Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wie sorg vir versorgers?

Terwyl die Covid-19-pandemie op sy felste woed en skole se heropening uitgestel is weens kommer oor die veiligheid van leerlinge, moet die welstand van onderwysers nie agterweë bly nie, skryf Michael le Cordeur.

Die pandemie stel uiterste vereistes aan onderwysers. Hulle is die versorgers van kinders, maar wie sien om na die versorgers? Foto: ISTOCK

Met die skryf van hierdie artikel het ek pas die boodskap ontvang dat my kollega Mohammad Karaan, professor in landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en president van die Maties-rugbyklub, weens Covid-19-verwante komplikasies gesterf het.

Prof. Mohammad Karaan

Dit volg op die nuus dat die bekwame adjunkhoof van Paul Roos Gimnasium, Werner van Rensburg, met wie ek lank saamgewerk het, ook vroeër oorlede is.

Daar is so baie ander. Met die eerste vlaag van die pandemie het ons gepraat oor nommers. Met die tweede vlaag het die nommer ’n naam gekry. Die virus is op almal se voorstoep. Ruimte ontbreek om almal te eer, maar wees verseker van my opregte meegevoel. Elke onderwyser wat ons verloor, laat ’n leemte wat moeilik gevul sal word. Daarom wonder ek: Wie sorg vir die versorgers?

’n Tikkie liefhê

Versorgers is baie meer as bloot oppassers. Waar ’n oppasser bloot ’n ogie hou oor iemand of iets, wil die versorger omsien na en omgee vir iemand. Hy sorg vir en versorg, verpleeg selfs. Dis ’n proses van toesig hou, maar met ’n tikkie liefhê. En dis hoe die onderwys in die tradisionele sin van die woord nog altyd was.

Maar nou het die versorger siek geword.

Die verwysing na die afsterwe van Karaan en Van Rensburg is om te illustreer waardeur ek en my kollegas daagliks gaan.

Elke dag begin met boodskappe op WhatsApp en Facebook.

Elke uur kry ons nog ontstellende nuus, word die lys ál langer en langer. ’n Vriend op Facebook vra onlangs: “Wanneer gaan dit eindig?”

Met elke brokkie slegte nuus raak jy van vooraf paniekerig, wonder jy wanneer die dood aan jou deur kom klop. Jou kop dwaal en jou aandag is afgetrek van jou werk. Kan mense nie verstaan dat jy op daardie oomblik nie in ’n klas wil wees nie? Is dit so moeilik om te begryp dat jy eers tyd nodig het vir jouself om jou kop skoon kry en om die naasbestaandes te bel?

Jy soek woorde om te simpatiseer, wetende dat dit net leë woorde is. Hoe troos jy iemand wie se geliefde nog nooit siek was nie, maar skielik weggeruk is?

Dan lui jou foon. Vriende in jou groep begin navrae doen en daar is verduidelikings en vrae. Waarom hy? Al die goeie mense gaan dood, lui een kommentaar.

Leef in vrees

Jy moet besluit of jy die begrafnis gaan bywoon. Jy is bewus dat slegs 50 mense toegelaat word, so as die familie jou nooi, voel jy te skuldig om nee te sê. Jy weet hulle moes ander, dalk familie, weglaat om jou te akkommodeer.

Maar eintlik wens jy hulle het jou nooit genooi nie. Jy wil graag gaan, want hy was so ’n goeie mens. Maar jy vrees die virus . . .

Ons almal het die afgelope twee maande al hierdeur gegaan. En toe begin die debat oor skole se heropening. Ek het na die standpunte in die debat gekyk en gewonder: Is dit regtig al wat saak maak? Gaan ons kinders werklik so baie mis as ons ’n week of twee later begin? As ons wag tot die ergste verby is en die infeksies en gepaardgaande ontstellende oproepe afneem?

Dalk moet ons vra wie wou graag sien dat skole wel oopmaak? Dalk diegene wat in elk geval aanlyn gaan klasgee, sonder die gevaar om die virus op te doen?

Weet ons regtig wat in die hart van onderwysers aangaan wat elke dag in die townships lewensbelangrike keuses moet maak?

