Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wie mag eerste taalklippe gooi?
Heindrich Wyngaard

Verlede Dinsdag het Die Burger se “50 Jaar gelede” ons herinner aan ’n historiese staatkundige verwikkeling, naamlik dat “die nuwe bedeling wat die Regering vir die Kleurlinge in die vooruitsig gestel het” in Julie 1969 in werking sou tree.

Die Departement van Kleurlingsake sou dan vervang word deur die Verteenwoordigende Kleurlingraad (VKR): “2 Nuwe departemente vir Kleurlinge”, was die hoofopskrif op die voorblad van Die Burger op Dinsdag 25 Maart 1969.

Dit het my aandag getrek in die konteks van verlede naweek se konferensie oor “waarheid en versoening oor Afrikaans”, waar Afrikaanssprekendes oor “die wanpersepsies en verdeeldheid tussen hulle moes praat”.

En uit die terugvoering en beriggewing kan ’n mens veilig aflei dat dit inderdaad ’n geleentheid was waar die “waarheid” openhartig belig en ongemaklikhede blootgelê is, selfs bekentenisse gemaak is om uiteindelik by versoening uit te kom.

Nou wat het dit met die VKR te doen? Wel, dit was een van die vroegste gevalle in ons meer onlangse geskiedenis waar bruin mense moes kies of hulle hierdie apartheid-geïnisieerde instelling sou ondersteun en daarin ’n rol sou speel. Sommige het, ander nie.

En só was dit met vele meer “staatkundige” keuses wat telkens ’n “nuwe bedeling” vir dié gemeenskap(pe) belowe het, waaronder in die besonder die voordele en voorregte (behuising, studiebeurse, werksgeleenthede) wat deur die totstandkoming van die Raad van Verteenwoordigers as deel van die Driekamerparlement teweeg gebring is.

Maar ook, byvoorbeeld, die besluit of jy by die “Kleurling-universiteitskol-lege” UWK moes gaan studeer; of jy jou sport aan die (wit) establishment-kant of die nierassige (Sacos)-kant sou beoefen; of jy verandering aan “die stelsel” van binne probeer bewerkstellig of “die stelsel” gaan beveg deur jou by organisasies soos die UDF te skaar.

Maar soos die digter Adam Small ons by herhaling herinner het, is niemand sonder sonde nie.

Dié situasie het vriendskappe opgebreek, families vervreem, gemeenskappe verskeur. En die verdelingslyne loop vandag stééds – selfs al word daar nie altyd openlik daaroor gepraat nie.

Jy sou dus kon dink dít behoort ’n goeie rede te wees vir ’n openbare gesprek, gelei deur die DAK-netwerk, ’n organisasie vir bruin en swart Afrikaanssprekendes. (Die akroniem DAK staan vir drie Khoi-ikone, Doman-Nomoa, Autshumao en Krotoa.) Toe nie.

Die organisasie het dit egter wel goedgedink om ’n konferensie te hou wat, hoe jy ook al daarna kyk, eintlik maar die vinger na wit taalgenote wys.

Dalk ten regte, as jy in ag neem dat die taal in die verlede deur Afrikaners vir Afrikanernasionalisme en apartheid ingespan is.

Wat dít vir bruin en swart sprekers van die taal beteken het, is by die konferensie raak deur die hoofspreker, prof. Hein Willemse, gestel: “Dit is ontsettend om in jou eie taal as ’n mindere, ’n vreemdeling, ’n gebrekkige kuriosum geag te word.”

Maar soos die digter Adam Small ons by herhaling herinner het, is niemand sonder sonde nie. En dáárom moet ons ook praat (of dalk éérs) oor bruin Afrikaanssprekendes (én Engelssprekendes) se eie aandeel en aandadigheid aan die versterking en instandhouding van wit meerderwaardigheid en bruin ondergeskiktheid.

En is daar iets te sê oor dié dat ons nou van wit taalgenote verwag om bekentenisse en boetedoening te doen terwyl ons ons kinders in Engels grootmaak en weinig omgee oor die afskaling van Afrikaans op talle gebiede; ’n werklikheid wat bepaald die plattelandse bruin Afrikaanse kind as “mindere”, “vreemdeling” en “gebrekkige kuriosum” laat?

Wyngaard is ’n televisie-aanbieder en kommentator oor aktuele sake.

Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Dak  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.