Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wegval van die eenheidstaat
Alida Kok

In sy artikel “Die onluste-epidemie: Sewe merkers” skryf dr. Heinrich Matthee dat die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng ’n “wekroep” is dat ons in ’n multipolêre Suid-Afrika leef.

Hoe weet ons dat ons in ’n multipolêre land leef? Ten spyte van die beeld van Suid-Afrika as eenheidstaat, het mag binne-in die samesmelting tussen staat en regerende party en sy patronate al lankal­ gefragmenteer. Nou woed die stryd tussen faksies in die ANC en tussen die sentrale regering en ANC-takke tot op breekpunt.

Toe die staat sy monopolie op die wettige gebruik van geweld verloor, is ’n sluier gelig wat ’n Suid-Afrika van stamme, politieke faksies, misdaadbendes, honger massas, etniese wrywing, provinsiale politiek en kragtige gemeenskapsinisiatiewe onthul het.

Die min gesag en beheer wat ons sentrale regering in KwaZulu-Natal het, stem deels ooreen met ander voorbeelde van Afrika-state. In byvoorbeeld die Demokratiese­ Republiek die Kongo het die sentrale regering in Kinshasa min amptelike insae, gesag en territo­riale jurisdiksie in onder meer die ooste van die land, Noord- en Suid-Kivu.

Op ’n soortgelyke wyse verloor die Suid-Afrikaanse sentrale regering toenemend sy gesag in die streke en gemeenskappe wat buite sy bereik is. Dit geld nie net vir dele in KwaZulu-Natal wat geografies buite die bereik van die sentrale regering is nie, maar ook vir ’n groot verskeidenheid van ruimtes waar die staat in die sosiale kontrak misluk en gemeenskappe uitgelewer is om na hulself om te sien.

’n Korrupte en selfs nóg meer wanfunksionele dominante partystaat bly ons voorland.

’n Beduidende uittog van maatskappye en die diplomatieke gemeenskap na die Wes-Kaap vind ook plaas. Dié migrasie na die enigste provinsie wat deur ’n opposisieparty bestuur word, sal meer momentum kry.

Die skade wat staatskaping aan staatsinstellings aangerig het en die swak prestasie van die ekonomie maak dit hoogs onwaarskynlik dat hierdie stand van sake sal omswaai. ’n Korrupte en selfs nóg meer wanfunksionele dominante partystaat bly ons voorland. Terwyl ons heelwat demokratiese regte verloor, word selfs die mees basiese daarvan – om te kan stem – ook deur die wanorde geraak.

Weens die aanbeveling van oudregter Dikgang Moseneke dat die munisipale verkiesing weens die Covid-19-pandemie uitgestel word, is dit onduidelik of die geskeduleerde verkiesing op 27 Oktober gaan plaasvind.

Indien die munisipale verkiesing nie so gou as moontlik as instrument gebruik word om te poog om munisipaliteite te begin herstel nie, sal ’n konstruktiewe plaaslike politiek nog verder buite die beheer of invloedsfeer van opposisiepartye, koalisies en aktiewe burgers wees. Veral plattelandse munisipaliteite sal nog verder agteruitgaan.

Ons het met verlede week se plundery ’n omwenteling ondergaan na toenemende wanorde. Met die staat en reg en orde wat afwesig is, bevind heelwat gemeenskappe hulself in ’n see van vyandigheid­ en in dié stadium lyk dit of die enigste inisiatiewe om herstel suksesvol te laat plaasvind in gemeenskappe gesetel is.

’n Groot fout wat die private sektor nou kan maak, is om herstel en ontwikkeling net eksklusief te laat plaasvind. Dit is juis nou tyd vir private inisiatiewe om ook uit te reik en aan gemeenskapsdiplomasie deel te neem.

Die oppervlakkige eenheid van die voormalige eenheidstaat het nou weggeval om plek te maak vir betekenisvolle interkulturele skakeling en diplomatieke bande tussen gemeenskappe in ’n multipolêre samelewing. Ons moet mekaar help om te floreer. Dis hoe ons die see van vyandigheid om ons kan kalmeer.

  • Kok is ’n dosent in politiek aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Politiek  |  Korripsie  |  Eenheidstaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.