Wat genoodsaak is om snotneusies af te vee, kinders te voed en selfs te was en aan te trek? Waar steeds geen toilette of vars water is om jou hande te was nie? Waar aanlyn klasse nie binne die bestaanswêreld figureer nie?

Bekwame kaders

Ek het voorheen in ’n rubriek gevra of die onderwysdepartement al aandag gegee het aan die verskaffing van maskers vir leerlinge, veral noudat dit verpligtend is om maskers te dra. En wat van lopende water, sanitasiegeriewe en internetverbindings?

My inligting is dat dit by baie skole steeds nie in plek is nie. Waarom is daar nie tydens die vakansie iets gedoen om water en toiletgeriewe aan skole te verskaf nie?

My geduld met die betrokke ministers is lankal op.

En dan kom pres. Cyril Ramaphosa met die verweer: Ons moet kaders aanstel wat bekwamer is!

Soos die Engelse skryer G.K. Chesterton gesê het: “The problem with today’s leaders is that they don’t see the problem.”

Vanwaar die dringendheid by sommige betrokkenes in die debat om onderwysers terug te dwing skool toe? Om wat te gaan doen?

Om na kinders om te sien wat vir twee maande deur hul ouers aan hul eie genade oorgelaat was? Verlede jaar is die kurrikulum spoed­eisend en met die grootste gemak ingekort.

Het die hemel toe op ons geval?

’n Kurrikulum is ’n mensgemaakte konstruk wat maklik ingehaal kan word. Dieselfde geld nie vir leerlinge en onderwysers wat hul lewe verloor het nie.

Kwesbaar

Ek doen navraag by ’n skoolhoof-kollega oor waarom so baie onderwysers in die vakansie oorlede is. Sy antwoord laat my steier: Die meeste onnies is in 2020 deur hel. Die spanning en druk was ondraaglik. Om elke dag skool te hou terwyl die dood jou in die oë kyk, het sy tol geëis. Die virus het hulle gevang toe hul immuunstelsel die kwesbaarste was.

Byna 2 000 onderwysers is reeds oorlede.

Terwyl honderde tans veg vir hul lewe in oorvol hospitale, is daar steeds diegene wat wil hê onderwysers moet onder dié omstandighede terugkeer skool toe. Dit terwyl hulle self nog nie emosioneel en fisiek gesond is om na kinders om te sien nie.

Nog duisende is siek en in isolasie. Dis hulle wat nou ons prioriteit moet wees. Nie assesserings wat voor die einde van Februarie moet “klaar” wees nie. Dit kan wag.

Die narratief was nog altyd dat die ware onderwyser bereid is om so baie van homself te gee dat hy soms van sy eie gesondheid vergeet.

Ek vra dus met groot erns dat onderwysers in dié tye ekstra versigtig moet wees. Want klaarblyklik geld ’n ander narratief ná dese: Onderwysers moet bereid wees om hul lewe te gee.

Daar word in hierdie land baie klem geplaas op die welstand van kinders. Heeltemal tereg, maar die vraag bly steeds: Wie sorg dan vir die versorgers?

Traumaberading

Ek het nog nêrens gelees of gehoor dat onderwysers traumaberading sal ontvang nie.

By die Universiteit Stellenbosch moet almal die Higher Health Check-app gebruik alvorens hulle kampus toe gaan.

Dit help Maties om vinnige antwoorde oor hul gesondheid te kry en verminder die risiko van infeksies. Is daar iets soortgelyks vir onderwysers wat beplan word? Of word Daniël maar in die leeukuil gegooi en word daar gebid dat ’n engel hom sal bewaar?

My boodskap aan onderwysers is dié lewensbelangrike les van Peter Bailey van Minnesota in die VSA, wat vir jare lank sy siek vrou versorg het voor sy gesterf het: “Like airplane passengers, let’s not forget to put on our own oxygen masks first . . . we are no good to our loved ones if we collapse under the strain.”

Werner van Rensburg en Mohammad Karaan het op soveel terreine hul medemens gedien. Nou bly net die herinneringe aan hul goeie dade oor.

Die versorgers is dood.

  • Prof. Le Cordeur is hoof van die US se departement kurrikulumstudie.
Meer oor:  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.