Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wel geleenthede in onsekere tye

Dit verg daaglikse sprokkelwerk, dié grootliks roetinelose toekluistering. Die takkies en twygies van my gedagtes lê immers elke oggend die wêreld vol. Dis alleen met fyn moeite dat ek hulle opnuut in ’n bondeltjie bymekaar raap, voordat een weer losglip en verklaringloos net bly lê.

So baie alledaagse sekerhede is aan’t verskuif, vervloei. Vir baie is daardie sekerhede so fundamenteel soos die wete dat jy vanaand kos op die tafel sal kan sit. Dat jou vermoëns en vaardighede waarde het sodat jy hulle darem teen ’n skaflike prys op die ope mark van die hand kan sit. Dat jou oggendse opstaan sin het.

Twee ander sekerhede in ’n kwynende Afrikaanse kultuurwêreld was Vrouekeur en Rooi Rose, wat jare en dekades lank gereeld uitmuntende skryfwerk aan die leespubliek gebied het. En werk vir hul dapper bendes joernaliste en vryskutskrywers geskep het.

Met die uitspreek van ’n bose abrakadabra is hulle nou die dag onseremonieel vort. Twee redakteurs spreek hul skok en verslaentheid uit. Maar wat bly oor van trane?

Tog blyk die behoefte aan Afrikaanse leesstof in dié vreemde tyd in die teenoorgestelde rigting te beweeg. Op sosiale media lees ’n mens dat leessindikate – verloopte bibliofiele, letterdiewe – hul hande op PDF-weergawes van gewilde Afrikaanse romans lê, wat hulle dan met misplaaste mildheid oor WhatsApp aan ander storielustiges versprei.

Sophia Kapp, Afrikaanse taalindoena en die skrywer van ligterige vroueleesstof met houding, dreig selfs om voortaan haar pen in Engelse ink te begin doop.

Sophia Kapp, Afrikaanse taalindoena en die skrywer van ligterige vroueleesstof met houding, dreig selfs om voortaan haar pen in Engelse ink te begin doop. Hoe kan daar van skrywers verwag word om hulle maande of jare lank aan ’n teks af te sloof as hulle nie mettertyd iets blinks in die sak kry nie?

Alles, wil ’n mens die Nigeriese skrywer Chinua Achebe buite konteks uit napraat, is aan’t uitmekaar val. Aan’t tuimel. Maar wat die Afrikaanse leefwêreld betref, kom dit al ’n lang pad. Die bose virus het die nekslagte maar net bespoedig en verhewig.

Dié tyd van onsekerheid en nood het Afrikaanses – so wil ’n mens wens – laat besef dat dit wat hulle lank as vanselfsprekend aanvaar het, iets kosbaars is wat lewend gehou móét word – boeke en tydskrifte en, ja, koerante.

As ons heelhuids die krisis oorleef, sal daar ’n nuwe, 21ste-eeuse vergadering by ’n nuwe, heel ánder Heemstede moet wees. Die vergaderinggangers sal nie weer bebaarde ooms in lang swart jasse wees nie. Van oraloor sal hulle moet kom. Die geleenthede wat 2020 ironies genoeg en heel toevallig oopgebreek het, sal hulle soos granaatpitte moet loswring. En pitte sal nódig wees.

Ook vindingrykheid en ’n vermoë om vaardighede uit ’n vars perspektief te kalibreer en te waardeer. Maar geleenthede ís daar onteenseglik. ’n Mens lees immers dat in die nasleep van die virus daar in ’n sekere sin ’n groter fokus op die plaaslike sal wees, dat die groeiende hegemonie van die groot wêreldtale dalk gestuit sal word.

Ook bied ons skielik en dramaties verhoogde aangewesenheid op die internet nuwe vryhede. In die universiteitsektor, byvoorbeeld, is daar ’n verrassende nuwe blik op hoe meertaligheid nou makliker as voorheen sinvol gerealiseer kan word.

As lesings ruimskoots aanlyn aangebied word – die Universiteit van Cambridge het pas aangekondig dat dít in die komende akademiese jaar hul nuwe norm sal wees – gaan die deur ook hier ter plaatse verruklik oop.

Al die tragedie en swaarkry ten spyt, bied wat ons nou deurmaak geleenthede wat aangegryp moet word. Ylings en met ywer sal ons die kans moet waarneem en die stukkies tak wat nog rondlê, nader hark. En laastens probeer om ’n sprokkelster daaruit byeen te bind.

  • Meiring is ’n Gautengse regsgeleerde.
Meer oor:  Sophia Kapp  |  Jean Meiring  |  Boeke  |  Skryf  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.