Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wit bevoorregting: Thuli met kru minagting behandel

Helen Zille moet verantwoordelikheid neem daarvoor dat haar Twitter-tydlyn ’n platform vir reaksionêre wit uitdrukking geword het, skryf Christi van der Westhuizen.

Prof. Thuli Madonsela is met kru minagting op Twitter behandel nadat sy onder meer gevra het Helen Zille moet “asseblief” om verskoning vra dat sy swart mense as “plunderaars en politieke skynheiliges” brandmerk. Foto: Argief

Wat is die verantwoordelikheid van wit mense jeens swart mense ná 342 jaar van kolonialisme en apartheid? Die Twitter-“gesprek” tussen Zille, voormalige Wes-Kaapse premier en DA-leier, prof. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, en dr. Makhosi Khoza, voormalige ANC-LP, vroeër vandeesweek werp lig op sommige wit mense se begrip van sowel die geskiedenis as moraliteit.

Die gesprek het met ’n veelseggende onderonsie oor korrupsie begin: Zille het in ’n twiet Suid-Afrika se probleem van wydverspreide korrupsie as “swart bevoorregting” bestempel.

Twitter is nie ’n ruimte vir ernstige besinning nie, weens die beperkte aantal karakters van twiets. Maar haar twiet het reaksies ontlok van twee van die bekwaamste mense wat kan saamgesels oor korrupsie: Madonsela is tog bekend vir haar onverskrokke oopvlekking en harde werk in die Nkandla- en staatskaping-sake, en Khoza vir haar weerstand teen oudpres. Jacob Zuma.

Maar die toon is deur Zille se eintlike teiken gestel: Die huidige politieke beklemtoning van “wit bevoorregting” in die openbare diskoers staan haar nie aan nie.

Wit bevoorregting is soortgelyk aan manlike bevoorregting, wat die gevolg is van etlike eeue se patriargale stelsels in verskillende vorme oor die wêreld heen.

Wit bevoorregting verwys na die historiese bevoordeling van wit mense deur kolonialisme en die geïnstitusionaliseerde rassisme van stelsels soos apartheid en Amerika se Jim Crow-segregasiewette.

Hierdie bevoordeling verklaar waarom maatskaplik-ekonomiese ongelykheid vandag ’n duidelike rassedimensie het: In breë trekke beskou, en met dien verstande dat lande verskillende geskiedenisse ten opsigte van kolonialisme het, is die wêreld se super-rykes meestal wit.

In Suid-Afrika is dit opvallend dat die sakeman Patrice Motsepe die enigste swart persoon in dié kategorie is.

Wit bevoorregting is soortgelyk aan manlike bevoorregting, wat die gevolg is van etlike eeue se patriargale stelsels in verskillende vorme oor die wêreld heen. Dus is daar ’n geslagsdimensie ook aan maatskaplik-ekonomiese ongelykheid, met vroue wat oor die wêreld heen onderverteenwoordig is in die geledere van die rykes, en oorverteenwoordig is in die geledere van armes, werkloses en ongeskooldes.

Swart mense voorgestel as minderwaardig

Helen Zille, oud-leier van die DA en voormalige premier van die Wes-Kaap, het ’n storm op Twitter veroorsaak met haar twiets oor “swart bevoorregting”. Foto: Lindile Mbontsi

Mense is simboliese wesens, en dus omvat wit en manlike bevoorregting nie net die materiële wêreld nie, maar ook die betekenisse en waardebepalings wat daarmee vervleg is: hoe ons as mense sin maak van, en waardes heg aan, ons omgewings en van mekaar. Magsuitoefening is onlosmaaklik deel van menseverhoudings, en dus is die skepping van hiërargieë integraal tot menslike stelsels.

Om die plundering en uitbuiting van kolonialisme en apartheid te regverdig, het albei dié stelsels sterk gesteun op ’n voorstelling van swart mense as minderwaardig. Daarteenoor is wit mense dus as meerderwaardig voorgestel – in hul menswees, ten opsigte van alle menslike bedrywighede, en ook moreel en intellektueel.

