Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wit én bruin kan Afrikaans só red
Leopold Scholtz

Waarom is die bruin stemme so stil, vra Heindrich Wyngaard in verlede Sondag se Rapport na aanleiding daarvan dat so min bruin stemme gehoor is ter verdediging van Afrikaans se posisie ná die konstitusionele hof se uitspraak oor die taal se status aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hy voeg by: “Die oomblik het aangebreek dat bruin Afrikaanssprekendes te alle tye met wit Afrikaanssprekendes gesien – en gehóór – word wanneer kwessies soos Afrikaans en tersiêre onderwys met rolspelers soos die regering bespreek word . . .”

Wanneer ’n wit Afrikaner hom oor bruin mense se verhouding tot Afrikaans uitspreek, moet jy versigtig trap. Die eenvoudige feit is dat die gemiddelde wit Afrikaner baie sterker oor Afrikaans voel as die gemiddelde Afrikaanssprekende bruin mens – maar hoekom is dit so?

In my boek Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste Eeu (2016) het ek ’n hoofstuk aan die driehoeksverhouding tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes en hul gemeenskaplike taal gewy, en hopelik minstens ’n deel van die antwoord gevind. Soos gewoonlik in die lewe die geval is, is dit ’n ingewikkelde kwessie met talle lae.

Die een is dat wit Afrikaners hul taal ’n eeu gelede en langer aangegryp het as instrument vir nasionalistiese mobilisering.

Dit was ’n strydmiddel vir politieke, kulturele en sosio-ekonomiese emansipasie in die tyd ná die Anglo-Boereoorlog, toe Engelssprekendes ’n grondige minagting getoon het vir alles Afrikaans.

In dié opsig was die Afrikaners se reaksie nie anders as dié van die Vlaminge, Pole, Finne en Nore nie, volke wat soortgelyke verdrukking as die Afrikaners beleef het, maar dan onder die Franssprekende Belge, die Duitsers, die Russe en die Dene.

Immers, as die Boere sê dit is húl taal, nou ja, vát hom dan.

Mettertyd het die Afrikaners ná heftige Engelse verset sukses behaal. Nie net is hul taal erken nie; die taalstryd het hulle ook sosio-ekonomies help bemagtig. Maar dié oorwinning het ’n keersy gehad. Die Afrikaners het Afrikaans as hul alleenbesit geannekseer – al het Afrikaans net soveel aan bruin mense behoort, en al het hulle ewe veel tot die ontstaan van die taal bygedra.

Daarby het die taal veral vir die bruin elite (maar dikwels ook vir Afrikaners) die taal van beskawing en aspirasie gebly.

Voeg hierby dat die Afrikanernasionaliste met apartheid ’n monumentale historiese onreg teenoor hul bruin taalgenote gepleeg het, en dit is begryplik dat bruin mense, met enkele uitsonderings, nooit dieselfde lojaliteit teenoor Afrikaans gevoel het nie.

Immers, as die Boere sê dit is húl taal, nou ja, vát hom dan. Dan sal ons Engels word, het sommige bruin mense, veral die elite, geredeneer. Dus kry jy onder sommige bruin intellektuele in Kaapstad en onmiddellike omgewing ’n sterk gevoel teen Afrikaans.

Dit is duidelik in die Distrik Ses-museum te sien. Ofskoon die mense van dié buurt, wat brutaal deur die Afrikanerregering op die woestynsand bekend as die Kaapse Vlakte gegooi is, oorweldigend Afrikaans was, was die museum feitlik eentalig Engels toe ek dit laas besoek het.

Nou ja, ons ís waar ons ís. Wat doen ons daaraan?

Wit Afrikaners kan begin deur bruin gevoelens veel meer as tot dusver te respekteer. En ons bruin taalgenote kan op rasionele vlak oortuig daarvan raak dat Afrikaans in alle variante ons gemeenskaplike moeder is.

Dis ons almal se moeder wat in die konstitusionele hof tot ’n langsame dood gevonnis is. Kom ons werk saam om haar te red!

  • Scholtz is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Moedertaal  |  Engels  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.