Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wie kan sonder ’n bakkie deur die lewe gaan?
Johan van Wyk

Die naaste wat ek hopelik aan die gevreesde koronavirus sal kom, is net die herinnering aan ’n ryding, die Toyota Corona-bakkie van die 1960’s. Dit was my eerste boerbakkie.

Gemeet aan deesdae se groot, opgewarmde menere wat met hulle breë tekkies in die swaargewigafdeling boks, was die Corona-bakkie ’n nederige kapokgewig.

Hoewel hy met net ’n sakkie sement op sy bak teen ’n opdraande na sy asem gesnak het, en teen 50 myl per uur so begin dwaal het dat jy gewonder het of jou testament in orde is, was hy ’n gewillige, betroubare klein werkesel. Jy kon lief word vir hom.

Weggesak in ’n leersitplek in die luukse, lugversorgde kajuit van ’n Ford Ranger terwyl hy die teer soos ’n groenmielie vreet, dink ek met deernis aan die dae toe ons soggens douvoordag in ysige winterkoue met ’n kombers oor ons bene in die Coronatjie dorp toe gery het. Hy het nie eens ’n basiese verwarmer gehad nie, laat staan nog lugversorging.

Ek moedig hulle ook aan om nie karre te koop nie, maar bakkies. Wie kan dan nou sonder ’n bakkie deur die lewe gaan?

Behalwe in ’n geromantiseerde country-liedjies soos The Judds se “Grandpa (tell me ‘bout the good old days)” was die goeie ou dae waarna baie mense dikwels so terughunker, merendeels ’n gesukkel wat die Afrikaners van daardie tye in versukkeling vasgevang gehou het. Die Afrikaner se veelbewoë geskiedenis en die verskriklike armoede waarin hy verval was, getuig daarvan.

Ek verveel dus nie my kleinkinders met droewige verhale oor destyds se droogte, donkies en sprinkane nie. Ek moedig hulle eerder aan om die geld wat hulle as geskenke op hulle verjaardae kry, nie op nuttelose plastiekspeelgoed uit China, wat die hond in elk geval binne drie dae sal stukkend kou, te mors nie, maar dit te spaar en later goeie aandele daarmee te koop. Een vir een. Dís waar welvaart begin.

Ek moedig hulle ook aan om nie karre te koop nie, maar bakkies. Wie kan dan nou sonder ’n bakkie deur die lewe gaan? Ek was verlief op elkeen wat ek al besit het. Behalwe my eerste dieselbakkie, ’n Peugeot, tydens die oliekrisis van die 1970’s. Hy het my in Frans leer vloek.

Ja, die El Camino was ’n lekker ryding, sag en haastig.

Die een wat die lekkerste gery het? My ou Bloedsap-vriende sal natuurlik sê dit kan net ’n Chevrolet El Camino gewees het. Ja, die El Camino was ’n lekker ryding, sag en haastig, maar vir kerk toe ry op ’n Sondag was die Ford Ranchero die naaste aan my hart. En wanneer dit by boer gekom het, die Ford F100 (outomaties).

My vriend MC Fourie van Ladybrand se seun Dawie, van die Paarl, het pas een klaar gerestoureer. ’n Foto op my selfoon het trane in my oë gebring. Ek oorweeg dit om hom te steel.

Intussen huil ek stilletjies oor my twee kinders wat, terwyl die koronavirus voortwoed, hulle bevind in die laaste plek waar jy nou behoort te wees – ’n vliegtuig vol mense met maskers. My seun in Hongkong en my dogter, van alle plekke, Moskou.

Omdat ek hulle nie meer onder een kombers kan toemaak nie.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Voertuig  |  Kinders  |  Bakkie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.