Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Weg met SAUK se loodswaaiers

Die voorgenome vermindering van die SAUK se personeel is al lank onvermydelik.

Organisasies wat finansieel in die knyp is, kan net oorleef as hulle een van twee dinge doen, en dit is om jou uitgawes te besnoei of jou inkomste te vergroot. Beter nog: doen albei! Aangesien personeeluitgawes ’n groot hap uit die SAUK se totale inkomste neem, is dit voor die hand liggend om daar te snoei.

Johannes Froneman

Want met die ekonomie soos dit is en geen groot oplewing op die horison nie, kan nie verwag word dat die inkomste uit advertensies gou gaan styg nie. Lisensiegeld is ook maar ’n druppel in die emmer. Intussen word dit nie goedkoper om programme of uitsaairegte te bekom nie. Vandaar die jammerlike situasie dat sommige internasionale sport nie eens op radio uitgesaai word nie.

Die gordel moet nie net by die SAUK stywer getrek word nie, maar oral. Ná 24 jaar se roekelose besteding, diefstal en selfverryking is dit nou sulke tyd. Ons land se geld is op. Die staatskas is nie net leeg nie, maar die skuldlas raak onbeheerbaar. Of dit die SAUK of die SAL is, ongebreidelde staatshulp is nie meer ’n haalbare opsie nie – behalwe as die vakbonde die regering teen hul beterwete dwing om nog reddingsboeie uit te gooi.

Tog, dit is ondenkbaar dat die SAUK toegelaat sal word om te sink. Dit is die nasionale uitsaaier. Hy moet net voortgaan, maar dalk op ’n meer beskeie skaal.

Gelukkig besef die nuwe raad hoe die wind waai. Vandaar die planne om 2 000 permanente en 1 500 deeltydse poste af te skaf. Niemand staan onsimpatiek teenoor diegene wat hul werk staan te verloor nie, maar dit is onvermydelik.

Die groot vraag is natuurlik wie jy moet laat loop. Poste moet een vir een geëvalueer word en besluite op grond daarvan geneem word. Dit is ’n taai, maar nodige proses. Maar daar is een riglyn wat sekerlik gevolg moet word, en dit is om die kreatiewe geeste, die mense wat vir goeie inhoud op radio en TV sorg, te behou. In alle billikheid moet ’n mens byvoeg dat goeie advertensiewerwers én ’n doeltreffende administrasie ook nodig is. En daar moet bestuurders wees, maar die minimum.

Kreatiewe skeppers van inhoud het plek gemaak vir onproduktiewe lood­swaaiers. Ek is jammer, maar hulle moet gaan.

Daar is te veel mense wat geen wesenlike bydrae lewer tot die generering van inhoud of inkomste nie.

Dit is wel nie ’n nuwe verskynsel nie. Ek lees juis onlangs ’n argiefbrief van ’n SAUK-man daar uit die 1950’s waarin hy kla dat die plek (die “ou” SAUK) ’n “malhuis” geword het en dat daar net al hoe meer administratiewe mense aangestel word! Wat sou hy vandag sê?

Toe die nuwe bedeling in die 1990’s aanbreek, het sake drasties verander. So is die ou Afrikaanse radiodiens se permanente uitsaaipersoneel tot onder 20 gesny, maar RSG is 24 uur per dag op die lug.

Die fout lê dus nie by ’n tweede omroeper wat soms in die RSG-ateljee is om die nuus te lees nie (soos wat een briefskrywer beweer). Buitemedewerkers word reeds al hoe minder gehoor, soos op ’n Maandagaand, waar aweregse musiekaanbieders weens besnoeiings weggeval het.

Nee, die fout lê in die toringgebou waar honderde, indien nie duisende mense sit wat geen wesenlike bydrae lewer nie.

SAUK-TV het lank grootliks sy eie programme geproduseer, maar nou is dit net nuus- en aktualiteitsprogramme.

Kreatiewe skeppers van inhoud het plek gemaak vir onproduktiewe lood­swaaiers. Ek is jammer, maar hulle moet gaan.

  • Prof Froneman is ’n mediakundige verbonde aan die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Sauk  |  Johannes Froneman  |  Afleggings  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.