Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wild neem die Kaap oor, een krok op ’n slag
31-08-2020 NETWERK24 NUUS Onderhoud met die skrywer, Emile Joubert, oor sy nuwe bundel kortverhale getiteld, So Byna Blou. Foto's geneem by The Book Lounge in Roelandstraat, Kaapstad. Foto: Jaco Marais.

Ligte paniek heers in die Boland oor die spul ontsnapte krokodille wat hulle tuisgemaak het in die Breërivier tussen Bonnievale en Robertson, maar dit kan net die begin wees van ’n grootskaalse ironie.

Dat, terwyl ontwikkeling op die Kaapse platteland onverpoos uitbrei – soos in die res van die land – die moontlikheid bestaan dat die natuur tog die laaste sê sal hê.

Die krokodil-situasie is net nog ’n voorbeeld van die breinfloute wat mense oorval wanneer hul houding teenoor die natuur net te gemaklik raak. Soos wat gebeur het met diegene wat besluit het om ’n krokodilplaas met 5 000 reptiele staan te maak neffens ’n rivier wat deur ’n landbou-en-toerisme-gebied kronkel. Die waansinnige ongeërgdheid van die krokodilboer is vererger deurdat daar tot op hede nie gesê kan word hoeveel van sy reptiele ontsnap het en met honger oë wag dat die eerste kanovaarders stroom af dryf tussen Silwerstrand en Goudmyn nie.

En as die getal van die ontsnapte diere onbekend is, sal daar mos nie geweet word of almal ooit aangekeer is nie. Alle aanduidings is dus daar dat die Breërivier voortaan die tuiste van ’n klomp Nylkrokodille kan wees. Behalwe vir die uitdagings wat voortaan gestel gaan word aan gesinsuitstappies na die lowergroen oewers en die swemsessies in salwende, kalm rivierwater, gaan die krokodille ook van die pluk van waterblommetjies ’n besonder opwindende tydverdryf maak.

Die verdwaalde krokodille gaan ook van die pluk van waterblommetjies ’n besonder opwindende tydverdryf maak.

Hy is seker ’n aangeleerde smaak, maar krokodil se kind is wraggies nie die mooiste voorbeeld van die wonderwêreld van die natuur nie.

Daardie kort beentjies, koue kraalogies en uitskiet-kake vol geel monster-tande is iets wat mens nie wil raakloop terwyl jy op ’n Bolandse herfsaand die waterpomp langs die rivier gaan aanskakel nie. Miskien is die mango- en piesangboere in die land se noorde meer gewoond aan hierdie voorbeeld van rou Afrikawildernis.

Maar vir ’n Kaapse wynboer is die vooruitsig van om ’n honger krokodil raak te loop veel vreesaanjaender as donsskimmel in die wingerd tydens parstyd. Oos van die Breërivier word al hoe meer van krokodil se safari-maats agter die drade van wildparke aangetref.

Olifante, jagluiperds, buffels, sebras en leeus stap rond of hulle in die Bosveld is. Die toekoms se boek is nog nie oopgeslaan nie, maar dalk sal die tyd kom dat hierdie diere ook eie rigting kry.

Waar die krokodille die Breërivier oorgeneem het, kan troppe buffels die vlakte tussen Robertson en Worcester invaar. Luiperds mik na die bobbejaan-bevolkte Langeberge, en wie sal nou kla as jy op die N1 tussen Rawsonville en Worcester moet stop en wag vir ’n paar olifantkoeie om hul kalfies oor die pad te kry?

En saans, terwyl die snoek op die kole sis, die Bolandse chardonnay vloei en die reuk van fynbos deur die suidoostelike bries aangewaai kom, brul daar iewers ’n leeu.

Dan is die Kaap werklik Hollands, want Afrika is terug. Waar hy hoort.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Wild  |  Krokodille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.