Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Werk hard ter wille van ander
Willie Spies

Dié week het ons weer ons skoolgaande kinders gaan toevertrou aan ’n skool om hulle in die volgende jaar te begelei op die wonderlike pad van leer en onderrig.

Twee van ons kinders het hul hoërskoolloopbaan by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria begin. My besoek aan die skool was vir my ’n openbaring van die ongelooflike resultate wat bereik kan word wanneer ’n instelling met die regte bestanddele – toewyding, tradisie, roepingsbewustheid en trots – bedryf word.

Die skool was pas weer bo-aan die lyste van toppresterende skole op grond van die getal onderskeidings wat matrieks verwerf het (775), asook die gemiddelde getal onderskeidings per leerling, naamlik 3,52.

Asem word nog opgehou oor die vraag of daar genoeg plek in Gautengse skole gaan wees vir al die nuwe inskrywings nadat Panyaza Lesufi se gesentraliseerde registrasie- en plasingstelsel nou ten volle in werking getree het. Vroeë aanduidings was dat duisende leerlinge nog nie geplaas is nie en dit lyk of die stelsel die toeganklikheid van skole eerder bemoeilik as om dit te vergemaklik.

Die matriekuitslae van 2018 wat onlangs bekend gemaak is, toon dat 172 043 matrieks met universiteitstoelating geslaag het.

Volgens navorsing van die Universiteit Stellenbosch in 2008 het sowat 68% van matrieks met toelating destyds universiteit toe gegaan.

Volgens navorsing van die Universiteit Stellenbosch in 2008 het sowat 68% van matrieks met toelating destyds universiteit toe gegaan. Die syfer sal moontlik nou effens hoër wees.

Suid-Afrika se universiteite het gesamentlik plek vir net meer as ’n miljoen studente. In 2017 was daar 1 043 102 ingeskrewe studente aan ons universiteite. Van hulle was 60% by residensiële universiteite ingeskryf en 40% of nagenoeg 400 000 by Unisa.

Universiteite se deurset-koers, met ander woorde die persentasie van eerstejaars wat uiteindelik gradueer, is ongelukkig onaanvaarbaar laag. Dit word op net meer as 50% geraam. Net meer as die helfte van studente wat inskryf, gradueer dus uiteindelik.

In lande soos Denemarke en Brittanje is dié syfer meer as 80%.

Indien die koers van suksesvolle deurset verhoog kan word, sal daar oorgenoeg plek wees vir matrikulante wat hul studie aan universiteite wil voortsit.

Volgens Statistieke Suid-Afrika is die persentasie armes onder diegene met ’n naskoolse kwalifikasie slegs 8,4%.

Daar is net een manier waarop studente seker kan maak dat hulle wel hul graadstudie voltooi, en in die kortste moontlike tyd: met harde werk. Dit is nie net ter wille van jouself nie, maar ook van diegene wat wag op ’n plek om hul studie voort te sit.

Volgens Statistieke Suid-Afrika is die persentasie armes onder diegene met ’n naskoolse kwalifikasie slegs 8,4%. Die persentasie armes onder diegene met slegs matriek is 35,6%, wat steeds hoog is, maar aansienlik minder as die 79,2% armes onder diegene met geen skoolopleiding nie.

Die oplossing vir die armoedeprobleem in Suid-Afrika lê in goeie onderwys van skool- tot universiteitsvlak.

Maar belangriker nog as om te sit en wag dat die staat goeie onderwys op verskillende vlakke verseker, kan elke skoolkind wat hard werk om ’n goeie skoolopleiding te verseker en universiteitstudente wat hul kant bring om hul studie in die minimum tyd af te handel inderwaarheid bydra tot die oplossing van die armoedeprobleem deur in die kortste moontlike tyd hul plek op universiteit weer aan ’n volgende geslag beskikbaar te stel.

Die bekendstelling vandeesweek van die werk deur Solidariteit se Skole- ondersteuningsentrum onder leiding van dr. Danie Brink, om skole die geleentheid te bied om beste praktyke te deel en daardie praktyke toegankliker te maak, is in dié verband ook ’n welkome ontwikkeling. ) Spies is ’n prokureur en direkteur in die regsfirma Hurter Spies Ing.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.