Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wit mense ly ook aan dié siekte

Swart mense moet openlik begin praat oor die rasgedrewe redenasies wat die grondslag vorm van hul gewoonte om die heeltyd te vra “maar wat van?”, meen Songezo Zibi, oudredakteur van Business Day. Wit mense kan gerus dieselfde doen, skryf Carla Lewis.

Dis nie net swart mense wat ’n voorliefde het om die “wat-van?”-kaart uit te pluk wanneer swart mense gekritiseer word nie.

Zibi hoef net ’n voorstedelike braaivleis of ete by te woon waar al die gaste wit is. Dis nie lank nie (en gewoonlik ná ’n paar doppe) of die “wat-van?”-turksvy kom ter sprake.

Dit blyk dat dié wegskram-taktiek elke keer uitgepluk word wanneer ’n sensitiewe twispunt aangeroer word waaroor ’n kollektiewe groep liggeraak is; wanneer skadelike veralgemenings gemaak word waaroor ons ons dadelik opwerk. Iets wat ons trigger.

Vir swart mense is dié sneller die persepsie dat hulle korrupte en onbekwame leiers is wat nie met die staatsbeursie vertrou kan word nie.

Vir wit mense is dit dat ons almal bombastiese rassiste is wat terughunker na “die goeie ou dae” toe Petrus en Liesbet hul plek in die tuin en kombuis geken het, nie in die land se raadsale en kabinet nie.

Wit satheid

Andile Mngxitama
"Maar wat van Andile?" Andile Mngxitama, leier van BLF. Foto: Argief

Wanneer Steve Hofmeyr se uitlatings op Twitter om die vleisbraaivuur bespreek word, kan jy jouself regmaak vir ’n speletjie van “wat van?” of die “heksejag” op Penny Sparrow en Adam Catzavelos.

Hoekom word hulle vervolg en swaar strawwe opgelê, terwyl dit blyk dat swart rassiste net ’n ligte piets oor die vingers kry?

Wat van Julius Malema?

Wat van die BLF-leier, Andile Mngxitama?

Wat van Faith Mazibuko?

Wat van die plaasmoorde?

Wat van Willem Oosthuizen en Theo Jackson van die doodskissaak?

Bygesê, die Menseregtekommissie en Suid-Afrikaanse howe se wispelturige en dubbelsinnige behandeling van wit mense wat rassisties optree en swart mense wat hulself skuldig maak aan rassehaat en haatspraak, help ook nie veel om ons “wat-van?”-siekte te genees nie.

“Is dit die kollektiewe trauma van wit rassisme wat ons irrasioneel dwing om laer te trek, selfs al help en beskerm ons optrede dié wat daarop uit is om te vernietig en te verniel?” vra Zibi in 'n poging om swart mense se irrasionele optrede om korrupte swart politici te verdedig te probeer verstaan.

Ek kan Zibi se vraag omswaai, en dit van toepassing op wit mense maak. “Is dit wit mense se gemeenskaplike satheid vir swartsmeerdery wat hulle irrasioneel dwing om laer te trek, selfs al help en beskerm ons optrede dié wat daarop uit is om te verneder en te verdeel?”

En ek glo ’n groot deel van wit mense se “wat-as?”-siekte kan juis toegeskryf word daaraan dat ons as rassiste uitgekryt word wanneer ons dit durf waag om die bekwaamheid van oudministers soos Bathabile Dlamini en Malusi Gigaba te bevraagteken.

Al die dermuitrygery en besinning oor identiteitspolitiek was egter nie verniet vir joernaliste en rubriekskrywers nie. Dis altyd goed vir ons om te besin oor ons eie vooroordele, of ons nou oor die EFF of AfriForum skryf.

Kyk wat het met Mariette Venter, waarnemende finansiële hoof van die Capricorn-distriksmunisipaliteit, gebeur toe sy die munisipaliteit se beleggings by VBS Mutual Bank bevraagteken het.

Toe sy beswaar gemaak het teen ’n onwettige belegging van R60 miljoen by VBS is sy onregmatig uit haar pos geskors en gebrandmerk as ’n rassis wat nie staatsgeld in ’n swart bank wou belê nie.

Wanneer ’n wit joernalis ’n meningstuk wil skryf wat ’n swart persoon kritiseer, moet jy eers deur ’n deeglike interne proses gaan waar jy diep oor jou wit bevoorregting, jou vooroordele teenoor die uitbeelding van swart welstand, swart uitmuntendheid en ander turksvye van identiteitspolitiek besin.

