Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wilhelm Jordaan: Alles wat jy weet, weet jy net voorlopig
Hitler was ’n bibliofiel, ’n boekliefhebber wat ongeveer ­ 16 300 volumes in sy versameling had.

Die Wit Haas sit sy bril op en sê: “Asseblief, U Majesteit, waar sal ek begin? Die koning antwoord gewigtig: “Begin by die begin en gaan aan totdat jy by die einde kom. Stop dan.” Dié passasie uit Lewis Carroll se ­Alice’s Adventures in Wonderland verwys na die vraag hoe jy getuienis soek om tot ’n gevolgtrekking te kom. En natuurlik steek Carroll die draak met hoe mense dit doen – uiters selektief, verdraaid, moedswillig, onakkuraat, ensovoorts.

’n Belangrike deel van mense se daaglikse leeswerk is om inligting te soek wat jy kan aanwend om ’n berig, artikel, referaat of boek te skryf; ’n toespraak te hou; ’n redenasie te voer; ’n wins te maak. Die moontlikhede is legio. Daar is ’n magdom inligting oor enige onderwerp, en die lees van die “hele boek” van begin tot einde, soos die koning vra, is ’n onhaalbare ideaal. Op sy beste kan ’n mens deur gepaste soekmetodes die gevoel kry dat jy voldoende ingelig is om regverdig en billik te oordeel.

Oordeelkundige lesers weet dat jy in die leesproses moet waak teen vooringenome standpunte; dat jy net raaklees wat jou pas en dat al die teenvoorbeelde of teenargumente by jou verbygaan.

Dié tekortkoming het soms skrikwekkende gevolge. Soos Timothy Ryback se studie Hitler’s Pri­vate Library – The Books that Shaped His Life aantoon. Hitler was ’n bibliofiel, ’n boekliefhebber wat ongeveer ­

16 300 volumes in sy versameling had. Hy was ’n “byna besete” leser tot laat in die nag. Boonop het hy onthou wat hy gelees het en kon hy lang stukke opsê.

Namate Hitler se invloed in Nazi-Duitsland toegeneem het, het sy selektiewe leesstyl al hoe meer na vore gekom. Sy opmerking aan ’n Duitse vriendin dat ’n mens moet leer om te haat, het al hoe meer in sy leeswerk deurgeskemer onder die invloed van die antisemitiese skrywers soos die filosoof Johann Gottlieb Fichte en die Bybelkundige Paul de Lagarde.

Hitler se “teorie” van lees was dat jy ’n “mosaïek” van vooropgesette idees oor ’n saak moes hê. Lees behels die vind van bruikbare steentjies wat die mosaïek voltooi. Hitler se kantlynkommentare en onderstrepings vertel die verhaal van sy intense Jodehaat en die Jode-slagting wat daarop gevolg het.

Ag, dis mos geskiedenis dié, wil ’n mens sê. Te treurig om dit te onthou. Tog weet ’n mens hoe maklik mensonterende en vernietigende vooropgesette idees ontstaan.

Daarom is dit ’n lewensplig om te sorg dat ’n mens met belangrike lewensgoed altyd verruimende inligting en verhelderende perspektiewe sal opsoek. Miskien aan die hand van ’n credo:

“Geen mens kan oor enige saak alles dink, sien, weet, sê en skryf nie. Daarom is ek bereid om my indrukke altyd te beskou as voorlopig en onakkuraat en dit wysig in die lig van nuwe getuienis.”

Dalk was dit wat Alice wou hê.

jordaanw@netactive.co.za

Pretoria

Meer oor:  Hitler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.