Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Welvaart nie te skei van vryheid
Roelof Botha
Roelof Botha

Heelwat gewag is die laaste paar dae gemaak van die verbetering in Suid-Afrika se internasionale rangorde op die jongste wêreldindeks van ekonomiese vryheid.

Dié jaarlikse indeks meet die mate van ekonomiese vryheid van 180 lande op grond van vier hoofgroepe van aanwysers, naamlik die oppergesag van die regstelsel; die grootte van die regering; die doeltreffendheid van regulasies; en die openheid van markte.

Teen die agtergrond van die verswakking in verskeie ander aanwysers van Suid-Afrika se internasionale mededingendheid, veral die afgradering van die land se staatskuld tot rommelstatus deur twee invloedryke kredietgradeerders, is hierdie welkome nuus.

Daar bestaan egter ’n paar kantaantekeninge wat die entoesiasme oor dié verbetering laat taan. Eerstens was die verbetering in die algehele telling vir ekonomiese vryheid piepklein en het dit gepaardgegaan met verbeterings in die tellings van die meerderheid van lande en ook die wêreldgemiddelde.

Tweedens is Suid-Afrika se huidige rangorde van nommer 77 (uit 180 lande) swakker as twee jaar gelede, toe die land in posisie nommer 72 was.

In die derde plek moet in gedagte gehou word dat Suid-Afrika deel is van die groep wat slegs as matig vry beskou word en sleg afsteek teen drie ander Afrikalande: Mauritius, Botswana en Rwanda.

Daar is ’n allemintige 56 plekke tussen Mauritius en Suid-Afrika se rangordes.

Daar is ’n allemintige 56 plekke tussen Mauritius en Suid-Afrika se rangordes, en lande soos Me­xiko, El Salvador en Tonga stof ons ook steeds uit.

Vierdens het Suid-Afrika teruggesak in die aanwyser van die integriteit van die regering, en is daar weinig hoop dat daar vanjaar ’n verbetering sal intree. Die uiteindelike bevindinge van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping behoort hierdie aanwyser vanjaar tot verder benede die wêreldgemiddeld af te druk.

’n Vyfde rede waarom die land se huidige rangorde van ekonomiese vryheid met ’n knippie sout geneem moet word, is die ex post-aard van die indeks – dit word deur historiese aanwysers bepaal.

Suid-Afrika vaar in die 2018-resultate steeds bogemiddeld op die gebied van eiendomsreg, maar enige toekomstige grondwetlike wysiging wat die beskerming van private eiendomsreg in die gedrang bring, sal ongetwyfeld ’n nekslag aan ons status van effens bogemiddelde ekonomiese vryheid toedien.

Die antwoord lê in groter ekonomiese vryheid en mobiliteit van arbeid, kapitaal en ondernemerskap.

Dit sal ook ’n negatiewe invloed op sommige van die ander aanwysers uitoefen.

Die indeks van ekonomiese vryheid word nou reeds ’n kwarteeu nagevors en gepubliseer en toon ’n onteenseglike positiewe verband tussen die mate van ekonomiese vryheid wat in ’n land heers en die welvaart van sy inwoners.

Besteebare inkomstes en lewenstandaarde in lande wat markbeginsels en individuele ekonomiese vryheid voorop stel, is in die reël aansienlik hoër as in lande waar die staat se rol in die ekonomie omvattend is en waar oormatige regulering voorkom.

Die omvangryke data onderliggend aan die indeks van ekonomiese vryheid bevestig ook dat lande wat ’n hoë prioriteit aan inkomste-herverdeling toeken, nie daarin slaag om die lewenstandaard van sy inwoners noemenswaardig te verhoog nie.

Die antwoord lê in groter ekonomiese vryheid en mobiliteit van arbeid, kapitaal en ondernemerskap; die beskerming van alle soorte van eiendomsreg; die afwesigheid van omvattende korrupsie; en die handhawing van ’n onafhanklike regstelsel.

Daar lê duidelik heelwat werk voor om te verseker dat Suid-Afrika se posisie op die indeks van ekonomiese vryheid nie vanjaar gly nie.

Meer oor:  Roelof Botha  |  Welvaart  |  Ekonomie  |  Ranglys  |  Vryheid  |  Rangstelsel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.