Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wetteloosheid verf EFF in hoek
Henry Jeffreys
Henry Jeffreys

Die winkelgroep Clicks se omstrede sjampoe-advertensie wat onderskeid tussen swart en wit hare getref het, verdien al die kritiek wat dit toegeswaai is.

Wat dit nié verdien het nie, was die EFF se gewelddadige protes teen die advertensie, wat landwyd soos ’n veldbrand versprei het.

Met sy “vreedsame protesaksies” het die EFF maar net weer bewys wat baie mense al lank vermoed – dat hy nie ’n geleentheid laat verbygaan om sy voorkeur vir wetteloosheid en bandeloosheid te laat seëvier nie.

Die EFF verkondig graag dat hy ’n voorstander is van vreedsame protes, net om hom dan keer op keer skuldig te maak aan gewelddadige optrede, vandalisme en die intimidasie van onskuldige omstanders.

Geweld is vir die EFF ’n normale staat van politieke uitdrukking en, gelukkig, lyk dit of in die nasleep van die Clicks-voorval die party nou uiteindelik gesien kan word vir dit wat hy werklik is en in die praktyk verteenwoordig.

Dit is tyd dat die party tot verantwoording geroep word vir sy blatante wetteloosheid wanneer hy politieke punte probeer aanteken. En, soos gewoonlik, is die party se leier, Julius Malema, wat hom duidelik as ’n toekomstige president sien, aan die voorpunt en die hoofaanstigter van sy party se oorgawe aan wetteloosheid onder die dekmantel van vreedsame protes.

Die EFF het nou al male sonder tal bewys hy het geen erg aan wetsgehoorsaamheid in sy openbare aksies nie.

Die EFF het nou al male sonder tal bewys hy het geen erg aan wetsgehoorsaamheid in sy openbare aksies nie.

Die party se ontwrigting van die parlement die laaste jare is tekenend van sy voorliefde vir wettelose ontwrigting, selfs op forums waar daar basiese verwagtinge van dekorum behoort te geld.

Die Clicks-groep het ’n interdik bekom om die ontwrigting en beskadiging van sy winkels te keer, maar die EFF het hom eenvoudig daaraan afgevee.

Kan só ’n party vertrou word om eendag dalk die land te regeer?

Die party se ondersteuners is reeds daaraan gewoond om te maak en breek soos hulle wil. Dit is ’n djin wat nie sommer in sy fles teruggedruk sal kan word die dag as die EFF dalk die leisels van regering bekom nie.

Malema en sy luitenante in die EFF se leierskorps blyk ’n ingebore afkeer van reg en orde te hê. Die meeste van hulle kom van die ANC-jeugliga, waar Malema, ’n voormalige leier van die regerende party se jeugvleuel, sy aptyt vir weerbarstige ontwrigting ontwikkel het. In die ANC is Malema se vlerke geknip eers toe hy Jacob Zuma se leierskap uitgedaag het. Die einste Zuma vir wie hy in 2007 so hard gewerk het om verkies te word as ANC-leier.

Kan só ’n party vertrou word om eendag dalk die land te regeer?

Die EFF gee graag voor dat hy glo in die demokratiese proses. Die party neem deel aan demokratiese verkiesings en het tot nou bo verwagting goed gevaar, soveel so dat die party van nêrens gekom het om vandag die derde grootste parlementêre party in die land te wees. Sommige waarnemers het selfs voorspel dat die EFF ’n wesenlike bedreiging is vir die DA se posisie as amptelike opposisie in die parlement.

Die Clicks-protesaksie kan net hierdie siening van die party verander, soos reeds gesien kan word in kommentaar in die media.

Die EFF staan sterk wanneer dit kom by die steun van sy lede en sy kieserskorps. Dieselfde kan nie gesê word van die kieserskorps in die breë nie. As die EFF hoop om eendag te regeer, sal hy tot die deursnee-kieser moet deurdring en dié het geen aptyt vir die party se willewragtigheid nie.

Dit is onwaarskynlik dat Suid-Afrikaanse kiesers die krag van geweld en intimidasie sal verkies bo die krag van die demokratiese stembus. Dit is ’n werklikheid wat die EFF een of ander tyd sal moet in ag neem.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Eff  |  Henry Jeffreys  |  Betoging  |  Clicks-Advertensie  |  Misdaad  |  Geweld  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.