Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Woordewisseling
Wondersoete slaap ontwyk die nagbraker

Skryf iemand op Twitter: In Chinees is daar ’n woord wat volgens Google se vertaling beteken die “wraak om laat op te bly”.

Sal ons sê “wakkerblywraak”? Dié verskynsel dat mense wat nie beheer het oor hoe hul lewe bedags verloop nie, saans weier om vroeg te gaan slaap, want eers in die middernagtelike ure herwin hulle hul gevoel van vryheid.

Te oordeel na die kommentaar lyk dit of baie mense dié gevoel verstaan. Wanneer huis, pondok, werkhok, sithok, slaaphok word en peste en ellende soos ’n wolf aan die deur kom snuffel, is wakker bly dalk ’n natuurlike reaksie. Trouens, in Middelnederlands het “wacker” nie bloot “nieslapend” beteken nie, maar “waaksaam, oplettend”, soos iemand wat wag hou.

Jana Luther

Wie in die holste van die nag, in die nanag, nog wakker is, hetsy vir werk of plesier, noem die Woordeboek van die Afrikaanse Taal ’n “nagbraker”. ’n Nagbraker braak, ploeg, as’t ware die nag om. “Braak” het ook ’n ander betekenis, ja, maar hier gaan dit oor naguile.

Nagvoëls en naglopers aan wie die WAT Ouma se waarskuwings herhaal: Saans gousblom, smôrens molshoop. Saans kaatjie van die baan, soggens dooi bobbejaan. Grootoog snags, bedroë bedags. Want wie slaap nie ag nie, raak die tweede betekenis van “wakker” – “lewendig, energiek, entoesiasties” – kwyt. Wanneer ander, so wakker soos ’n haas, hul dagtaak-dagwaak begin, sit die nagwolf met slaapoë en ’n slaapbevange brein knikkop deur die mis in sy slaapgewaad, want te min slaap maak die gees dof.

’n Slaapkop deug nie vir fyn dink, waarneem, onderskei, oordeel, verstaan nie. Navorsers sê boonop: Genoeg slaap ondersteun die immuunstelsel, wat die risiko van infeksie verminder en die uitkoms verbeter vir mense wat ’n virus moet beveg. Andersom: Te min slaap verswak jou verdedigingstelsel en maak jou kwesbaar.

Of jy nou doesel, dommel, dut, sluimer, saam met die hoenders inkruip, ’n uiltjie knip, ’n middagslapie vang; die WAT bied ’n ruim keuse. Slaap is medisyne. Drink ’n slaapdop, luister na ’n slaapliedjie, ruil jou smoelkappie vir ’n slaapmasker, sit jou slaapmus op, drink ’n slaappil as jy moet, want slaapdeprivasie lei tot slaapskuld; daardie toestand waar ’n mens nooit meer uitgerus en verkwik voel nie, maar heeldag hipnagogies, in ’n toestand tussen wakker wees en slaap, deurbring.

“Nou vir lekker slaap en môre gesond opstaan,” het ’n Nederlandse TV-aanbieder altyd gesê, soos Joodse ma’s, eens, wanneer hulle saans hul kinders in die bed sit.

Uit Nederlands kry ons ook die uitdrukking: Snags moet jy slaap soos ’n roos. Soos ’n kind met ’n blos op die wange.

Vandaar Paul van Ostaijen se onvergeetlike “Berceuse nr. 2”, in Vlaams: “Slaap als een reus / Slaap als een roos / slaap als een reus van een roos / reuzeke / rozeke / zoetekoeksdozeke / doe de deur dicht van de doos / Ik slaap.”

Sê dit ’n bietjie in Afrikaans.

  • Luther werk mee aan die WAT.
Meer oor:  Rubriek  |  Slaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.