Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woelinge nie tot die NGK beperk
Johannes Froneman

Die moontlike skeuring in die NG Kerk kry groot opskrifte in die koerante, tot irritasie van diegene wat meen die kerk in die algemeen en die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die besonder is uitgedien en verdien nie soveel aandag nie.

Maar vir lidmate van die NGK, wat steeds verreweg die grootste kerkverband onder wit mense is, is dit tog van belang.

Nie so belangrik soos ’n paar dekades gelede nie, maar tog.

Intussen het talle lidmate die laaste dekades stilweg uit die kerk verdwyn, of ervaar hul lidmaatskap op ’n heel informele manier. Hulle besoek ander kerke en beleef hul geloof gemaklik saam met lidmate uit ander kerke.

Op plaaslike vlak doen gemeentes al lankal hul eie ding. Die NGK is inderdaad waarna die Engelse in ruimer sin verwys as ’n “broad church”.

Waarom dan dreig met skeuring? Omdat die sluimerende verskille oor die interpretasie van die Bybel deur die gay-kwessie na die oppervlak gedruk is.

Fundamentaliste, dus mense wat die Bybel erg letterlik opneem, sê lankal die NG Kerk is die spoor byster.

Fundamentaliste, dus mense wat die Bybel erg letterlik opneem, sê lankal die NG Kerk is die spoor byster. Hoe dan anders as die Bybel sê vroue moet in die gemeente swyg en tog word hulle toegelaat om leraars te word?

Verskille oor apartheid en wie lidmate van die kerk mag word, het vroeër gelei tot die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk. Sodoende het van die konserwatiefste leraars en lidmate reeds in die 1980’s met die NGK gebreek.

Die oorblywende erg konserwatiewe lidmate het die veranderinge van die laaste jare verduur of dit het hulle bloot verbygegaan, omdat hulle in gemeentes is waar alles op die tradisionele manier gedoen word.

Die 2015-besluit ten gunste van gays, die herroeping van die besluit deur ’n spesiale algemene sinode en die hofuitspraak ten gunste van die 2015-besluit en verlede jaar se sinodebesluit wat ruimte gee vir selfdegeslagverhoudings, het sake egter tot ’n punt gedryf.

Neels Jackson het in ’n artikel in Rapport die kerkregtelike kwessies goed opgesom en ook gewys op die ou hofuitsprake wat, sou dit gehandhaaf word, beteken dat die meerderheid van ‘n gemeente nie sommer kan wegbreek sonder om die kerkgebou en alle ander bates aan die klein minderheid af te staan nie. Dit is nogal ’n kwessie as jy ’n groot ouditorium besit.

Maar dit gaan uiteindelik nie oor bates nie, wel oor mense se aandrang om dinge op hul eie manier te doen in die lig wat hulle uit die Skrif kry.

Die mag van dominante kerkleiers is lankal gebreek en gemeentes doen hul eie ding. Hulle het ook nie meer die naambord nodig waarop “NG Kerk” staan nie; trouens, sommige haal dit juis af.

Ook in ander kerkverbande woel dit. Ook die Nederduitsch Hervormde Kerk het ’n paar jaar gelede weens verskille oor apartheid ’n breuk beleef, maar die kwessie sleep voort. Dit is ingewikkeld.

Die kleinste van die tradisionele Afrikaanse susterkerke, die Gereformeerde Kerke (let wel die meervoud), skeur nie, maar verloor lidmate. Kyk na hul getalle. Gewese Doppers loop gewoon oor na ander kerke, dikwels nuwe kerke met ’n heel ander aanbiddingstyl.

Hierdie vloeibaarheid is ’n gegewe en dus allermins beperk tot die NGK. Dit manifesteer op verskillende maniere. Soos dat ’n Gereformeerde gemeente in die Dopperhartland, Potchefstroom, saamgesmelt het met ’n ander en sy kerkgebou naby die kampus aan ’n nuwe, charismatiese kerk verkoop het.

Dit was dalk nie op sigself ’n nuusberig werd nie, maar is simbolies van hoe dit op kerklike terrein gaan.

  • En die hemele val nie in nie.
Meer oor:  Johannes Froneman  |  Versoening  |  Ngk  |  Sinode
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.