Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wetenskap loop ook deur onder fopnuus en klik-aas
Prof. Gerhard van Huyssteen

‘Bilingual speakers more flexible thinkers, think of time differently – study”

Dié kop oorstroom die afgelope week my Facebook.

Fopnuus en klik-aas word normaliter met politieke beriggewing of infoadvertensies ­geassosieer. Die ander kandidaat is soms wetenskaplike beriggewing. In dié verband merk die taalkundige Mark ­Liberman op: “On the whole, the whole system of science and engineering does a pretty good job of creating knowledge and technology. On the whole, the media do a pretty good job making information available to the public. Put them together­, and the whole is noticeably­ less responsible than the parts.”

Hoe verder ek lees, hoe meer kom ek agter dat ­Liberman heeltemal gelyk het: Die kop het eintlik niks met die gerapporteerde studie te doen nie!

Die twee navorsers waaroor dit hier gaan, Emanuel Bylund (nogal van die Universiteit Stellenbosch) en Panos Athanasopoulos, het drie eksperimente gedoen: een met Sweedse moedertaalsprekers, een met Spaanse moedertaalsprekers en een met sprekers van albei tale.

Die Swede konseptualiseer tyd as lengte (ons sê in Afrikaans ook byvoorbeeld “ ’n kort tydjie gelede” of “oor ’n lang tyd”), terwyl die Spanjaarde tyd uitdruk in hoeveelhede (soos ons ook byvoorbeeld “baie/min/genoeg tyd” kan oorhê).

Die tweetalige respondente in hul studie kon maklik tussen dié twee metafore spring sonder om die metafoor van die een taal in die ander taal te gebruik.

Wat hulle oorspronklik met hul eksperimente wou aantoon, is dat taal ’n invloed kan hê op mense se voorstelling van tydsverloop (ter ondersteuning van die bekende Whorf­hipotese). Hulle kom tot die gevolgtrekking dat taal se effek op hoe mense dink nie ’n óf-óf-fenomeen is nie, maar eerder hoogs dinamies en konteksgebonde is.

Die menslike verstand is dus nie geprogrammeer volgens jou moedertaal nie, maar jy kan juis maklike spronge doen tussen die metafore van twee verskillende ­tale.

Dit is die gevolgtrekking van die oorspronklike wetenskaplike artikel – niks meer, niks minder nie. Dit beteken hoegenaamd (en ek wil dit beklemtoon: hóé-gé-náámd) nie dat tweetalige mense “more flexible­ thinkers” – soos die kop suggereer – as eentalige mense is nie.

Hierdie “insident” is eintlik ’n pragtige gevallestudie in die verhouding tussen die wetenskap en joernalistiek, en die invloed daarvan op lesers. Wetenskaplikes doen navorsing en publiseer resultate in ’n gerenommeerde wetenskaplike tydskrif.

Die wetenskaplikes se universiteit sien dan ’n geleentheid om mediadekking vir die universiteit te kry en publiseer dan ’n kwasipopulêre berig daaroor op die universiteit se webwerf. Die arme navorsers word dan dikwels gedwing om bevatlike uitsprake te doen sodat “die gewone mense dit kan verstaan”. En daar loop alles skeef . . .

Want vervolgens rapporteer die hoofstroommedia oor die navorsing, iemand in die nuuskantoor moet ’n verteerbare kop skryf en dan kry jy goed soos: “Bilingual speakers experience time differently from people who speak only one ­language, study finds”, of: ­“People who speak two lan­guages actually experience ­time differently”.

Tot slot word dié koppe dan aangegryp deur die wêreld en wyd versprei. Net soos wat fop­nuus versprei word om ’n bepaalde ideologie te ondersteun, só word sulke koppe ook versprei om ’n bepaalde ideologie te versprei. En daarmee moet ons (as wetenskaplikes én lesers) baie, baie, baie versigtig wees . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.