Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Winter, siekte en armoede is venynig saam
Aniki Joseph, ’n rubriekskrywer van Beeld, wie se eerste bundel pas verskyn het.

Ek sien haar van ver af aankom. Hoepelbeen onder die swaar vrag op haar kop en in haar hart. Haar toegewikkelde lyf beur tydsaam in ’n wiegende stap voorwaarts teen die ysige wind. Haar nek styf in ’n poging om die vrag op haar kop te balanseer. In haar een hand dra sy ’n swaar sak met strepe, met haar ander arm klem sy verbete aan ’n verslete handsak.

Dik ribgebreide kouse strek tot oor die pynlike artritis in haar knieë. Sy is dankbaar vir die skoene aan haar voete, al is dit ’n nommer te groot. ’n Mens kyk immers nie ’n gegewe perd in die bek nie.

Werk is skaars. Die kinders is honger. Die jong mense is kwaad. Die mans staan in blou oorpakke met verfrollers en kartonborde op die hoeke van strate. Vanaand sal sy een dag ouer wees op die pad van ’n daaglikse oorlewingstryd in ’n droewige ritme van 04:00 opstaan om water te kook en 23:00 nog wakker wees. Luister na die geratel van winterwind deur verweerde sinkplaatdak. Laasnag het sy hoeka gestruikel oor die emmer met Jeyes Fluid in die hoek. Sy het gebid dat haar been net nie opswel nie, want sy wil nie uit die werk bly nie. Donkernag gesoek vir Zam-Buk-salf en dit ingevryf. Sy het ook gebid dat die virus verdwyn en gewonder wanneer die beter lewe vir almal uiteindelik sal aanbreek . . .

Winter, armoede en siekte is vrek venynig saam.

Geestelike en emosionele armoede kan ontstaan wanneer mense vereensaam, uitgebrand raak ná afloop van lang tye van aanhoudende stres of in totale afsondering leef.

Armoede word gekenmerk deur die gebrek aan hulpbronne wat nodig is vir basiese oorlewing. Mense in armoede ervaar gewoonlik aanhoudende hongersnood, onvoldoende of afwesige onderwys en gesondheidsorg, ongelyke geleenthede en voel vervreemd van die hoofstroomsamelewing. Dan mag daar ook armoede ontstaan waar mense deur skielike werkverlies of besering en siekte nie ’n inkomste kan verdien nie. Geestelike en emosionele armoede kan ontstaan wanneer mense vereensaam, uitgebrand raak ná afloop van lang tye van aanhoudende stres of in totale afsondering leef.

In hierdie winter van 2021 sal daar iewers iemand wees wat staatmaak op die vrygewigheid, goedheid en guns van iemand anders wat uit genade meer ontvang het. Paulus skryf in sy brief aan die Korinthe dat elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. Die wyse Salomo skryf dat wie hom oor ’n arm mens ontferm, gee ’n lening aan die Here en Hy sal hom ten volle vergoed.

Barmhartigheid in aksie is die taal wat selfs die blindes kan sien en die dowes kan hoor.

Miskien is dit net ’n oproep, opregte belangstelling en tyd. Mag ons gee op ’n wyse sonder om die ontvanger se menswaardigheid aan te tas en sonder om ooit iets terug te verwag daarvoor.

“En mag daar altyd mense wees wat mekaar sonder skaamte in die oë kan kyk / want die lewe­ is net ’n asem lank” – Breyten Breytenbach.

  • Joseph is ’n skrywer en reisiger van Pretoria.
Meer oor:  Aniki Joseph  |  Siekte  |  Winter  |  Omgee  |  Menswees  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.