Kyk maar na die joernalis Marianne Thamm van Daily Maverick se dekking oor die EFF se voorliefde vir duur drank en H&M-klere. Sy moes dit duidelik maak sy is nie besig om swart welstand te bevraagteken nie, of dat sy ’n bitterbek-tannie is wat swart professionele beroepslui nie ’n bietjie pret gun nie. Sy moes deeglik motiveer oor hoe belangrik die soort beriggewing is wat staatsamptenare verantwoordelik hou vir hoe hulle belastingbetalers se geld bestee.

En steeds is sy as ’n rassis en vrouehater gebrandmerk.

Al die dermuitrygery en besinning oor identiteitspolitiek was egter nie verniet vir joernaliste en rubriekskrywers nie. Dis altyd goed vir ons om te besin oor ons eie vooroordele, of ons nou oor die EFF of AfriForum skryf.

Wanneer staatsgeld egter wanbestee word, bemagtigingsprojekte vir arm mense gebruik word as fronte vir geldwassery en ’n hele string identiteitspolitiek-argumente gebruik word om liedjies te regverdig wat mense aanmoedig om wit mense te vermoor, is die etiek daaragter gewoonlik swart en wit.

Dis juis hier waar joernaliste op ons eie interne verklikkers moet staatmaak wanneer vergrype en korrupsie met linte en blinkers verfraai word en as “radikale ekonomiese transformasie” en “swart bemagtiging” voorgehou word.

Kollektiewe trauma

Ek het egter ook al die “wat-van?”-kaart gespeel, veral op geleenthede wanneer daardie een oom te diep in die bottel kyk en kla oor “hulle wat nie kan regeer nie en net weet hoe om te steel”.

Of die bitterbek-tannie wie se mond pruil wanneer die swart mense by die buurtafel se kinders ’n bietjie luidrugtig raak. “Jy kan mos nie die bos uit hulle haal nie . . .”

Dan begin dit.

“Wat van Markus Jooste?”

“Wat van Carl Niehaus?”

“Wat van die Watsons en Bosasa?”

“Wat van jou stoute telge?”

Of wat van die apartheidshuurmoordenaar Ferdi Barnard se Burgerlike Samewerkingsburo (SSB) wat staatsgeld gebruik het om bordele onder die dekmantel van staatsveiligheid te bedryf ? Hoe verskil dit van Arthur Fraser wat glo ’n skrikbewind met sy SSE gevoer het en na bewering R1 miljard van Suid-Afrika se belastinggeld verkwis het om namens oudpres. Jacob Zuma te spioeneer en hom aan die bewind te hou?

Songezo Zibi
Songezo Zibi: "Is dit die kollektiewe trauma van wit rassisme wat ons irrasioneel dwing om laer te trek, selfs al help en beskerm ons optrede dié wat daarop uit is om te vernietig en te verniel?"

Wanneer Zibi die kollektiewe trauma van wit rassisme as rede voorhou vir swart mense om laer te trek rondom die plunderaars, selfs al is dit tot hul eie nadeel, het ek ook begrip, en ek is nie eens swart nie.

Ek dra nie swart mense se trauma wie se voorvaders soos losgoed geruil en verkoop is nie. Ek is nog nooit vertel dat ek dom, agterlik en lelik is, net oor die hoeveelheid melanien in my vel nie.

As daai oom en tannie se aanmerkings my kwaad maak, hoeveel te meer moet swart mense dit nie ervaar nie?

Dit beteken egter nie dat ek hierdie laertrek-mentaliteit goedpraat of dat ek hier probeer mea culpa vir die sondes van my “grondgrypende voorvaders” nie. Ek maak ook nie verskoning vir diegene wat die Sparrows en Hofmeyrs van Suid-Afrika se dade probeer regverdig nie.

Ek probeer net om ’n beter begrip te kry van wat in die mense se koppe aangaan (amper soos ’n forensiese kriminoloog wat misdadigers bestudeer).

Jou eie vensters met klippe gooi

Mashudu Tshifularo
Prof. Mashudu Tshifularo is die eerste persoon ter wêreld wat 'n 3D-gedrukte middeloorbeenoorplanting gedoen het. Foto: Lisa Hnatowicz

Wanneer wit mense met ons “wat-van”-redenasies laertrek rondom mense soos Hofmeyr, Sparrow en Catzavelos en hul optrede probeer regverdig, gee ons as wit mense ons goedkeuring vir rassisme en rassistiese optrede. Ons skep veilige ruimtes waar denke soos dat swart mense die argitekte van apartheid was of dat jou vakansie saliger is sonder enige swart mense op die strand, geduld word en selfs gedy. Wanneer ons niks sê oor wit mense se rassistiese optrede nie en ons stilswye dit goedkeur, is ons nes die swart mense wat niks gesê het oor die staatskapers nie en so ’n omgewing geskep het waarin dit kon seëvier.

