Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Werklikhede dwing CR in ’n (goeie) rigting

“Sy beste staatsrede tot nog toe”, meen die politieke ontleder Ralph Mathekga. En die ekonoom dr. Roelof Botha het pres. Cyril­ Ramaphosa se staatsrede glad 95% toegeken.

Barnard Beukman

Hier gaan die punt wel baie meer getemper wees, want daarvoor was daar steeds te veel algemene stellings, vaaghede, onduidelikhede, herhalings van vorige toesprake en selfs dubbel-sinnighede.

Byvoorbeeld: Bedoel hy pen­sioenfondse gaan nie gebruik word vir Eskom-skuld nie of probeer hy aanvoer dit kan tog op ’n veilige manier gedoen word?

Maar daar is positiewe punte:

  • Die finale instemming dat hernubare energie in die kragnetwerk kan vloei, onafhanklike kragvoorsieners kan sake doen en plaaslike owerhede elders as by Eskom krag kan aankoop.

Opsigtelik was die gejuig in DA-banke en die stilte in ANC-geledere. Die DA is tans besig met regstappe om van dié stappe te bewerkstellig en die ANC het tot nou toe gesloer. Want hy is bang vir steenkoolmyn-vakbonde en wil waarskynlik die toekenning van sakeregte en lisensies soveel moontlik onder die vaandel van “bemagtiging” vir die kamerade uithou.

Hoe hy dit ook al plooi en nie wil etiketteer nie – sterk elemente van private mededinging is hier binnegelaat en dit gaan ’n dinamika skep wat hy nie gaan kan beheer nie. Ondoeltreffende diensleweraars met ’n te groot salarisrekening, wat familielede aanstel, met onproduktiewe werkers en swak diens, gaan uitgestof word deur flukse, kundige en kreatiewe entrepreneurs.

Die groot vraag oor alles is of dit doeltreffend uitgevoer kan word.

Dis die vrees. Dus is die stappe nie noodwendig uit oortuiging nie, maar afgedwing deur werklikhede van ’n Eskom wat bloot in duie kan stort. Tog is dit ingrypend en belangrik.

  • Die eksplisiete blamering van staatskaping vir die situasie by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), waar Dudu Myeni, een van oudpres. Jacob Zuma se spesiale vriendinne, die hoofkaper was. Dit is ’n sterk waarskuwing op sy eie party se banke gemik.

En die uitdruklike verklaring dat die SAL nie langer van staatsgeld afhanklik kan wees nie. Weer eens, wat bedoel hy werklik? Want dit gaan nie gebeur terwyl lugroetes en personeelgetalle gehandhaaf word nie.

Hy, Tito Mboweni, Pravin Gordhan en enigiemand met gr. 8-wiskunde weet dit. So, is hulle al sluipend om die vakbonde besig om die handdoek voor die markkragte in te gooi? Of maak hy mooi geluide terwyl daar steeds ’n versluierde sosialistiese beheerkomplot is?

Die tyd sal leer, maar die werklikhede druk die kwessie ook na die ope mark.

  • Al was dit ’n enkele sin, was sy steun vir Mboweni se omstrede (onder Staliniste) ekonomiese groeiplan van groot belang vir die ANC se interne dinamika en nie iets wat Ace Magashule en kie in die toespraak sou skryf nie. Dit gee Mboweni hopelik genoeg rugsteun en ’n mandaat vir ’n sinvolle begroting. Maar die donker wolk van inkrimping van staatsbesteding beteken onderwys- en gesondheidsgeld word gesny om skuld te delg.
  • Nog belangrike aspekte is die verwysing na die vergete Nasionale Ontwikkelingsplan en die hele aantal tegniese kolleges wat ingevolge die plan uiteindelik gebou gaan word. Daarmee saam ook twee spesialisuniversiteite. Dit sal misplaaste druk op universiteite verminder.

Die groot vraag oor alles is of dit doeltreffend uitgevoer kan word. Met ’n groot skeut voordeel van die twyfel en omdat Siya­ Kolisi, Bok-kaptein, ook verwelkom is, kry die toespraak ’n gangbare 6 uit 10.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.