Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Max du Preez: Wit en swart van rassisme

Die aanklagte van rassisme en “omgekeerde rassisme” vlieg deesdae soos ’n swerm sprinkane deur ons land.

Miskien moet ons ’n slag probeer om die anatomie van die verskynsel te ontleed en te verstaan.

Dit is moeilik om rassisme in ’n kort, netjiese definisie saam te vat. Maar elke woordeboek of webwerf wat dit probeer doen, stem saam dat dit breedweg te make het met vooroordeel teenoor iemand van ’n ander ras as jy self, gebaseer op die oortuiging dat jou eie ras meerderwaardig is.

Die element van meerderwaardigheid is noodsaaklik vir ’n houding of aksie om as rassisties geklassifiseer te word.

Ons moet dus, so lyk dit my, ’n onderskeid tref tussen rassisme self en onverdraagsaamheid of beledigings gegrond op ras wat nie op ’n sin van meerderwaardigheid gebaseer is nie.

Dít is die basis vir die redenasie dat swart mense nie rassisties teenoor wit mense kan wees nie.

As ’n swart mens ’n wit mens uitskel of dreig omdat hy of sy wit is, is dit nie omdat die skeller glo die “swart ras” is inherent beter as die “wit ras” nie, maar eerder ’n reaksie op wit rassisme, wit dominansie en historiese ongeregtigheid – en soms uit ’n gevoel van onsekerheid of frustrasie, en selfs minderwaardigheid.

Die ander regverdiging vir die stelling dat swart mense nie rassisties kan wees nie, naamlik dat hulle nie mag het nie, is besig om baie dun te word.

In my eie ervaring het ek nog nooit ’n swart mens op wit mense hoor skel omdat hy/sy glo swart-wees is meerderwaardig nie, al word dit só bewoord.

“Omgekeerde rassisme” is dus nie rassisme in die ware sin van die woord nie, maar eerder onverdraagsaamheid, haat of wraaksugtigheid gebaseer op ras.

“Omgekeerde rassisme” is dus nie rassisme in die ware sin van die woord nie, maar eerder onverdraagsaamheid, haat of wraaksugtigheid gebaseer op ras.

Ons wit Suid-Afrikaners moet onsself gereeld daaraan herinner dat rassisme ’n eeue oue geskiedenis met sy wortels in Europa het en dat ons voorsate dit na Afrika gebring het.

Die pseudowetenskap het verklaar dat donkervelliges inherent minderwaardig was, en dit het die gebruik dat swart mense as eiendom besit kon word, moontlik gemaak. (My pa se oupagrootjie was nog ’n slawe-eienaar.)

In die meeste oorwegend wit nasies is daar steeds ’n ondertoon dat Afrika die donker, halfbeskaafde vasteland is en haar kinders ’n ingebore agterstand het.

Selfs die mees suksesvolle en selfversekerde swart mens het ’n ingebore antenna om verskuilde rasvooroordele aan te voel.

Soms misverstaan swart mense egter ’n situasie en voel hulle onsekerheid of vrees as rassisme aan.

As “omgekeerde rassisme” jou pla, is die beste medisyne om te werk om wit rassisme uit te roei en ’n regverdiger, gelyker samelewing te help skep.

Die groot aanslag op “omgekeerde rassisme” deur Afrikaner-drukgroepe kom oor as vals en is teenproduktief, want dit kom uit geledere waar daar geen sigbare pogings aangewend word om wit rassisme aan te pak nie.

Max du Preez

Die narratief van die Afrikaner-as-slagoffer het eenvoudig bitter min legitimiteit.

’n Vinnige tersyde: As die Noordwes-Universiteit nie steeds deur gereelde voorvalle van rassisme gepla was nie, sou die poging om Afrikaans daar te handhaaf, ’n heelwat groter kans op sukses gehad het.

Die twee jaar direkte tronkstraf vir crimen injuria wat aan die aartsrassis Vicki Momberg opgelê is, voel oordrewe omdat geen fisieke geweld gepleeg is nie.

Maar tronkstraf vir ekstreme rassisme is tydig en reg as die breë belang van die samelewing in ag geneem word. Dit moet ook erge uitlatings van wraaksug en haat uit swart geledere geld.

Die EFF maak seker ras is in 2018 boaan die nasionale diskoers. Ons blekes kan dit die beste beveg deur die wind uit hul seile te haal.

Meer oor:  Max Du Preez  |  Rassehaat  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.