is reeds voor Paasnaweek in kennis gestel dat die plaas onteien is en dat die minister onmiddellik toegang daartoe moes verkry sodat die omstrede Australiese mynboumaatskappy Coal of Africa met mynbou-aktiwiteite op die wildplaas kon voortgaan.

Akkerland se regspan kon gelukkig die summiere onteiening en ontneming deur ’n dringende hofbevel keer. Litigasie oor die saak duur voort.

Agri SA vergader met die ANC-leierskorps en kondig eensydig aan dat hy ’n ooreenkoms met hulle bereik het aangaande ’n oudit van die 4 000 staatsplase om hul waarde te ontsluit. Hoewel dit goed sal wees as só ’n ooreenkoms wel bereik is, is geen verklaring deur die ANC hieroor uitgereik nie.

Ons bevind ons dus in die gronddebat midde-in die voortsetting van ’n revolusionêre proses.

Ons bevind ons dus in die gronddebat midde-in die voortsetting van ’n revolusionêre proses. Om te verwag die drywers van die proses gaan hulle steur aan die ordelike prosesse wat in wetgewing vervat is, en dat ontneming van eiendomsreg nie gaan gebeur voordat al die wette daar is nie, is ongelukkig naïef.

Zimbabwe was ’n goeie voorbeeld hiervan. Die hooggeregshof het op 21 Desember 2001 in die saak Commercial Farmers Union v Minister of Lands Agriculture and Resettlement, Zimbabwe and Others ten spyte van groot druk ’n bevel gemaak wat terugskouend beskou kan word as die laaste poging van die hoogste hof om die regering van Zimbabwe tot die oppergesag van die reg te laat terugkeer.

Op 28 November 1997 het ’n lys van 1 471 kommersiële plase in die Zimbabwiese staatskoerant verskyn. Kort hierna het die regering besluit om summier al die oorblywende plase op die lys te vat.

Nadat Mugabe in 2000 die referendum oor grondwetwysigings verloor het, het totale chaos uitgebreek en besetters het kommersiële landbougrond ingevaar.

Grondwetwysigings en wetswysigings in Zimbabwe het eindelik gevolg nadat die grond fisiek gevat is.

In Suid-Afrika moet ons bedag wees op hierdie risiko.

Spies is ’n prokureur by die regsfirma Hurter Spies Ing. in Pretoria.

Meer oor:  Willie Spies  |  Grondgryp  |  Onteiening  |  Gronddebat  |  Grond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.