Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Vlugtelinge: Wie weet waar trek jy die grens?

In Europa duur die gesprek oor die miljoene mense wat uit Afrika en die Midde-Ooste wil kom, voort. Daar is ’n taamlike konsensus dat Europa nóg die geld nóg die kulturele gewilligheid het om soveel vreemdelinge met ’n wesensvreemde lewensuitkyk te absorbeer, maar die vraag is hoe om die mense te keer.

Een antwoord is gegee deur die ooreenkoms wat die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, met pres. Reçep Tayyip Erdogan van Turkye gesluit het. Dit kom daarop neer dat Erdogan die deurgang van vlugtelinge vanuit Sirië, Irak en Afganistan na Griekeland keer en die vlugtelinge tydelik in ruil vir baie geld huisves.

Dié ooreenkoms het só goed gewerk dat die Europese Unie (EU) gemeen het iets soortgelyks kan met Libië afgespreek word. Daarvandaan probeer honderdduisende Afrikane immers in lekkende bootjies oor die Middellandse See na Italië kom.

Maar Libië is nie Turkye nie. Dis geen land met één regering wat die grense effektief beheer nie; dit het ná die verdrywing van kol. Moeammar Ghaddafi uiteengeval en word deur verskeie krygshere oorheers.

Afsprake, soortgelyk aan dié met Turkye, is wel met verskeie van die krygshere gemaak. In ruil vir geld het hulle kampe opgerig waar die vlugtelinge aangehou word.

Maar vandeesweek was daar voorbladnuus hieroor in die Nederlandse koerante. Die Nederlandse minister van ontwikkelingsamewerking, Sigrid Kaag, het die Libiese kampe besoek en die situasie daar as “mensonterend” beskryf. Dit volg op ’n onthulling van CNN dat die Libiese krygshere sommige van die vlugtelinge openlik as slawe verkoop.

Maar dit het soveel onrus in Europa veroorsaak dat die hoofstroom-politici geleer het dat die samelewings se toleransie ’n grens het.

En dus, sê Kaag, moet die kampe gesluit word. Haar alternatief is dat die EU geld moet gee om die mense so gou moontlik na hul lande van herkoms terug te stuur.

Daar, neem ’n mens aan, sal Europa behoorlike ontwikkelingshulp moet bied sodat die mense ’n beter toekoms in hul lande kan hê. Anders probeer hulle maar net weer en weer en weer na die vleispotte van Europa vlug.

In 2015 is Europa, veral Duitsland, skielik oorval deur meer as ’n miljoen mense wat die geweld van die Siriese burgeroorlog ontvlug het. Merkel is destyds erg verkwalik dat sy die mense toegelaat het, maar daar was nie veel wat sy (of enigiemand anders) op kort termyn daaraan kon doen nie; jy kon netsowel die see met ’n besem probeer terugvee.

Maar dit het soveel onrus in Europa veroorsaak dat die hoofstroom-politici geleer het dat die samelewings se toleransie ’n grens het.

Dis nie verniet dat die regse populiste die kwessie so suksesvol uitbuit nie.

Kaag se besoek aan Libië wys ewenwel dat die saak nie eenvoudig is nie. Daar is immers ook nog iets soos medemenslikheid.

Die vraag waarop ’n antwoord nog gesoek word, is: Waar trek jy die grens?

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.