Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Welkom in die era van vele keuses, deure
Esté Gross

Partykeer verdiep jy jou in ’n fliek, tot daar skielik ’n lang man reg voor jou in die teater kom sit.

Die storielyn raak moeiliker om te volg en met ’n wiegende nek al agter hom, probeer jy om die onderskrifte te lees. Iewers verloor jy die draad van die draaiboek, onseker hoe die storie gaan ontvou.

Dié lang man maak deesdae oral sy verskyning, veral in die era van onsekerheid waarin ons nou is. Sodra jy gemaklik raak, skuif daar ’n hindernis voor jou in.

Suid-Afrika het sy eie porsie van onsekerheid. Grondonteiening, armoede, die droogte en staatsinstellings wat met wankelrige bene probeer staande bly, maak die balanseertoertjie ’n uitdaging. Maar dit is nie net hier waar die poppe dans nie.

Die wêreld is besig met ’n wals en om oplossings vir probleme soos die klimaatskrisis, immigrasie en die vierde nywerheidsrevolusie te vind.

Die Britte kry weer daagliks Brexit vir ontbyt, en dit wakker klaarblyklik net ’n gesonder eetlus aan. Die onsekerheid het nou al 40% van dié land se burgers in kranige blikkieskosversamelaars verander. Hulle is onseker oor wat die toekoms ná Brexit vir hulle inhou.

Die handelsoorlog tussen die VSA en China sorg ook vir opwinding op die wêreldmarkte.

En die Grieke wag en sien of daar werklik vir hulle ’n nuwe daeraad aangebreek het ná die verkiesing.

En die Grieke wag en sien of daar werklik vir hulle ’n nuwe daeraad aangebreek het ná die verkiesing.

Ten spyte van dié onstuimige see waarin ons ons bevind, meen Steven Pinker, een van die invloedrykste mense van ons era en die skrywer van die boek Enlightenment Now (2018) dat nóú eintlik die beste era is om in te leef. Hy is van mening dat die wêreld nog nooit voorheen soveel vooruitgang en voorspoed beleef het nie. En hy staaf sy navorsing met indrukwekkende statistieke. Probleme is volgens Pinker bloot gulde geleenthede. Sommige kenners het hom wel al behoorlik gekapittel oor sy optimisme . . .

Gelukkig het jy nou meer as ooit tevore die keuse in watter rigting jy jou bootjie wil laat vaar. Jy is nie verlore op die see nie, al dink jy dalk so.

In die fliek The Truman Show probeer die vervaardiger alles om Truman in sy nagemaakte wêreld te hou, maar selfs die storm en bliksemstrale wat hy geskep het, kon nie genoeg vrees by Truman inboesem om sy seevaart te stuit nie. Toe sy boot eindelik deur die stel se muur skeur en hy die trappe na die uitgang ontdek, vind hy ’n werklikheid wat hy nooit eens geweet het bestaan nie.

Ons lewe wel in ’n era van onsekerheid, maar ook in die era van baie deure. Dit is jou keuse by watter deur jy wil instap of gaan uitstap . . . Die draaiboek hang van jou af. En die deur waarna jy soek is dikwels nader as wat jy dink.

Gross is ’n vryskut-omroeper, -nuusleser en -joernalis.

Meer oor:  Esté Gross  |  Era  |  Deure  |  Keuses  |  Klimaatkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.