’n Belangrike aspek van wit bevoorregting is dus hierdie simboliese indeling van wit mense as “van nature” beter as swart mense in elke opsig van menslike bestaan. Dit is wat Madonsela geduldig in haar reeks verduidelikende twiets as die “universele premie” van witheid aangedui het.

Hierdie dinamiek van wit bevoorregting is ongelukkig ook op Zille se Twitter-tydlyn geïllustreer. Haar suggestie dat korrupsie gelykstaande aan “swart bevoorregting” is, is problematies om verskeie redes, insluitend omdat dit die idee skep dat korrupsie ’n verskynsel eie aan swart mense is.

In reaksie hierop het Khoza in ’n twiet uitgewys dat Zille se stelling swart mense soos sy, wat aktief teen korrupsie werk, “onsigbaar” maak. Madonsela het getwiet dat Zille “asseblief” om verskoning moet vra dat sy swart mense as “plunderaars en politieke skynheiliges” brandmerk.

Arrogante reaksies pynlik om te lees

Dr. Makhosi Koza het gesê Helen Zille se stelling maak swart mense soos sy, wat aktief teen korrupsie werk, “onsigbaar”. Foto: Argief

Vir diegene wat steeds nie (wil) begryp wat wit bevoorregting is nie, het die daaropvolgende gegons op Zille se tydlyn dit ongelukkig baie goed gedemonstreer. Byvoorbeeld, die onbeskroomde paradering van wit mense se onbewustheid en oningeligtheid oor rassisme en verwante gevolge.

Die feit dat soveel wit mense hulle nie hoef te verwerdig om hulself in te lig oor rassisme nie, is ’n uitoefening van wit bevoorregting. Hulle meen duidelik dat daar geen sosiale of ander soort koste daaraan is om oningelig te bly oor huidige en vorige anti-swart-stelsels en denkraamwerke nie.

Hulle tree op sonder enige sin van etiese verantwoordbaarheid jeens swart mense as medemense wat skade berokken is deur stelsels wat wit mense bevoordeel het.

Veral pynlik om te lees is die arrogante wit reaksies op Madonsela en Khoza. Albei die vroue moes uitdagings trotseer waarvan die gemiddelde wit Suid-Afrikaner bo 50 jaar oud (Zille inkluis) nie eens kan droom nie. Madonsela het met haar teenstand teen apartheid haarself aan lewensgevaar blootgestel. Albei het die aansienlike struikelblokke wat veral in Suid-Afrikaanse swart vroue se pad staan, oorkom om hoë vlakke van geleerdheid te bekom.

Veral Madonsela het ’n voortgesette verbintenis tot hoë morele waardes en uitstekende werk oor verskeie jare heen uitgeleef. Khoza het haar werk verloor omdat sy Zuma openlik aangevat het. Hulle het ontsagwekkende dapperheid in die aangesig van uiterste druk en doodsdreigemente aan die dag gelê.

Christi van der Westhuizen

Maar in plaas daarvan om die geleentheid te gebruik om meer uit te vind van doeltreffende optrede teen korrupsie, of hoe om ’n etiese lewe onder groot druk te leef, of hoe swart mense wit bevoorregting ervaar, het Zille se volgelinge veral die altyd beleefde Madonsela met kru minagting behandel.

Sou dít gebeur het as sy wit en manlik was?

Ten spyte van haar onkreukbare reputasie, is sy nie die inherente respek beskore wat hand-aan-hand met wit en manlike bevoorregting gaan nie.

Zille moet verantwoordelikheid neem daarvoor dat haar Twitter-tydlyn ’n platform vir reaksionêre wit uitdrukking geword het. In hierdie geval het die korrupsie-debat vir sommige wit mense eintlik maar net as dekmantel vir hul rasse-vooroordeel gedien.

’n Mens het begrip dat haar bysiende, 19de eeuse weergawe van liberalisme die strukture van rassisme onsigbaar maak vir haar. Maar dit raak iets anders wanneer haar reikwydte as invloedryke openbare figuur ruimtes in die Twitter-sfeer skep waar mense op grond van ras aangeval kan word.

* Van der Westhuizen is medeprofessor verbonde aan die Nelson Mandela-Universiteit se Sentrum vir die Bevordering van Nie-Rassigheid en Demokrasie (Canrad).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.