Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wetstoepassing se ineenstorting
Johanna van Eeden

Die “ineenstorting” van staatsdepartemente is geen verrassing nie, veral nie vir Jan en San op straat wat die afwesigheid van dienslewering eerstehands ervaar nie.

Dit lyk wel asof die besef stelselmatig ook deurdring tot parlementslede.

In die laaste tyd is daar op verskeie vergaderings van parlementêre portefeuljekomitees verwys na die “ineenstortings”.

So het Bheki Cele, minister van polisie, byvoorbeeld “gewaarsku” dat polisiëring in Suid-Afrika “tot niet” kan gaan as die ernstige probleme in die forensiese afdeling nie reggeruk word nie. Nugter weet wie Cele waarsku, want as minister is dit sy verantwoordelikheid om te sorg dat sake in sy departement klopdisselboom verloop.

Wat wil hy hê moet ons doen? Dis nou behalwe die belasting wat ons reeds betaal sodat die polisie hul werk kan doen en behalwe die private veiligheidsmaatskappy wat dié wat dit kan bekostig, betaal ómdat die polisie nie hul werk doen nie.

Cele wil nou Scotland Yard en die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) se hulp inroep.

Cele wil nou Scotland Yard en die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) se hulp inroep. En nee, dis nie om die “korrupsie deur polisiegeneraals” waarna Cele verwys het, uit te snuffel nie. Dis om te help met die agterstand van net meer as 117 000 DNS-monsters waarby die polisie se forensiese dienste nie kan uitkom nie weens die “ineenstorting”.

Dinsdag is daar in die portefeuljekomitee oor polisie “kommer uitgespreek” oor onreëlmatige uitgawes wat in die afgelope boekjaar sowat R452 miljoen beloop het. En dis nie dat die polisie niks doen nie . . . in baie gevalle het hulle so baie gedoen dat daar in dieselfde boekjaar R522 miljoen se siviele eise teen hulle ingestel is weens die manier waarop hulle die publiek hanteer.

Maar ons moet geduldig wees, want daar is ’n “regrukplan” op die tafel.

Net so het Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, pas senior bestuurders gelas om ’n “regrukplan” op te stel. Dis nou omdat die departement van justisie “op die rand van ineenstorting dobber”. Dié departement het een van daardie unieke finansiële situasies wat gewone salaristrekkers se koppe laat draai. Want hoe onderbestee jy R758 miljoen in dieselfde boekjaar as wat jy R1,2 miljard onreëlmatig bestee?

Dit verg ’n spesiale soort staatsamptenaar om dié somme te laat klop.

Dit verg ’n spesiale soort staatsamptenaar om dié somme te laat klop.

Die minister skryf die “ineenstorting” toe aan hoë vlakke van onstabiliteit in die leierskorps, ’n gebrek aan gevolge vir werknemers, poste wat nie gevul is nie, min beslissende optrede en ’n gebrek aan ’n departementele kultuur. Alles – soos Glynnis Breytenbach, DA-LP, tereg uitwys – faktore wat direk verbind kan word met swak leierskap.

Maar selfs vir dié “ineenstorting” is daar vir diegene wat dit kan bekostig, ’n Plan B: Trek Gerrie Nel nader sodat hy die howe kan dwing om jou saak aan te hoor . . .

Die privatisering van dienste wat deur die staat gelewer moet word, is nie nuut nie. Dit het gelei tot die stelselmatige ontstaan van ’n parallelle staatsdiens (nie te verwar met die parallelle regering wat die Zuptas geskep het nie) vir diegene wat dit kan bekostig.

Maar wat van dié wat dit nie kan bekostig nie? Slagoffers van geweld wat sekondêre slagoffers word omdat wetstoepassing “ineenstort”? Of is dit om hulle – veral die vroue en kinders – te troos dat ons elke jaar vir 16 dae strikkies dra en toesprakies hou? Vandag juis begin daardie 16 dae-veldtog, nogal om dié tema: “Orange the World: Fund, Respond, Prevent, Collect!”

Terwyl ons eintlik net morele leierskap, die doeltreffende besteding van belastinggeld en ’n funksionele staatsdiens nodig het – 365 dae van die jaar.

Meer oor:  Johanna Van Eeden  |  Polisie  |  Korrupsie  |  Ineenstorting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.