Op die ou einde het swart mense ook net hul eie vensters stukkend gegooi deur rasseretoriek en -redenasies te gebruik om mense soos Zuma, Dudu Myeni en Ace Magashule in magsposisies te plaas en instansies soos VBS se wandade en bestuur te regverdig.

As jy regtig glo dat wit mense slimmer en meer bekwaam is as swart mense, plaas jy jou vertroue in ’n klein groepie wat minder as 10% van Suid-Afrika se bevolking uitmaak.

Hulle het hulself aandadig gemaak aan die skadelike stereotipering dat swart mense skelm, onbekwaam en korrup is.

Wanneer ons rassisme verduur, gee ons ook skietgoed aan diegene wat heel eerste die rassekaart sal speel wanneer ons hul korrupte dade bevraagteken. So hou ons die skadelike stereotipe dat swart mense onbekwaam is aan die lewe. Maar ons sny ook ons eie kele af; in die laaste 2011-sensus is sowat 4,6 miljoen wit mense getel, teenoor die 41 miljoen swart mense, 4,6 miljoen bruin mense en 1,3 miljoen Indiërs of Asiatiese mense.

As jy regtig glo dat wit mense slimmer en meer bekwaam is as swart mense, plaas jy jou vertroue in ’n klein groepie wat minder as 10% van Suid-Afrika se bevolking uitmaak, jy beperk jou toegang tot ’n legioen ander mense met indrukwekkende vaardighede en kwalifikasies. Dan kan jy nie reken op mense soos dr. J.O. Opolot, my pa se Nigeriese longspesialis wat as ’n wêreldkenner op sy gebied beskou word nie. Wanneer jou gehoor begin sukkel, moet asseblief nie gaan aanklop by die swart oor-, neus- en keelspesialis prof. Mashudu Tshifularo nie. Tshifularo moes op eie koste die wêreld se eerste oorplanting van 3D-gedrukte middeloorbeentjies doen, omdat daar op akademiese gebied steeds vooroordele teenoor swart medici se bekwaamheid bestaan en hy nie finansiering vir sy navorsing kon kry nie.

Maar wat van hulle?

Laastens, wanneer Suid-Afrikaanse burgers – wit en swart – hierdie wat-van-speletjie speel, gebruik hulle voorbeelde van middelmatigheid, beginselloosheid en verdorwenheid om hul eie mense te verdedig. Is dit regtig die standaard waaraan ons ons eie mense wil meet? Wanneer jy Hofmeyr, Sparrow en Catzavelos vergelyk met Mngxitama, Mazibuko en Malema bewys dit juis dat almal onbekwame dwepers is wat onmin en verdeeldheid saai, wat maatskaplike kohesie tussen Suid-Afrikaners van verskillende rasse dwarsboom.

Carla Lewis

Wanneer swart mense vra “wat van die apartheidsregering se korrupsie en misdade?” wil ek sê: “Moenie dieselfde foute maak wat my ouers en voorouers gemaak het en aanhou stem vir ’n regering wat steeds nie basiese dienste en regte aan ’n groot aantal van sy burgers bied nie.”

Wanneer ek “wat-van?”-speletjies oor Fraser en Barnard speel, gebruik ek eintlik die laagste gemeenskaplike noemer, ’n apartheidshuurmoordenaar en ’n Zuma-spioen om die standaard, die maatstaf, te stel.

Dit doen niemand – wit of swart – ’n guns nie, inteendeel, dit bevorder net die skadelike stereotipes wat ons oor mekaar koester.

Wanneer ons aandring daarop om hierdie “wat-van?”-speletjie te speel moet ons fokus op die helde, van wie daar in elk geval meer as kwaksalwers en korruptes is.

Wat van boesemvriende Evert du Preez en Mokoni Chaka, wat gehelp het om kinders uit ’n brandende ontspoorde treinwa te red?

Wat van Tshifularo en die 3D-ontwerper Philip van der Walt, wat saamgewerk het aan die eerste oorplanting van die 3D-gedrukte middeloorbeentjie?

Wat van die groep van 24 kleinboere in Limpopo se Vhembe-distrik wat hulle uit versukkeldheid geboer het en nou met Global Gapp-akkreditasie spog? Met wie private organisasies soos Subtrop en die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging kragte saamgesnoer het en die boere gehelp het met landboutegniese adviesdienste, vaardigheidsontwikkeling en mentorskap.

Wat van hulle?

*Carla Lewis is 'n senior verslaggewer by Beeld. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.