Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Leopold Scholtz: Wie is bobaas in manipulasie?

Is die nuusmedia reg is – en daar is geen rede om die teendeel te glo nie – gaan dit woes in die ANC met die oog op die leiersverkiesing wat binnekort plaasvind.

Leopold Scholtz

Blykbaar loop Cyril Ramaphosa voor teenoor Nkosazana Dlamini-Zuma, maar ’n mens moet vermoedelik nie te veel gewig hieraan heg nie. Soos die Amerikaners sê: “It ain’t over until the fat lady sings” 

Nee, die probleem is die wyse waarop die opponerende kampe mekaar beveg. ’n Mens lees van bedrae van tot R100 000 wat afgevaardigdes na die ANC-kongres aangebied word om vir die “regte” kandidaat te stem, van hofsake wat voorberei word, selfs van ANC-lede wat vermoor of andersins geïntimideer word.

Dit alles maak dit eintlik onmoontlik om koppe akkuraat te tel. Vandag neig kameraad X dalk na die een omdat hy – sê maar – R100 000 aangebied is; môre neig hy na die ander omdat naas die bedrag ook ’n adjunkministerskap in die vooruitsig gestel word.

’n Mens sal eers werklik weet as die uitslag amptelik beskikbaar word. En selfs dan sal daar altyd vrae oor die leiersverkiesing hang. Wat sê dit alles van die ANC? Vir my sê dit dat die ANC nie alleen hopeloos verdeeld is nie, maar moreel heeltemal kapot.

Dan hoor jy soms die versugting dat alles sal regkom as die ANC in hemelsnaam weer kan word wat hy in die tyd van Oliver Tambo en Nelson Mandela was. Dis waar dat die ANC tans ’n morele dieptepunt beleef, maar die wortels van wat tans gebeur, strek ver terug in die verlede.

Kom ons kyk na die raadgewende konferensie wat die ANC in 1985 in Kabwe, Zambië, gehou het. 

Dat dit gedoen is slegs ná twee muiterye in kampe in Angola, waar die kaders groter verantwoordbaarheid van die leiding geëis het, sê al iets. Die hele konferensie is tot in die fynste besonderhede georkestreer. Die lede van die SAKP, wat die leiding van die ANC oorheers het, het vooraf in die geheim oor die rigting van die konferensie gekoukus.

Die ANC het self verreweg die meeste afgevaardigdes benoem. En toe enkeles die probleme in die ANC-kampe aan die orde wou stel, het ’n ooggetuie later geskryf, het Chris Hani hulle doodgeskree en dit kategories gestel dat die nasionale uitvoerende komitee (NUK) die konferensie sou lei en dat hulle hul mond moes hou.

Ook is ’n nuwe NUK “gekies”. Vantevore het Tambo ’n lys name versprei met die “versoek” dat afgevaardigdes slegs uit diegene moes kies.

Niemand wat nié op die lys was, het uiteindelik die pyp gerook nie. En bowendien was byna al die gekose name dié van SAKP-lede – iets waarvan die gewone afgevaardigdes nie op die hoogte was nie.

Tambo self was natuurlik geen ingeskrewe lid van die SAKP nie, maar ’n studie van sy openbare uitsprake bring aan die lig dat die ideologiese verskille tussen hom en sy SAKP-makkers flenterdun, selfs byna volledig afwesig, was. Trouens, met sy minsame, vriendelike persoonlikheid is hy heeltemal deur die SAKP-leiers oorheers. Sy historiese rol was om die ANC/SAKP-alliansie in moeilike tye bymekaar te hou, nie om werklik leiding te gee nie.

Inderwaarheid was die konferensie in Kabwe ’n tipiese Stalinistiese gebeurtenis waar niks aan die toeval oorgelaat is nie.

Die groot verskil met vandag is dat geen geld ter sprake was nie.

Teen dié agtergrond is die uitslag van vandeesmaand se ANC-kongres hoogs onseker. Die groot vraag is bloot of Ramaphosa of Dlamini-Zuma sake beter kan manipuleer.

Die wêreld kyk belangstellend toe.

* Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.