Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wonde te diep vir kompleksiteit

Voor die hoofgebou van die universiteit waar ek werk, staan ’n standbeeld van pres. M.T. Steyn. Sy aansig word tans verskans, want die universiteit is besig met ’n openbaredeelnameproses oor sy toekoms.

Dit volg op die aandrang van studente-aktiviste wat die standbeeld as ’n koloniale simbool beskou, en dit daarom verwyder wil hê.

Die universiteit dring op sy beurt daarop aan om die proses ordelik te laat verloop. Daar word gehoor gegee aan erfeniswetgewing, en belanghebbendes word die geleentheid gebied om hul sê te sê.

Persoonlik twyfel ek of die standbeeld staande gaan bly. Op die kampus sien ’n mens dit duidelik: Die universiteit is lank nie meer wit en Afrikaans nie, en die Steyn-beeld verteenwoordig nie meer die gemeenskap wat hy bedien nie. Die geskiedenis het gedraai.

Standbeelde word opgerig om ’n individu te vier, en vir die Vrystaat se wit Afrikaanse gemeenskap is daar veel te vier wanneer dit by Steyn kom. Terwyl Paul Kruger se Transvaal gewankel het onder korrupsie, nepotisme en ’n onbevoegde staatsdiens, is Steyn se Vrystaat geloof as ’n “modelrepubliek”. Toe die Transvalers binne die eerste jaar van die Anglo-Boereoorlog reeds wou oorgee, het Steyn en sy Vrystaters geweier. Kruger moes landuit vlug, maar Steyn het tot die bitter einde saam met sy manskappe in die veld gebly, selfs al het dit sy gesondheid geknak.

Steyn is daarom ’n simbool van dapperheid en eerbaarheid.

Steyn is daarom ’n simbool van dapperheid en eerbaarheid.

Dit is egter nie wat Steyn vir ’n nuwe geslag, meestal swart studente, verteenwoordig nie. Steyn se Vrystaat het sy swart bewoners uitgesluit, en ’n vernederende rasse-hiërargie gehandhaaf. Dit is dus begryplik dat dit vele dwars in die krop steek om hom te vier.

Die vraag wat gestel kan word, is of dit moontlik is om ’n standbeeld daar te hou en dan ’n meer genuanseerde begrip van die gegewe persoon se veelkantigheid te handhaaf, sodat die beeld nie noodwendig ’n viering is nie, maar eerder ’n weerspieëling van ’n komplekse geskiedenis.

Dit sou vir dié wat die beeld wil behou ideaal wees, maar as ’n mens kyk na die afgelope drie jaar se beeldebestorming, is dit te betwyfel. Wanneer dit by standbeelde kom, is daar min plek vir nuanse. Dieselfde kan gesê word van ons openbare diskoers.

Dit is egter nie die eerste keer in ons geskiedenis wat een gemeenskap aandring om die openbare ruimte te herskep in weerwil van die ander nie.

Dit is egter nie die eerste keer in ons geskiedenis wat een gemeenskap aandring om die openbare ruimte te herskep in weerwil van die ander nie.

Afrikaner-nasionaliste het telkens daarop aangedring om Engelse simbole met hul eie te vervang. Ek dink byvoorbeeld aan die 1938-eeufees. Vele dorpe en stede het vandag strate wat in dié tyd na die Voortrekkers hernoem is, en die proses het nie noodwendig glad verloop nie – ook nie in Bloemfontein nie.

In Pretoria was daar ’n herrie toe Roberts Heights tot “Voortrekkerhoogte” herdoop is (vandag heet dit Thaba Tshwane). Die Union Jack moes reeds in 1928 plek maak vir die oranje-blanje- blou, en “God Save the King” is in 1957 deur “Die Stem” vervang – nog vóór republiekwording.

Net soos ’n vlag, ’n lied of ’n pleknaam, is ’n standbeeld ’n simbool. Dit gaan nie soseer oor die kompleksiteit van die persoon wat dit uitbeeld nie, maar oor dit wat die persoon op daardie gegewe tydstip verteenwoordig.

Ons leef tans in ’n omgewing waar simbole met mekaar bots.

Dit is vir my hartseer.

Ek sou graag wou sien dat daar ’n verskeidenheid van simbole moes wees, en dat uiteenlopende verhale saamgeweef word. Maar die ruimte bestaan nie daarvoor nie. Daarvoor lê ons samelewing se wonde te diep.

Lindie Koorts is ’n historikus verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.