Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Welig in ons eie onkruidfontein
Gert Coetzee

Bloemfontein, toenmalige Rosestad, word nou ons eie Vetplantstad, maar moet Onkruidfontein heet. Want die welige onkruid, rommel, vrot paaie, verdwene padstrepe en geroeste straatpale is nie die droogte se skuld nie. Al is dit wat Qondile Khedama, munisipale propagandahoof, onlangs oor die vieslike vuil stad beweer het.

Enigiemand met oë in die kop en sonder politieke kaderverpligtinge kan sien hoe Bloemfontein verval. En die stad loop nie voor met agteruitgang nie. In ’n kompetisie tussen Vrystaatse, Noord-Kaapse en ander dorpe en stede sal dit bars gaan om te bepaal wie se slaggate die grootste, wie se rioolgemors in buurte en riviere die stinkste, wie se strate die stukkendste, wie se hope swart flentersakke die onooglikste en wie se onkruid die weligste is.

As jy dink dis erg, gaan kyk hoe lyk dit in die townships. Daar is rommelsakke vier maande laas afgehaal, sê ’n kollega.

Dit is nie die droogte se skuld nie.

Enige stelsel verg drie dinge wat dit laat werk – ’n struktuur, prosesse en inspanning. Dan sal dit resultate lewer.

Suid-Afrikaners raas en blaas oor ons land se realiteite waaraan hulle nie ’n duit kan verander nie.

Anders gestel: Daar is realiteite en dan die respons op die realiteite wat die resultate bepaal. Eerder as dat jy jou inspan om die stel realiteite met mag en krag te verander, fokus op jou respons wat met die minste moeite die effektief-ste resultate die gouste lewer.

Suid-Afrikaners raas en blaas oor ons land se realiteite waaraan hulle nie ’n duit kan verander nie. Al is dit waar – soos dat ANC-munisipaliteite pateties is.

Soos beswaardes wat kla hulle betaal reeds munisipale belasting en hoe kan enigiets ekstra nou van hulle verwag word om hul plek in stand te hou.

Daardie knorgatte wat kwaad vir die lewe is, het Nick Serfontein gister op Monitor op RSG gesê. Hy is die boer wat andere bemagtig om ook te boer. Sy brief aan pres. Cyril Ramaphosa her-rig denke oor grondhervorming.

Pleks van net ’n spul verlore energie, is daar ook talle wat hul moeite, wysheid en tyd inploeg in hul respons op die realiteit – en so die grootste moontlike verskil aanrig. Volksblad berig daagliks oor hulle. Die mense wat Happy Valley, langs die ANC-premierswoning, opruim. (Sien die premier en burgemeesters nie die gemors raak nie en pla dit hulle nie?).

Marquard waar oupas en oumas vir R50 “opgeveil” word (winskoop!) as ’n bydrae tot die gemeenskapsoord.

Bethulianers wat hul gevandaliseerde dorpsoord opknap. Die vetplantprojek in Bloemfontein, soos gister berig is.

Ter stawing daarvan dat waarde só ontsluit en resultate só behaal word, watter beter teenvoorbeeld dan as juis die Mangaung-metro-munisipaliteit (of enige ander) van ’n stelsel wat nie werk nie. Met struktuur; prosesse, inspanning en resultate as kriteria.

Daar is ’n struktuur, maar dis oorlaai met politiek dienswillig onkundige kaders wat weens gebrek aan inspan-ning, verspilde energie (op alles buiten werk) en die fokus op alles behalwe gehaltegedrewe prosesbestuur geen re-sultate behaal nie. Nul waarde word teen buitensporige vergoeding gelewer. Dan stort die stelsel in duie, soos wat siender- oë in die Onkruidstad gebeur. Met wapperende swart sakke wat opstapel, soos voor Sewe Damme die laaste dae.

Dié mislukte mikrostelsel herhaal homself in ons provinsiale en nasionale makrostelsel. Met die tyd, energie en belastinggeld wat aangewend word om die staat ten bate van elite-kaders se sakke te kaap. En hoogs betaalde propagandiste wat ons met flou ekskuse anders wil wysmaak. Die ratte knars, maar hulle gaan nooit ten volle uitgespu word nie. Tensy die politieke stelsel volkome verander, wat nie in verkiesing 2019 gaan gebeur nie. Dis die realiteit.

Welkom in Suid-Afrika!

En dankie aan almal wat self ’n voorbeeld stel om die positiewe revolusie resultaatgewys te lei.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Bloemfontein  |  Vullis  |  Vetplante  |  Dienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.