Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Wie uitoorlê nou vir wie?
’n Voorspel? Julius Malema, EFF-leier (links), saam met Winnie Madikizela-Mandela en pres. Cyril Ramaphosa in 2016 by Madikizela-Mandela se 80ste verjaardagpartytjie in Kaapstad. Foto: ANC Live / Facebook

Probeer die ANC die EFF neutraliseer deur hom in ’n omhelsing te versmoor? Of het die twee partye se politieke benadering nou so eenders geword dat samesmelting ’n logiese opsie is?

Dit lyk al hoe meer asof daar baie in die ANC is wat die EFF as die eintlike ANC-jeugliga begin beskou, want sy eie jeugliga onder Collen “Oros” Maine is mos maar ’n grap.

Die flikflooiery kom al van ’n paar maande gelede af, maar dit raak nou vuurwarm.

Net die afgelope naweek het die ANC se president én adjunkpresident verklaar dat Julius Malema en sy span asseblief huis toe moet kom omdat hul bloed kwansuis steeds groen, swart en goud is.

En laas maand het die ANC ’n EFF-mosie oor grondonteiening as Valentynsdaggeskenk gesteun en selfs in die debat na sy ou bête noire as “commander-in-chief” verwys.

As Bell Pottinger nog bestaan het, sou hulle mekaar ongetwyfeld op die skouer geklop het: Job well ­­done, old chap.

Want die populistiese streep wat die ANC nou wys en waarop die EFF teer, spruit uit die Zuma/Gupta-aksis se pogings, met die hulp van Bell Pottinger en ANN7, om staatskaping, korrupsie en magsmisbruik te verdoesel deur die na­sionale diskoers na radikale ekonomiese bemagtiging, “witmonopoliekapitaal”, grondonteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van die Reserwebank te verskuif.

Die teorie dat dit beter is om iemand binne die tent te hê wat na buite piepie as van buite na binne, geld nie hier nie – Malema gaan eerder van binne af binne-in die tent piepie.

Hoe ironies dat dit drie skelm broers uit Indië was wat ’n veldtog van swart-ras-nasionalisme aan die suidpunt van Afrika kom loods het. En hoe ironies dat dit so geslaagd was.

In die parlementêre debat oor grondonteiening was daar maar min tussen die gelade rasseretoriek van lede van die EFF en die ANC te kies. Hoeveel keer moes ek nie die laaste paar weke gesoute ANC- mense hoor sê dat die EFF se aktivisme en die kwaliteit van sy leiers nie geringgeskat moet word nie.

Maar nou weet ons ook goed dat pres. Cyril Ramaphosa en sy binnekring geen aanhangers van hierdie nuwe goedkoop populisme en ras-nasionalisme is nie. Ons sien selfs nou en dan oomblikke van die ou nierassigheid van sy UDF-dae.

Nou vir wat vry hy so na Malema? Dié knaap kon tot dusver net 8%-steun in ’n verkiesing op hom verenig. Dit is maar ’n derde van die DA se bewese steun.

Wel, Ramaphosa het hom al herhaaldelik – en veral sedert sy verkiesing tot ANC-leier in Desember – as ’n meesterlike Machiavelliaan bewys. Ek kan my nie indink dat hy vir ’n enkele oomblik ’n rasse­populis en heethoof, wat kort-kort met geweld dreig, in sy party se leierskap wil sien nie.

Die teorie dat dit beter is om iemand binne die tent te hê wat na buite piepie as van buite na binne, geld nie hier nie – Malema gaan eerder van binne af binne-in die tent piepie.

Ek dink Ramaphosa glo die DA het sy plafon bereik en sal nie in die volgende verkiesing meer as ’n kwart van die kiesers se steun kry nie.

Die EFF, daarenteen, het teoreties ’n groot groeipotensiaal, veral onder jonger kiesers en veral as die politiek meer en meer populisties word, soos wat nou lyk die geval gaan wees.

Ramaphosa se motief vir sy vlerkslepery is waarskynlik om Malema se beeld as revolusionêre messias af te takel en die wind uit die EFF se seile te haal, maar dis dalk ook op die ANC se eie populiste gemik om aanklagte dat hy te hand-om-die-blaas met wit kapitaliste staan te ondermyn.

Sy enigste probleem is dat Malema goed weet dat dit die strategie kan wees. Jy kan nie ’n Machiavelli op ’n Machiavelliaan trek nie.

Meer oor:  Julius Malema  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.