Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wie moet bly en wie moet gly?

Die kabinet gaan beslis verander as Jacob Zuma nie meer die land se president is nie. Barnard Beukman bespiegel oor wat kan gebeur.

Barnard Beukman

Wie moet bly en wie moet gly? Dit is nou wanneer ’n nuwe “pres. Cyril Ramaphosa” (hopelik gouer as later) sy nuwe kabinet saamstel.

Suid-Afrikaners gaan waarskynlik hul wenslysie moet temper, want Ramaphosa kan nie net lede uit sy naelskraapse wenkamp aanstel nie. Ter wille van die verklaarde ANC-eenheid gaan hy die Zuma-kamp en verskeie provinsiale en ander belangegroepe ook in ag moet neem.

Dinge word verdere gekompliseer omdat heelwat ongewenstes die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gehaal het en enkeles selfs die invloedryke nasionale werkkomitee (NWK).

Daar behoort wel redelike nasionale konsensus te wees dat Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne en NUK-lid no. 46, nie ’n kabinetskommeling kan oorleef as die nuwe president enigsins ’n boodskap van korrupsievrye geloofwaardigheid wil stuur nie. Dieselfde geld die koddige Des van Rooyen, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en ook ’n Gupta-trawant.

Die handboekmodel van onbevoegdheid is Bathabile Dlamini. Haar optrede as minister van maatskaplike ontwikkeling word tans in opdrag van die konstitusionele hof ondersoek. Sy is egter voorsitter van die ANC-vroueliga, NUK-lid no.17 en het dit gemaak tot op die NWK. Daar is net geen manier hoe sy in die portefeulje gehou kan word nie en dit gaan nie veel help om haar iewers heen te skuif nie. Hier sal Ramaphosa maar die pyn moet vat en haar gewoon weglaat.

Nomvula Mokonyane is op haar beurt omhul deur ’n wolk van korrupsie met die sogenaamde Watergate-skandaal.

Dat daar erns is met ’n nuwe era sal ook blyk as pres. Jacob Zuma se groot vertroueling David Mahlobo, minister van energie, se kop rol, al is hy NUK-lid no. 44.

Lynne Brown, wat skouspelagtig misluk het met openbare ondernemings, is in alle waarskynlikheid self reeds besig om persoonlike aandenkings uit haar kantoor te verwyder. Die hooggeplaaste NUK-lid no. 33 en minister van water en sanitasie, Nomvula Mokonyane, is op haar beurt omhul deur ’n wolk van korrupsie met die sogenaamde Watergate-skandaal. Sy moet loop en so ook die Zuma-pionne en nuttelose kabinetspassasiers Faith Muthambi, voorheen van kommunikasie en nou weggesteek by staatsdiens en administrasie, asook Bongani Bongo, pas aangestelde minister van staatsveiligheid. Muthambi se SAUK-manewales spreek vanself en Bongani word daarvan beskuldig dat hy onbehoorlik probeer inmeng het by parlementêre ondersoeke na staatskaping.

Watter nuwe name kan verwag word?

Ayanda Dlodlo, minister van binnelandse sake, word in die desperate soeke na nuwe bloed hoog aangeslaan, maar die Guptas het na bewering vir haar ’n internasionale vliegrit betaal. Dit gaan Ramaphosa se kwessie raak om te verduidelik as hy haar behou.

Daar is nog vele wat nie die mas opkom nie, maar dit geld talle kabinetsministers wêreldwyd.

Watter nuwe name kan ’n mens verwag?

'Droomskuiwe' kan die terugkeer van ’n ou swaargewig en NUK-lid no. 11, Tito Mboweni, behels

Vanuit die NUK kan Ramaphosa waarskynlik probeer om die ANC in KwaZulu-Natal te stabiliseer met die drietal van die uitgaande ANC-tesourier Zweli Mkhize, sy verslane kandidaat vir die pos van sekretaris-generaal, Senzo Mchunu, en niemand anders nie as sy teenstander in die groot wedloop, Nkosazana Dlamini-Zuma.

Pravin Gordhan (moontlik as minister van openbare ondernemings) en Derek Hanekom se name loop sterk vir ’n moontlike terugkeer uit Zuma se politieke woestyn. So ook Mathole Motshekga en Thoko Didiza. Bevorderings kan ook vir Enoch Godongwana, Bheki Cele, Jackson Mthembu en selfs Baleka Mbete wag, as al die gissings sonder sifting saamgegooi moet word.

“Droomskuiwe” kan die terugkeer van ’n ou swaargewig en NUK-lid no. 11, Tito Mboweni, behels, asook Nhlanhla Nene, een van die politieke martelaars wat die Zuma-era geskep het. Maar dit is moontlik net politieke verbeelding wat op loop gaan, maan diegene wat beweer hulle is die ingeligtes.

En die groot politieke manteldraaier van die afgelope twee maande, Malusi Gigaba?

Die meeste voorspel dat hy gaan oorleef in die kabinet, maar waarskynlik nie as die minister van finansies nie. Hopelik nie.

* Beukman is redakteur van Beeld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.