Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wie moet by wie in SA leer?

Vir studente en dosente om mekaar in ons land op ’n sinvolle vlak te vind, moet die eenrigting-verstaan van wie by wie moet leer, vervang word met openheid vir tweerigtingverkeer, skryf Cas Wepener.

Skets: Hanlie Malan

Die afgelope week het die nuwe akademiese jaar by baie universiteite begin. Vir heelwat studente is dosente se lesings soos ’n gordyn op ’n verhoog wat wegtrek om hulle aan ’n ander wêreld bloot te stel.

Cas Wepener

Wanneer studente by die universiteit aankom, het hulle gewoonlik ’n bestaande en reeds gevestigde verstaan en oortuigings rakende die veld waarin hulle gaan studeer. In teologie, byvoorbeeld, kom sommige van die jonger studente by die fakulteit aan met diep gevestigde idees waarna dikwels verwys word as ’n Sondagskool-teologie.

’n Mens kry hierdie verskynsel in baie vakgebiede. Hierdie studente meld aan met wat ’n eerste naïwiteit genoem kan word – diep sekerhede wat nog nie krities onder die loep geneem is nie.

Tussen die eerste lesings, wat die afgelope week vir ’n nuwe inname begin het, en die einde van so ruweg die derde jaar, gebeur een van twee goed met die studente.

Vir ’n klompie tref dít wat hulle in die lesinglokale kry soos ’n landmyn. Hulle word uit hul bestaande sekerhede losgeruk. Dié wat ’n paar van die stukke kan optel, registreer ná ’n tyd vir ’n ander kursus, en dié wat nie kan nie, staak hul studies.

Daar is egter ook die (groter) groep wat vanaf daardie eerste naïwiteit, deur kritiese denke tot ’n tweede naïwiteit beweeg.

Is – Issie – Miskien tog

Hierdie idee van ’n eerste en tweede naïwiteit is gedagtegoed van die Franse filosoof Paul Ricoeur. Hy praat eintlik oor geloof, maar ’n mens kan dit dalk ter wille van ons spesifieke omstandighede ook breër probeer toepas (met die hulp van Laurika Rauch en Christopher Torr).

Die tweede naïwiteit dui op ’n beweging van ’n voor-kritiese verstaan (“Ek het in my kinderjare vas geglo in Kersfeesvader”); in ’n tweede fase volg ’n kritiese verstaan (“Jonk van jare, oud van dae, huil ek hartseer/ In my kamer/ Want die fantasie het soos ’n droom verdwyn”); en dan volg ’n derde beweging wat ’n postkritiese verdieping van geloof behels (“In ’n brief van later jare, skryf ek “Liewe Kersfeesvader/ Elke meisie het ’n spesiale wens”).

Hierdie derde beweging is die domein van die tweede naïwiteit wat gekenmerk word deur ’n openheid om te luister en opnuut te oorweeg, maar nie net op óf ’n pre-kritiese óf ’n kritiese wyse nie. Daar is dus ’n beweging vanaf ’n onbevange vertroue (geloof) tot totale wantroue (ongeloof) tot ’n nuwe soort (krities-rasionele) geloof. Iets soos: Is – Issie – Miskien tog.

#MustFall-bewegings

Oor die laaste paar jaar het tersiêre onderwys in Suid-Afrika ernstige stormweer beleef.

Bewegings soos #Rhodes­MustFall en #FeesMustFall, tesame met die dekolonisering van die kurrikulum, het ’n diep invloed gehad op Suid-Afrikaanse universiteite. My eie belewenisse tydens en ná afloop van hierdie bewegings het my ook opnuut laat nadink oor die idee van die tweede naïwiteit, wat dit behels en vir wie presies dit geld.

Die bestaande en tot onlangs aanvaarde toepassing in ons konteks van die tweede naïwiteit is dat dosente in alle studievelde die studente tot by ’n tweede naïwiteit moet bring. Dosente het ’n dieptevlak-kennis rakende ’n vakgebied wat fundamenteel verskil van die vlak van kennis waaroor die studente beskik.

Die dosente weet hoe werk daardie eerste naïewe denke, is self deur die meule van kritiese denke en ken die bronne, en is diegene wat die studente moet help om van ’n eerste tot ’n tweede naïwiteit te beweeg. Daar is hier ’n eenrigtingbeweging vanaf dosent, wat weet, tot student, wat gehelp word.

Bordjies verhang

Oor die laaste vyf of so jaar is die bordjies in hierdie verband in lesinglokale in ons land drasties verhang.

Studente het hard en duidelik vir dosente daarop gewys dat hul verstaan van hul vakgebiede – al berus dit op baie navorsing en leeswerk en die jare lange loutering van kritiese nadenke – eintlik ook ’n soort eerste naïwiteit is; dat die dosente nie soseer die konteks en bronne waar die studente vandaan kom verstaan nie – en eintlik diegene is wat vanaf ’n eerste tot ’n tweede naïwiteit gehelp moet word.

(Bring bietjie jou ingenieurswese, ekonomie of teologie en doseer dit in Mamelodi en ek wys jou dat ek dáár dalk as student meer van jou vak af weet as jy.) As dosente het julle wel doktorsgrade, maar eintlik verstaan julle bitter min van die vasteland waarop julle boer.

Volgens studente verstaan dosente geen snars van die Suid-Afrika waarin hulle as studente leef nie, hoe dinge daar werk, wat as (geldige) kennis beskou word, wat die wêreldbeeld is waarbinne hulle leef en wat hul keuses beïnvloed.

Dit sluit byvoorbeeld nie noodwendig kunsmatige onderskeide uit die Weste soos tussen godsdiens en kultuur of ’n materiële wêreld en ’n geestelike wêreld in nie.

Dosente se kritiese denke en Westerse ingesteldheid ter plaatse is eintlik self ’n soort naïwiteit, aangesien daardie ingesteldheid hulle eintlik baie kortsigtig maak ten opsigte van die rykdom rakende die domein van kennis om hulle.

Wie dus eintlik aan die hand gevat en gehelp moet word op die pad tot ’n tweede naïwiteit in ons konteks, volgens studente, is die (god)geleerde dames en here wat voor in die lesinglokaal staan.

Lewenslange leer

Dosente dink dus die studente moet van hul eerste naïwiteit gestroop en begelei word deur die smeltkroes van kritiese denke om uiteindelik by ’n dieper punt te eindig, by daardie tweede naïwiteit, daardie dieper kennis en insig wat dosente reeds in pag het.

En insgelyks glo studente dat die dosente wat voor hulle staan se sogenaamde verligte en kritiese insigte eintlik oogklappe is en dat die dosente veel eerder by die studente kan leer.

So gluur hulle mekaar deesdae dikwels in lesinglokale aan en nie een wil bes gee nie.

Miskien moet die aandskemering rakende hul onwrikbare sekerhede vir sowel studente as dosente daal, sodat die uile van Minerva in ons eie dag vir almal kan vlieg.

Natuurlik sal die uile verskillende insigte vir die twee groepe bring, maar om enigsins te vorder, en vir studente en dosente om mekaar in ons land op ’n sinvolle vlak te vind, moet die eenrigting-verstaan van wie by wie moet leer, vervang word met openheid vir tweerigtingverkeer én vir lewenslange leer.

Eintlik geld dit vir almal in Suid-Afrika, want almal het ’n bydrae om te maak en niemand is ooit volleerd nie.

  • Wepener is hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Cas Wepener  |  Menings  |  Dosente  |  Studente  |  Rubriek  |  #Feesmustfall-Beweging  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.