Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wie is kiesers se kruisies werd?
Raymond Willemse

Voor einde vanjaar, as die Covid-19-pandemie nie ’n stokkie daarvoor steek nie, gaan Suid-Afrikaners wéér daardie moeilike keuse moet uitoefen.

Agter watter verdienstelike politieke party gaan hulle hul kruisie by die stembus trek? Weens die pandemie en bekommernisse oor ’n derde of selfs vierde vlaag van die virus later vanjaar, asook onsekerheid oor die land se entstofprogram, is daar vrae of die munisipale verkiesing sal plaasvind.

Julius Malema, leier van die EFF, het onlangs gesê die verkiesing (wat waarskynlik tussen Augustus en November gehou sal word) moet eerder tot 2024 uitgestel word. Hy voer aan dat politieke partye nie genoeg tyd gaan hê om voor die verkiesing veldtogte te voer nie. Hy meen ook die verkiesing en verkiesingsveldtogte kan superverspreiders van die virus wees.

Dis prysenswaardig dat Malema dink aan die gesondheid van kiesers. Die Verkiesingskommissie en die gesondheidsdepartement moet tog seker reeds planne hê om te verseker dat die verkiesing nie enige gesondheidsrisiko vir kiesers inhou nie?

Daar is ook ander kenners wat meen dat dit die land miljarde rande sal spaar indien die munisipale verkiesing saam met die provinsiale en die nasionale verkiesing in 2024 gehou word.

In die afwesigheid van behulpsame politieke partye was dit nieregerings­organisasies wat mense te hulp gesnel en dienste gelewer het.

Malema se pleidooi moet wel verwerp word, want op plaaslike vlak kan ons nie nóg drie jaar van swak munisipale bestuur verduur nie. Vir vuisvoos kiesers is dit ’n raaisel waarom politieke partye hoegenaamd verkiesingsveldtogte wil voer. Wil hulle net nog leë beloftes maak?

Die meeste partye was so te sê nutteloos of afwesig toe hulpbehoewende mense hulle die nodigste gehad het. Daarom is veldtogte oorbodig. Partye kan maar bloot beoordeel word op grond van hul optrede ten tyde van die pandemie, toe mense se lewensbestaan bedreig is terwyl politici salarisse mét byvoordele ontvang het.

In die afwesigheid van behulpsame politieke partye was dit nieregerings­organisasies wat mense te hulp gesnel en dienste gelewer het. Dit is dalk tyd dat van dié organisasies daaraan begin dink om tot die plaaslike politiek toe te tree.

Een van dié organisasies is Gift of the Givers, wat ingespring het om dienste te lewer toe die verskillende regeringsfere die land se inwoners weer versaak het.

Dié organisasie het asemhalingstoestelle vir Covid-19-pasiënte en persoonlike beskermende toerusting aan gesondheidswerkers, asook ander toerusting geskenk – sonder enige korrupsie en bedrog.

Toe dele van die Oos-Kaap ’n droogtekrisis ervaar het, het Gift of the Givers sy moue opgerol om boorgate te sink, watertenks en gebottelde water te skenk en voer aan boere te verskaf. Dit is nou terwyl die EFF ’n bohaai oor hare­ opgeskop het.

Saam met ander liefdadigheidsorganisasies het hulle ook gesorg dat duisende mense nie honger gaan slaap nie. Die lof van die nieregeringsorganisasies moet besing word, want sonder hul bystand sou sake in die land nóg meer beroerd gewees het. Hulle gee hoop aan desperate mense.

Suid-Afrikaners het gesien en ervaar watter organisasies ’n hand na hul medemens uitgesteek het en wie dit was wat kwesbare mense wat om hulp aangeklop het, met ’n waterkanon bestook het.

Dit sal maklik wees om ’n kruisie agter Gift of the Givers en ander soortgelyke organisasies se name op ’n stembrief te trek. Daarteenoor verg dit kopkrap oor watter politieke party daardie kruisie waardig is.

  • Willemse is ’n senior redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Raymond Willemse  |  Hulpverlening  |  Gift Of The Givers  |  Covid-19  |  Politic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.